{ARGIEF}

15 April 2010 – Vierde Sondag in Paastyd: Hand 9:36-43

Wat’s nuus? Die koerante sal antwoord: Malema, moord en misdaad…

Aktuele kommentaar moet vir seker kennis neem wat op die markplein gebeur en die Woord oor die wêreld iets laat sê. In Athene is mense wat niks te sê gehad het op die politieke forum nie idiotes genoem. Laat mens dink.

“Wat’s nuus?” is egter ʼn baie ongedefinieerde vraag. Nuus is nuus vir wie? Aktuele kommentaar handel oor sake van die dag … maar wie se sake van die dag is op aktuele kommentaar se agenda? Watter waardes bepaal die nuus?

Die weduwees van Joppe se nuus en se stories aan Petrus, voor en na Tabita se sterwe en opstanding was ongelooflike nuus. “Uit die dood opgewek” sal egter vir enige gehoor groot nuus wees en om ingeligte kommentaar vra. Mense word uit die dood opgewek, selfs gemeenskappe en gemeentes kan uit die dood opgewek word. Jesus is in die besigheid om wat dood is lewend te maak. Jesus is in die opstandingsbesigheid. Tabita is maar een voorbeeld.

Miskien moet ons voorbeelde en toepassings in eredienste die kamerahoek van wat nuus is, soms verstel. Wat is nuus vir die gemarginaliseerde, vir die magteloses, vir die wat dood is? Mens kan nogal lewend dood wees. Veral gemeentes is goed daarin om lewend dood te wees.

Jesus is in die opstandingsbesigheid, in die lewend maak besigheid. Vra Tabita, vra Joppe. En kyk bietjie wyer. Lukas se verhaal wat hy in Handelinge voortsit is eintlik ongelooflik. Lees bietjie die navorsingsresultate van Rodney Stark se navorsingspan in “The Rise of Christianity” (1997. San Francisco: Harper Collins). Die geskatte getal volgelinge (heiliges, noem ons teks hulle) was toe sowat 7000. Teen die einde van die Vierde Eeu is 33 van die 56 miljoen mense in die Romeinse Ryk Christene – ondanks vervolging (waarskynlik danksy vervolging?).  Jesus is in die opstandingsbesigheid, in die lewend maak besigheid. Vra Tabita, vra Joppe. Lukas se storie vertel hoe dit werk.

Jesus is meestal onsigbaar al het hy opgestaan. Die Tabitas maak Hom sigbaar, voor en na hulle dood. Die “heiliges” van Joppe sou nie sommer vir dit of vir dat vir Petrus laat kom het nie. Wat is Tabita se geheim? Die eksegese en voorstel (Preekstudie-bundel) gee die antwoord.

Miskien sal dit goed wees om ʼn oog te ontwikkel vir die Tabitas in u omgewing en miskien kan ons hulle stories vertel om die teks aktueel te demonstreer. Gemeentes sal lewend word as hulle oor die kultuurgrense gaan en met leerlooiers assosieer en die Tabitas se diens aan die magteloses as waardevol beskou. Moeder Teresa van Kalkutta se storie is immers ʼn Tabita storie. Dit gee hoop vir die wêreld. Dis daar waar die opgestane Jesus sigbaar word en mense weet Hy leef. Dis daar waar die nuwe lewe begin … by die ander se nood. Hoe is dood en lewe nie paradoksaal gekoppel aan die ander se nood nie!!

Tong-in-die-kies: “Hoe word jy lewend?” Antwoord: “Gaan dood”. As jy nie die grappie fokus nie, oorweeg katkisasie. Nog beter: gaan help die magteloses en kyk wat jy alles ontdek!

[Google gerus “Mother Terese” of lees Wikipedia: http://en.wikipedia.org/wiki/Mother_Teresa ].

Jurgens Hendriks

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere riglyne in Preekargief