Calvinia

Written by Mariette Steyn on . Posted in Nuus uit gemeentes, Vrouelidmate

deur Chrissie Thorne

As daar een ding is wat ‘n gemeente bewusmaak van hulle doel op aarde, is dit korttermynuitreike. Die gemeentes raak bewus van ons “behoort aan mekaar” tot wat is ons verantwoordelikheid teenoor die Here se groot opdrag. Die nood in die wêreld maak die gelowiges ontsettend dankbaar en die gevolg is offervaardigheid met oop hande en harte.

Roy en Chrissie Thorne doen al uitreike vanaf 1975. Dit is ‘n passie wat hulle albei deel. As gevolg van kostes, kan dit net elke twee jaar geskied. Calvinia se gemeentes, Loeriesfontein en die plaaslike VGK gemeente het al uitreikspanne na Makhatini, Umtata en Malawi geneem. In 2014 het Moorreesburg gemeente ook saam gegaan na Malawi.

Interessant vir ons is altyd hoe die Here altyd en elke keer die groep saamstel wat gaan, sodat die gawes van die groep presies die behoeftes van die sendelinge en sendingstasie aanspreek.

Dit was weer die geval met die 2014 Malawi-uitreik en die besoek by Annamarie de Klerk by die KiX kleuterskool in Malingunde. Daar was ‘n skoolhoof, onderwysers en onderwysstudente, skoolgaande seuns, senior burgers, ‘n afgetrede boer, waarnemende munisipale bestuurder, ‘n begaafde skilder en selfs ‘n dominee saam op die uitreik.

Ons hoofdoel met ons uitreike word deur die sendelinge bepaal. Annamarie se versoek was, skole en hospitaalbesoeke, opleiding van onderwysers met sekere vaardighede, bou van ‘n speelpark, opgradering van die pastorie van die plaaslike leraar se badkamer, sekere bouwerk en opleiding van die kerkraad. Die uitreikgroep se gawes kon hierdie behoeftes vervul en Annamarie se voertuig kon selfs gediens en herstel word.

Terselfdertyd is verhoudings gebou en die uitreikspan is blootgestel aan ander kulture – ‘n belewing wat ongekende waarde het. Dit maak dat ons
beter begrip en empatie vir ander gelowiges ontwikkel. Die uitreikspan het ook elke keer ‘n geestelike verdieping beleef en wonderlike geloofservaring
opgedoen. Besondere ervarings was o.a. om saam met die plaaslike gemeente erediens te hou en om ook ‘n troue in Lilongwe by te woon.

Indien die geloofsgemeenskappe nie inkoop in hierdie opdrag van die Here om te gaan en om te verkondig nie, kan die uitreike nie plaasvind nie.
Kerkrade begroot, lidmate maak items soos poppies en skenk sporttoerusting, geld, kos, ens. Daar is selfs twee spesiale kanselklede deur lidmate gemaak. Daar moet spesiale fondsinsamelings gehou word en daar moet spesiaal baie, baie gebid word om so ‘n aksie te maak werk. Entoesiastiese fietsryers van die omgewing reël elke jaar ‘n fietstrap vir sending en samel dan fondse in wat net op die uitreikpunt aangewend mag word. Hierdie
bedrag was die afgelope uitreik meer as R33 000.00.

Familie en vriende van elders hoor van die uitreike en raak dan ook betrokke. So het dames van Pietermaritzburg 39 rokkies gemaak vir ‘n vorige uitreik na Umtata.

Elke persoon wat al op ‘n uitreik was, weet dat die ry en grensposte besondere uitdagings aan ‘n groep kan stel. Hierdie uitreik was ook nie anders nie. Daar is baie en lank gery, soms tot 17 ure aanmekaar. Sommige grensposte beproef nie net jou geduld nie, maar ook jou geloof en sommige paaie is ‘n besondere ervaring. So wou hulle ons nie by Milanje in Mosambiek toelaat nie, omdat ons groep te groot was. Verkeerspolisie in Zimbabwe het hulle bes gedoen om ons te beboet.

Elke lid van die uitreikspan moet drie gebedsvriende kry en ‘n gebedsversoek-lysie word aan hulle gegee. Ons (gestuurdes) durf nie vertrek sonder die gebedsondersteuning van die gemeentes en vriende nie. Ons is so bewus van die aanvalle van die duiwel sodra ons ‘n uitreik beplan. Die Here se genade het met elke uitreik ons omsluit en beskerm. Die uitreikspan het ook die voorreg gehad om ‘n troue van ‘n leraar by te woon. Fletcher het vir ons ‘n tradisionele ete voorberei en ons het ‘n tradisionele hande-was-geleentheid ervaar. Ons was deurentyd bewus van die mense se hartlikheid, vriendelikheid, opregtheid en blymoedigheid ten spyte van armoede en moeilike omstandighede. Dit is ‘n blywende les vir ons.

Ons het teruggery met dankbaarheid en mooi herinneringe van mooi mense, mooi plekke en wonderlike ervarings. ‘n Ontmoeting met ‘n nuwe
geloofsfamilie in die vreemde het ons lewens verander en ons geloof versterk. Ons dank ons Hemelse Vader daarvoor.

Trackback from your site.

Leave a comment