{ARGIEF}

16 Desember 2012  ~ Derde Sondag van Epifanie

Wat om te doen terwyl ons vir Kersfees wag: Lukas 3:1-6

Die groot en slim wetenskaplike, Albert Einstein, het glo eenkeer gesê:  Waansin is om oor en oor dieselfde ding te doen en verskillende uitkomste te verwag. Of, in lekkerder Afrikaans, jy is mal as jy dink jy kan dieselfde goed oor en oor doen, en dan verwag dat iets nuuts daaruit sal kom.

Dit klink amper asof Einstein besig is om die tyd voor Kersfees te beskryf. Dis omtrent ’n tyd van waansin. Mense jaag na vakansieplekke toe, koop presente wat hulle nie kan bekostig nie,  hou ewigdurende partytjies, drink te veel en eet massas ongesonde kos. En, soos elke jaar, verwag hulle dat dit hulle gelukkig moet maak. Verlede jaar het dit nie gewerk nie. En die jaar voor dit ook nie. Maar hierdie jaar, dink hulle, gaan al die geroesmoes skielike, ewigdurende geluk bring.

Lukas 3 vertel ons wat gebeur in die tyd voordat Jesus met sy bediening begin het. Johannes die Doper, ’n rondreisende prediker, het die mense opgeroep om hulle van hulle sondes te bekeer, en om gedoop te word. Eintlik, sê Lukas, het hy die mense kom gereed maak vir Jesus se boodskap. Johannes het die pad gelyk kom maak vir Jesus. En hy het die mense aangemoedig om hulleself reg te kry vir die Verlosser wat oppad is. Netsoos Jesaja  voorspel het, sê Lukas, en dan haal hy aan wat ons vandag as Jesaja 40:3-5 ken. In hierdie stuk word daar vier opdragte vir die mense gegee om hulle voor te berei vir die Here wat kom; en dan word daar drie beloftes gemaak van die wonderlike dinge wat sal gebeur.

Ons vier ons lewens lank al Kersfees. En altyd min of meer op dieselfde manier. En kom daar ooit iets nuuts van? Kom ons kyk nou in hierdie tyd voor Kersfees weer na die vier opdragte wat Jesaja en Lukas die mense gegee het om hulle vir die Here se koms voor te berei. En dan verlustig ons in die drie beloftes wat gemaak word. En wie weet, dalk bring hierdie Kersfees vir ons iets nuuts en wonderliks.

Tussen hakies, en net so vinnig, kan ons daarop let dat ons vier dinge kan doen, vir drie uitkomste van God se kant af. So, ons en God is saam in hierdie ding. Maar dis nie asof ons nou God se wonder in Christus moet verdien nie. Nee, ons moet onsself voorberei om ons aan God se geskenk aan ons in Christus te verwonder, te verlustig en diep betekenis in ons lewe te vind.

Die eerste ding dan wat ons moet doen in die tyd voor Christus se koms, boodskap en bediening is … “Berei die weg van die Here“ (Lukas 3:4c). Sjoe, sal julle sê, dis ’n bietjie breed gestel! Hoe moet ons die weg van die Here voorberei?

Ek sou sê ’n mens moet jou van vooraf weer aan Kersfees verwonder. Nie aan die kersboom, die geskenke en die gesellighede nie – alhoewel al dié dinge ons ook op ’n besonderse manier aan mekaar bind gedurende hierdie tyd. Ons moet ons daaraan verwonder dat Christus iets nuuts bring. In plaas van net gewoonweg aan te hou haat en skinder, kan ons ons verwonder aan liefhê en uitreik. In plaas van die gewone negatief wees en kla, kan ons ons daaraan verwonder dat Jesus hoop in ’n wêreld gebring het wat in ’n gemors was. Die wêreld is nou ook min of meer in ’n gemors. Dis hoekom ons nou nuut moet dink oor hoop, en hoe ons daarmee die pad vir Kersfees gaan oopmaak.

Die tweede ding wat ons moet doen, is ons moet vir Jesus die pad reguit maak. Nou, vervlaks, hoe doen mens dit? Ek dink dis soos om met ‘n GPS te ry en reguit op jou bestemming af te ry, want jy weet waarheen jy gaan, al ken jy nie self die pad soontoe presies nie. Ons maak dinge tussen ons en God reguit wanneer ons met gesonde waardes lewe, met reguit waardes. En ons ken hierdie waardes wat mense nog altyd op die reguit pad gehou het:  eerlikheid, jou word hou, ander respekteer, tyd hê vir ander mense, en hulle menswaardigheid respekteer, ook op kantoorpartytjies en in die druk verkeer om die Fonteine Sirkel.

Die derde ding wat gedoen moet word, is “elke dal moet opgevul word”, soos die ou vertaling sê. In ons taal vandag, sal ons  sê:  Elke slaggat moet opgevul en reggemaak word. Watter slaggate moet ons regmaak voor die pad na Kersfees vir ons ooplê dat ons Christus en sy boodskap daarop kan ontmoet?

Miskien moet ons hier kyk na die pad wat ons as gemeente saam stap. Watter gate het ingeval op die pad wat ons saam stap? Miskien het ons vergeet om te groei? Miskien het ons al ‘n ring-saak of twee teen mekaar gemaak. Miskien bring die gebrek aan geld groot spanning in die gemeente. Miskien is daar een of twee mense wat baas speel in die gemeente en die kerkraad oorheers. Miskien het ons net sommer vergeet om mekaar te geniet. Miskien is daar iets aan die dominee wat ons irriteer, of kan ons nie die orrelis uitstaan nie. Of miskien is daar soveel vernuwing in die gemeente dat daar nie meer ’n orrelis is nie. As hierdie goed slaggate geword het, moet ons die opvul en regmaak voor Kersfees.

Die vierde ding wat moet gebeur voordat ons Jesus oppad na Kersfees toe kan ontmoet, is dat “elke berg en heuwel moet wegsak“ – weer eens volgens die ou vertaling. Wat is “obstacles“ nou weer in Afrikaans? Dinge wat ons pad blokkeer. Dinge wat maak dat ons nie verby kan kom nie, dat ons nie kan vorder nie. Dis waarvoor ons hier moet uitkyk. Wat staan tussen ons en Christus, dat ons ons nie ten volle aan hom kan verwonder, en sy boodskap nie heeltemal kan verinnerlik, en dit terwyl dit Kersfees is nie? Miskien het ons net belangstelling verloor, en vergeet wat uniek en lewe-gewend aan Christus se boodskap is. En dit is tog dat ons hier op aarde ’n lewe kan lewe wat betekenis het, wat waarde het, en wat ’n toekoms het, selfs na die dood. Ja, miskien is belangeloosheid, of gewoonte of afgestomptheid die dinge wat ons pad na Jesus toe en ons pad na Kersfees toe blokkeer. Of miskien kan julle nog ander noem.

Wanneer ons nou die slaggate opgevul en die versperrings uit die pad gehaal het, kan ons die wonder van saamwees met Christus met Kersfees geniet. Die eerste ding waarna ons kan uitsien, is dat “die kromdraaie ’n reguit pad sal word“ (Lukas 3:5c). Ons sal vrede kry oor dinge wat ons angstig maak, soos kromdraaie wat maak dat ons nie kan sien wat aan die kom is nie. Wanneer ons die pad met Jesus loop, kan ons sonder angs wees, want die sorg wat ons kry, is selfs groter as wat ons nodig het.

Nog ’n ding gebeur wanneer ons ons voorberei het op Christus hier voor Kersfees. “Die skurwe plekke sal gelyk paaie word”. Die skurftes van die lewe word weggeveil. Die goed wat krap, word onbelangrik. Die skurftes verloor hulle invloed op ons lewens.

En dan, die grootste wonder wat vir ons voorlê as ons ons reg voorberei vir Kersfees:  “Ons sal almal die heil van God sien.“

En dit is waaroor Kersfees gaan. Om die heil, die wonder, die goedheid, die bevryding van God te sien en te geniet. Daarvoor kan ons graag die pad gelyk maak.

Christina Landman

Preekriglyn in Argief: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2012/12/Lukas%2003_1-6.doc