{ARGIEF}

Sondag 28 April 2013 ~ Vyfde Sondag van Paaastyd ~ Openbaring 21:1-6 ~ Jerusalem vir Ubuntu!

Wat is “eenheid” in Zoeloe? vra ek die ouderling nou die dag. Dis ubunye, sê hy. En hoe is dit nou verskillend van ubuntu? vra ek. As allemaal hulle ubuntu saam in die kraal jaag, dan is daar ubunye, sê hy.

Ons lees in Openbaring 21:1-6 hoe Johannes sy kragtigste en mees skouspelagtige visioen beskryf. Die goue stad, Jerusalem, daal uit die hemel neer en word die nuwe aarde.

En nou het ons die gewoonte om aan hierdie stad, hierdie nuwe Jerusalem, te dink as iets gouds en groots, met skatte en ‘n goddelike lig van heerlikheid wat alles omstraal. ‘n Mens is amper geneig om aan die nuwe Jerusalem te dink as ‘n plek sonder mense.

Maar ek dink die nuwe Jerusalem is eintlik eerder ‘n baie menslike plek. ‘n Medemenslike plek. Dit gaan ‘n plek wees waar ‘n mens juis ten volle mens kan wees, omdat jou medemense, soos jy, goeie waardes gaan hê. Dis nou waardes soos eenheid, vrede, hoop en … lewe! Dis waardes wat mense inderdaad sal kan laat saamwoon soos mense!

Die hoofkenmerk van die nuwe Jerusalem gaan natuurlik wees dat dit radikaal getransformeerd gaan wees. Radikaal hervormd. Radikaal herskep. Radikaal omskep. Radikaal nuut.

Maar wat wil die nuwe Jerusalem omskep? Wat was fout met die oue, en gaan reg wees met die nuwe?

Die ou goed wat die nuwe Jerusalem gaan regstel, is die dinge waarteen die profete die volk so lank gemaan het. Vergrype (oftewel sonde); geweld teen mekaar; swak leierskap; en ongeregtigheid. En dan was daar natuurlik ook die vergrype, die geweld, en die ongeregtigheid van die Romeinse regering teenoor die Christene van daardie tyd.

Dit alles gaan verander, sê Openbaring 21:1-6.

Kom ons kyk na die volgende vier dinge wat gaan verander:

  • Die nuwe Jerusalem is ‘n heilige stad (vers 2). Nou hou ons nie eintlik vandag meer baie van die woord “heilig” nie, want “heilige” mense, veral hoogheiliges, gee ons geloof partykeer ‘n slegte naam omdat hulle nie die werklike lewe in die gesig wil kyk nie, en hulle soos mense uit die baie ou tyd wil gedra wat regtig ‘n bietjie belaglik in ons dae is. Maar “heilig” hier beteken gewoon dat die nuwe Jerusalem sonder die vergrype van die vorige bedeling sal wees. Sonder die “sonde” wat mense mekaar aandoen met korrupsie, skinder, steel, verbale geweld, en nouja, al die ander sondes wat ons maar te goed ken. Hier is die verwysing na die dinge waaraan mense hulle vergryp ten koste van ander mense, en die samelewing. Die nuwe Jerusalem sal heilig daarvan wees.
  • In die nuwe Jerusalem sal daar goeie leierskap wees. Want God sal onder die mense woon (vers 3). God sal nie daarbo, daarbuite, daar ver woon nie. Hy sal onder mense woon. Daar sal ‘n noue verhouding tussen God en mens wees. Hy sal leiding en leierskap gee. En mense sal saam met Hom stap. Hulle sal deel in Sy heerlikheid.
  • Daar sal gevolglik nie meer geweld van mens teenoor mens wees nie (vers 4). God sal ons trane afdroog. Nouja, toe. Dit wil gedoen wees. ‘n Leier wat die mense se trane afdroog. Hoe het ons dit nie in ons tye nodig nie!
  • In die plek daarvan sal daar LEWE wees. God, ons leier, sal aan ELKEEN te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe. Verniet. Nie net vir die rykes en die magtiges nie. Maar vir hulle ook. Nie net vir die verskoptes en verstotenes, die mishandeldes en mense met “gebreke” nie. Maar beslis vir hulle ook.

Ja, “lewe” sal beteken geen diskriminasie, geen ongeregtigheid, geen onbehoorlike mag nie. Wie hierdie waardes aanhang, sal lewe.

In Johannes se tyd het “lewe” beteken om “mag” te hê. Ander se lewens was niks werd nie. Hulle lewens was, in die oë van die magshebbers, ook nie die moeite werd nie. Christene is gemartel, aan die brand gesteek en gekruisig.

Hierteenoor sal die nuwe Jerusalem ‘n kontra-kultuur vestig. Dit sal ‘n plek wees waar God woon. Dit sal ‘n “heilige” plek wees, waar mense hulleself nie vergryp aan mekaar en aan besittings en mag nie. Dit sal ‘n plek wees waar almal kan deel in die “heerlikheid”, in die goeie waardes wat van God uitstraal. Dis ‘n plek waar almal sal kan lewe in hoop, in volhoubare hoop, hoop wat nie ‘n “pie in the sky” is en mense mislei nie.

Ons is nou in die 6de Sondag na Paasfees. Met Pase het hierdie nuwe bedeling aangebreek. Met Christus se opstanding uit die dood is ‘n kontra-kultuur hier gevestig. Die tyd van die nuwe Jerusalem het aangebreek. God woon onder ons. En ons moet werk om hierdie nuwe Jerusalem al hoe meer en meer hier op aarde te vestig.

Radikale transformasie, weg van vergrype af. Goeie leierskap. Volhoubare hoop. En eenheid. Ubunye, die saamwees van medemenslikheid.

Dis die nuwe Jerusalem waarnatoe ons nou moet leef.

Christina Landman

Preekriglyn in Argief: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/04/Openbaring%2021_1-6.doc

Seisoen van Luister PowerPoint: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/730_8b23c2c36ac49da9bff3dd03102789c4