{ARGIEF}

Hemelvaart Donderdag  21 Mei 2009

Die Messias se Magtige Mense

Wat beteken “mag” vandag? En hoe magtig is Christene deesdae? Ons glo dat Jesus opgevaar het na die hemel en aan die regterhand van God sit. Maar wat beteken dit vir ons wat nog hier op aarde is?

Dis vrae wat ons mekaar juis nou met Hemelvaart en Pinkster vra. Ons glo tog ons is ons Messias se Magtige Mense, oor wie Sy Gees uitgestort is. Maar wat moet ons met ons “mag” doen?

Kom ons lees weer ‘n bietjie Psalm 110 saam. Daardie Psalm is darem al ‘n bietjie oud, sal julle sê, wat kan dit ons vertel van ons Messias en hoe ons vandag sy Magtige Mense kan wees?

Maar dis nou juis die ding met ‘n psalm. ‘n Psalm vlieg op die wieke van die wind, of eerder, op die wieke van die Gees, en kom telkens weer te lande in ‘n ander tyd. Kom ons kyk na vier van hierdie landings wat Psalm 110 al deur die geskiedenis heen gemaak het.

Met sy eerste landing, is Psalm 110 ‘n GODSPRAAK, ‘n orakel. Dis God se spreke met Dawid. God praat met Dawid en sê vir hom om aan sy regterhand te kom sit (vers 1). Dan beteken dit dat hierdie psalm al die eerste keer sowat 3000 jaar gelede geland het, toe Dawid koning van Israel was. Miskien, na Dawid, het hierdie psalm elke keer geland wanneer ‘n koning getroon is. Miskien is Salomo daarmee getroon. Miskien is dit later, as deel van die psalm-skat, elke jaar voorgedra wanneer die Israeliete hulle verhouding met God herdenk het. Ja, as ‘n Godspraak is Psalm 110 ‘n psalm oor “mag”. Dis God wat vir sy Getroonde sê dat hy hom “mag” sal gee oor sy vyande, sodat hy van die stroom kan drink en sy kop kan optel. Soos ‘n oorwinnaar.

Later het Psalm 110 ook ‘n PROFESIE geword, ‘n MESSIAANSE PROFESIE. Die Jode het self later Psalm 110 gelees asof dit na die Messias verwys. Dit was Psalm 110 se tweede landing. Psalm 110 beskryf presies hoe die Jode geglo het die Messias sou wees. Hy sou hulle vyande (toe die wrede Romeine) vertrap en oor hulle heers (verse 1,2,3,5,6). Hy sou leërs aanvoer en as ‘n priester hulle geloof herstel en laat seëvier (vers 4). Saam met Hom sou hulle hulleself verkwik en hernu (“uit die stroom drink”, vers 7a). Met hulle Messias sou hulle hulle hoofde weer trots optel (vers 7b).

Die vroeë Christene het ook in Psalm 110 ‘n profesie gesien, maar ‘n gerealiseerde een, ‘n VERVULDE PROFESIE. Een wat klaar waar geword het toe Jesus mens geword het. Die Messias het klaar gekom. Hy is gekruisig, maar het opgestaan – en opgevaar na die hemel waar hy aan die regterhand van God sit. Van alle boeke uit die Ou Testament word die Psalms die meeste in die Nuwe Testament aangehaal. En van al die Psalms kom aanhalings uit Psalm 110 die meeste voor.

Dis op die dag van die pinksterfees, met die uitstorting van die Heilige Gees, dat Petrus vers een van Psalm 110 in sy beroemde toespraak aanhaal (Handelinge 2:34b-35): “Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.”  Ja, dit was Psalm 110 se derde landing. Jesus  is die Messias, en met sy hemelvaart is Psalm 110 vervul – en sit ons Messias nou aan die regterhand van God.
En nou, met Hemelvaart en Pinkster 2009, moet Psalm 110 ‘n vierde keer land. Nou moet dit land as ‘n OPDRAG. Ek dink daar is ten minste vier opdragte in Psalm 110, wat vandag geldig is soos nog nooit tevore nie.

  • Die eerste opdrag is om te heers, om inderdaad Magtige Mense te wees (vers 1,2), en ongeregtigheid te beveg (vers 6). 
  • Die tweede is om beheer te neem oor ons geloof, soos ‘n priester (vers 4).
  • Die derde is om uit ons skanse uit te kom en fees te vier (vers 3).
  • Die vierde is om, op hierdie pad, te “drink uit die stroom” en ons koppe op te tel.

Maar dis tog verskriklik, sal julle sê. Moet ons nou ons vyande doodmaak, en ons geloof in almal se kele afdruk? En dan nog feesvier omdat ons iemand anders verbrysel het? Is dit wat Psalm 110 vir ons vandag sê?
Dis wanneer ons nou weer by die ding van “mag” kom. Die Jode van ouds het geglo dat Psalm 110 die Messias beskryf as een wat hulle politieke vyande onder sy voetsole sal verbrysel, wat die godsdiens priesterlik sal herstel, en hulle as ‘n nasie bo ander sal vestig.

Maar vandag weet ons dat Jesus, ons Messias, toe nie só was nie. Hy is die Messias maar hy is anders. Hy verbrysel en verwoes nie. Toe hy op aarde was, het hy genees en herstel. Hy het sy hand uitgesteek na die wenende weduwee, na die melaatse, na die magteloses en vernederdes. Jesus haal self Psalm 110:1 aan (in Matteus 22:44) om na himself te verwys – maar ook om te sê dat hy meer is as net ‘n afstammeling van Dawid.

En daarom kan ons vandag Psalm 110 anders lees. Ons lees in Psalm 110 van ons Messias wat aan die regterhand van God sit. Maar hy heers anders. En hy gee ook aan ons die opdrag om ander met “mag” te werk.

Ons eerste opdrag is om te veg teen wat verkeerd en ongeregtig is. Ons Messias gee ons die mag om te heers oor ons vyande. En ons vyande is hebsug, en materialisme, en die disrespek wat mense vir mekaar en vir mekaar se liggame het. Ons met beheer neem oor verkragtings en moorde en misdaad. Ons moet heers oor korrupsie. Dis die mag wat ons Messias vir ons as sy Magtige Mense gee.

Ons tweede opdrag is om verantwoordelikheid vir ons geloof te neem, soos priesters. Ons gee nie eer aan ons Messias wat aan God se regterhand sit, met ‘n afgewaterde Christendom nie. As ons nie verantwoordelikheid vir ons geloof neem nie, haal ons ons Messias weer af van sy troon af. En daarom moet ons in die openbaar praat oor ons waardes en die gesonde dinge wat die Christendom die samelewing indra. En dan moet onsself daarvolgens leef.

Ons derde opdrag is om fees te vier. En ons vierde opdrag om ons koppe op te tel en trots Christen te wees. Dit klink regtig of dit iets is wat by Magtige Mense pas. Ons is trots. Ons seëvier. Ons vier fees. Want ons maak van die samelewing ‘n beter plek. Ons is ons Messias waardig.

Mag u met Hemelvaart en Pinkster u werklik soos die Messias se Magtige Mense gedra: vegters vir wat reg en gesond is, sprekers vir wat waardevol en goed is, vierders van ons geloof.

Christina  Landman

Seisoen van Luister Powerpoint