{ARGIEF}

Sondag 2 Augustus

Nadat ek probeer luister het, wil ek graag Joh 6:22-35 se verhaal só oorvertel:  God in Jesus van Nasaret, die Opgewekte, wat gekruisig is, maar lewe, is genoegsaam vir sy mense. Net Hy!  Hy is die Lewensbrood, wat alle ander ekstras wat ons soek om versadig te word, heeltemal oorbodig maak [verse 32-35; Mt 6:31-33]. Hy is mos ons Herder; daarom sal niks ons ooit ontbreek nie!

  • Ek hoor in die God-storie hoe maklik dit is om hierdie Jesus te soek; selfs met groot moeite, soos die mense agter Jesus aan, heen en weer oor meer Genesaret geroei het, maar dit was alles vir eie gewin. Ek hoor terselfdertyd hoe moeilik dit is om Jesus te glo as die algenoegsame Brood wat uit die hemel vir ons gekom het.
  • Die mense van die verhaal was verbruikers [verse 25-26] en hierdie mentaliteit het ons nog nooit van vrygekom nie. Trouens om die verhaal te hoor en  te probeer oorvertel, vat so diep en seer aan my eie hart. God vra vir my: Waarom soek/volg jy my al vir so baie jare? Hoekom is jy ‘n predikant; hoekom eet jy elke maand en selfs meer maal van my Tafel en herinner jy jouself en die gemeente elke Sondag by die doopvont dat jy ‘n eiesoortige identiteit het: Ingelyf in My Liggaam?  Doen jy die moeite [verse 25 en 28] regtig net ter wille van My? Net omdat jy my liefhet? Omdat Ek alleen vir jou genoeg is?
  • In die verband skryf  Eugene Peterson in “Living the Resurrection : “A huge marketplace has been set up … to meet the needs and fantasies of people just like us. There are conferences and gatherings custom-designed to give us the lift we need [vers 25]. There are books, videos, and seminars that promise to let us in on the Christian ‘secret’ of whatever it is we feel is lacking in our life — financial security, well behaved children, weight loss, sex, travel to holy cities, exciting worship, ‘celebrity’ teachers. The people who promote these goods and services all smile a lot and are good-looking.  It is not long before we’re standing in line to buy whatever is being offered. And because none of the purchases does what we had hoped for, or at least not for long, we’re soon back to buy another, en then another. The process is addicting. We become consumers of packaged spiritualities. This is idolatry. We never think of using this term because everything we’re buying is defined by the adjective Christian. But idolatry it is, nevertheless. It’s God packaged as a product — God depersonalized and made available as a technique or a program. The Christian market in idols has never been more brisk or lucrative. The late medieval indulgences that provoked Luther’s righteous wrath are small potatoes compared to what’s going on in our evangelical backyard”.  
  • As ons verhouding met God deurspek is met ons verbruikersmentaliteit, nog dieper in ons wese gegraveer deur die moderne tegniek, reflekteer dit presies só in ons verhouding met  mekaar.  Ons het verhoudings en ons gaan verhoudings aan oor die hele spektrum van ons lewe: Liefdesverhoudings; sake verhoudings; werksverhoudings; sport en ander ontspanningsverhoudings; kerkverhoudings ens.,  net vir wat ons daaruit kan kry. En só depersonaliseer ons mekaar tot objekte om te verbruik/misbruik. 
  • Barmhartigheidsmaand in die RSA het alles hiermee te make.  God-gebruikers word mens-misbruikers in alle opsigte. En hoe speel dit nie elke dag oral in ons samelewing af nie. Natuurlik, die wat aan die agterspeen moet suig, ly dadelik die meeste!  En dit is presies die teenoorgestelde daarvan om barmhartig te wees. As Jesus ons enigste Lewensbrood is, sonder enige byvoordele; as Jesus nie vir ons ‘n allesomvattende versekeringspolis is om ons in alles te dek nie, sal ons iets verstaan van wat dit beteken om ander mense onvoorwaardelik lief te hê en te aanvaar; vir hulle brood te word wat net uitgedeel word, selfs al word ons gebreek. Sonder om iets terug te verwag.
  • Die verhaal vra: Glo ons Jesus as ons enigste  algenoegsame Lewensbrood. Die res van die storie sê: Nee!  Is ons beter?  Het ons al verder as die skare gevorder? Dis die uitdagende kwelvraag van die Evangelie — nuut in 2009.

Martin Heyns

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere Preekriglyne in Preekargief beskikbaar