{ARGIEF}

Tweede Sondag van Lydenstyd: 28 Februarie 20101 ~ Psalm 27:  ‘n Volwasse geloof te midde van gebrokenheid

Iemand stuur hierdie week vir my ‘n sms met die woorde:  “Geseënde Lydenstyd!”  Ek sit toe ‘n ruk en wonder wat dit beteken.  Hoe het ‘n mens nou ‘n geseënde Lydenstyd?  Lydenstyd is tog ‘n tyd waarin ons nadink oor Jesus se verskriklike lyding.  Dis ‘n tyd wanneer ons inkyk na ons eie sonde.  Dis ‘n tyd wat ons droefheid het oor die gebrokenheid van die wêreld.

Nou wat is dan so geseënd daaraan?

En dis toe dat ek Psalm 27 lees.  Dis die Psalm wat wêreldoor op die tweede Lydensondag gelees word.  Hierdie jaar is tweede Lydensondag die 28ste Februarie. 

Maar terug na Psalm 27 en die vraag of Lydenstyd geseënd kan wees.
Sommer met die intrapslag lees ‘n mens hoe die Psalmdigter God as sy Lig en sy Redder erken.  En met God as jou Lig en jou Redder, vir wie hoef jy nou bang te wees?  vra die Psalmdigter.

Vireers voel dit vir jou die skrywer van Psalm 27 is in denial.  Dit kan tog nie so maklik wees om jou probleme te oorkom nie.  Noem God net jou Lig en jou Redder en jy hoef vir niks bang te wees nie.  Klink soos iets wat uit ‘n vlak pienk boekie kom.  Soos iets wat ‘n herlewingsprediker vanaf ‘n verhoog skree en sy gehoor oor en oor laat sê – tot hulle dit glo.  Tot die volgende dag wanneer die werklikheid hulle weer tussen die oë tref.
Maar lees jy die Psalm verder, sien jy dat die Psalmdigter nie so naïef is nie.  Hy erken die werklikhede van sy omstandighede.  En dis nie sommer klein goedjies waarbinne hy moet oorleef nie.  Hy moet oorleef met mense wat hom wil doodmaak, met ‘n leër wat fisies teenoor hom stelling inneem.

Psalm 27 getuig inderdaad van ‘n volwasse geloof te midde van gebrokenheid.  Van iemand wat gegroei het in sy geloof – in so ‘n mate dat hy te midde van sy eie lyding en vrees geseënd kan wees.

Kom ons stap nou saam deur Psalm 27.  Ek dink daar is ten minste 7 insigte in hierdie psalm – van hoe iemand seën ervaar terwyl hy ook ly en vrees – wat ons kan begelei deur die Lydenstyd.

Die eerste ding het ons eintlik al genoem:  die Psalmdigter het ‘n realistiese vertroue op God.  Lees verse 1 tot 3.  Die lewe is nie ‘n piekniek nie.  Daar is altyd aanvalle op ‘n mens.  Maar daar is iets wat jou help om die aanvalle te kan hanteer.  Daar is iets wat jou help om staande te bly.  En dit is om te vertrou dat God jou daarteen sterk sal maak.  Om die waarheid te sê, die Psalmdigter gebruik juis die aanvalle teen hom as geleenthede om nog sterker te word.  Dis hoe sy lyding vir hom tot seën word.

Tweedens het die Psalmdigter ‘n baie goeie en gesonde verhouding met God.  Lees vers 4.  Die Psalmdigter se verhouding met God word gekenmerk deur goedheid en refleksie.  Hy ervaar God as goed, en dink daaroor na, veral wanneer hy swaarkry.  So word sy lyding vir hom tot seën – want dit laat hom naby aan God voel en dit laat hom oor God nadink.

Derdens besef die Psalmdigter hy het waarde in God se oë.  God beskou hom waardig genoeg om aan hom ‘n tuiste te bied.  God gee hom waarde deur hom naby aan Hom toe te laat.  Die Psalmdigter het al in vers 4 van God se huis en sy tempel gepraat, en van die voorreg om daar te mag “woon”.  Nou in vers 5 en 6 gee die Psalmdigter nog meer name aan God se woning.  Hy verwys hier na die tempel waar ‘n mens God in die besonder ontmoet.  Maar God is nie net in Sy tempel nie.  God sit nie vasgehok tussen mure nie.  God se woning is orals – orals waar Hy iemand naby hom toelaat.  Wanneer God jou naby Hom toelaat, laat Hy jou hoog op ‘n rots staan (vers 5), ver bo die mure van die tempel.  Soveel waarde heg God aan die mens.  Dis hoe die Psalmdigter seën ervaar, al is hy bang en al ly hy:  God gee aan jou waarde en laat jou uitstyg bo jou probleme en gevange situasies.

Vier.  Die Psalmis doen nou ook iets van sy kant af om sy lyding af te skud.  Hy sit nie en wag net vir God om wonderwerke op hom te laat reën nie.  Hy loof God.  Hy betoon eer aan God.  Hy sing ‘n lied.  So gee hy uiting aan die seën wat hy tydens sy angs en lyding ervaar.
Vyf.  Die Psalmis doen nou nog ‘n ding.  Hy aanvaar God se sorg.  Lees verse 7 tot 10.  Die Psalmis dring by God aan om Homself nie vir hom te verberg nie.  Hy dring daarop aan dat God nie vir hom kwaad moet bly as hy dalk iets verkeerd gedoen het nie.  Hy aanvaar God se sorg – en ervaar so seën in ‘n tyd van lyding.

Ses.  Die Psalmis soek nog ‘n voet om op te staan, iets waarop hy hom kan beroep wanneer hy swaarkry.  Hy wil doen wat reg is.  Hy wil kan onderskei tussen goed en kwaad.  “Lei my op ‘n gelyk pad, Here”, vra hy.  Hou my staande, selfs wanneer my vyande valse getuienis teen my lewer.  Om ‘n reguit pad te loop, maak die Psalmis sterk.  Lees verse 11 en 12.  Die Psalmis ervaar seën in lyding wanneer hy weet sy kant is skoon. 

Sewe.  Die seën wat die Psalmis ervaar, is hier en nou.  Lees vers 13.  Dis ‘n vers wat nie klaarmaak nie.  Dis oop na die hede toe:  “As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie…!”  Dit help nie om nou jou pyn te sit en poets, en te hoop dat dit jou eendag iets in die sak sal bring nie.  Jy moet die seën – die goedheid – van God hier en nou ervaar.  Midde-in jou lyding moet jy dit kan raaksien en beleef.

Mag u ‘n geseënde Lydenstyd hê.  Een waarin u sal ervaar dat u God kan vertrou.  Dat Sy goedheid ‘n werklikheid is.  Dat Hy waarde aan u heg en u bo u lyding laat uitstyg.  Mag u Sy gesig sien en sy sorg aanvaar. 

Sy seën is immers reeds op u voorstoep, Sy tempel.

Christina Landman

Seisoen van Luister Powerpoint

Verdere preekgedagtes in Argief