Calvinistiese aktivisme en piëtistiese mistiek

Written by Frederick on . Posted in Artikels

Calvinistiese aktivisme en piëtistiese mistiek – sluit hulle mekaar wedersyds uit en wat beteken dit vir Suid-Afrika vandag?

Prof Jaap Durand

2de Willie Jonker-gedenklesing, aangebied deur die NG Kerk se Ring van Kaap die Goeie Hoop, Kaapstad 19 April 2007

An English version of this lecture is also available at gfwes@adept.co.za

Wanneer ek Calvinistiese aktivisme en piëtistiese mistiek teenoor mekaar plaas, is ek nie

van plan om al die ou argumente oor die meriete van die een teenoor die ander weer ‘n

keer op te haal nie. Ek is meer daarin geïnteresseerd dat hierdie teenoor mekaar plasing

bepaalde konsekwensies inhou vir Suid-Afrika, vandag. Ons ken almal die oproep tot ‘n

integrale Christelike aksie op alle terreine van die lewe wat kenmerkend is van die

Calvinistiese tradisie soos dit veral in die gereformeerde kerke na vore kom, met name

ook in die NGK. Maar in hierdie selfde kerke kry ons vandag die klagte dat die ou

entoesiasme vir Calvinistiese aksie op die sosiale terrein en in die publieke lewe plek

begin maak vir ‘n soort piëtistiese emigrasie na binne. Christene ontrek hulle van die

publieke lewe en vind gemak en geborgenheid binne die self-afsondering van klein

groepe van gelykgesindes en dikwels ook in die doksologiese verrukking van

charismatiese aanbidding.

Dit is geen geheim wie binne gereformeerde kringe gesien word as die sondebok nie.

Piëtistiese mistiek of selfs mistisisme wat gewoonlik vereenselwig word met ‘n vorm van

quietisme, is altyd gesien as ‘n soort uitvlug vir Christene om nie verantwoordelikheid te

neem vir wat besig is om op die sosiale en publieke terrein gebeur nie. Sodoende word

meegewerk aan ‘n ondermynende proses van sekularisasie.

Maar is dit ‘n billike waarde-oordeel wat gevel word? Is hierdie teenoor mekaar stelling

korrek? Bring dit ons enigsins verder?

Verlede jaar by ‘n groepsgesprek het die probleem van ‘n verdeelde kerk in Suid-Afrika

aan die orde gekom. By hierdie geleentheid het ek gesê dat ons nooit tot kerklike eenheid

sal kom op basis van die Bybelse eis tot eenheid alleen nie. Wat ons nodig het is ‘n nuwe

ideaal, ‘n visie wat deur al die Christene in Suid-Afrika gedeel kan word en wat hulle tot so

‘n mate sal aanspoor dat hulle sal besef dat dit nie iets is wat geïsoleerd van mekaar

bereik sal word nie.

Die lede van die gespreksgroep was almal min of meer Calviniste en dit is iets wat ‘n

Calvinis kan verstaan. Deur die eeue is Calvinisme en Calviniste altyd beskou as mense

wat hulleself gesien het as mense met ‘n roeping, met ‘n ideaal en ‘n visie. Hulle het in

gedagte die Koninkryk van God waarin elke duimbreed van die aardse lewe, in die woorde

van die groot Calvinis, Abaham Kuyper, aan Christus behoort. Dit is alles baie lofwaardig.

Maar dinge kan ook verskriklik verkeerd gaan. Dit gebeur wanneer Calvinistiese aktiviste

verkeerdelik hulle eie doelwitte en ideale vereenselwig met die Koninkryk van God. Dit het

in Suid-Afrika gebeur waar die oorlewing van die Afrikaner en sy sogenaamde sending

deur baie min of meer gelykgestel is aan die Koninkryk van God. Dit gebeur ook vandag

2

in die VSA waar president Bush en die sogenaamde godsdienstige regses dit as hulle plig

sien om demokrasie ( Amerikaanse styl) na die Midde-Ooste en die lande van die wêreld

te bring. Watter gemors het hierdie twee misvattings nie veroorsaak nie!

Maar hierdie misvattings maak nie die inherente dryfkrag ongeldig wat daar in die

Calvinisme skuilgaan nie. Daarom moet ons vra: wat beteken ‘n nuwe ideaal en visie in

terme van die Koninkryk van God vandag in Suid-Afrika? Is daar so ‘n visie waaronder

alle Christene in Suid-Afrika kan verenig in die sekerheid dat dit nie net tot voordeel van

bepaalde belangegroepe is nie, maar dat dit inderdaad betrekking het op die Koninkryk

van God en nie op een of ander aardse koninkryk nie.

Maar nou moet ek julle ongelukkig teleurstel. Ek het nie ‘n finale antwoord op my eie

vraag nie. Ek beskik nie oor die vermoë om so ‘n antwoord te gee nie en ek is ook nie ‘n

teologiese toorkunstenaar om die nodige haas uit die hoed te trek nie. Ek kan maar net

probeer om tentatief iets hieroor te sê. Ek kan slegs bid dat ons, tesame en verenig as die

kerk van Christus, die dringende nood besef om hierop ‘n antwoord te vind, dat hierdie

kerk van Christus die tekens van die tye reg sal lees sodat vasgestel kan word op watter

wyse die Koninkryk van God hom moet manifesteer, vandag, hier in Suid-Afrika.

Terselfdertyd is ek daarvan oortuig dat ons hierin slegs sal slaag as ons ophou om

Calvinistiese aktivisme en piëtistiese mistisisme teenoor mekaar af te speel. Kerkeenheid

in Suid-Afrika (al is dit net in die sin van ‘n saamsoeke na ‘n gemeenskaplike visie) sal

slegs ‘n realiteit word indien daar nie alleen ‘n diep wedersydse respek bestaan vir hierdie

twee vorme van spiritualiteit nie, maar ook as besef word dat die een die ander

komplimenteer. Dan eers kan die volle rykdom van die Christelike ervaringswêreld tot sy

reg kom, waarsonder enige kerklike eenheid of selfs samewerking ‘n onbereikbare ideaal

sal bly.

Ek is ten volle bewus daarvan dat my beklemtoning van die spiritualiteit wat ten grondslag

lê van Calvinistiese aktivisme en piëtistiese mistisisme die indruk mag skep dat ek die

groot saak van kerklike leerstellinge links laat lê. En ek doen dit ook. Doelbewus. Laat

ons vir ‘n slag begin by dit wat die mees eksistensiële kant van ons godsdienstige lewe is

om van daar af te beweeg na die meer denkmatige leerstellige kant. Miskien gaan ons

verras wees met dit wat ons op hierdie roete gaan ontdek.

Wat ek vanaand gaan probeer doen, is om julle ‘n historiese perspektief op elkeen van

hierdie twee temas te gee en om aan te toon, uit die geskiedenis, dat dit onjuis is om die

een teen die ander sonder meer af te speel.

Laat my begin met die Calvinisme en sy leer van die predestinasie wat al so dikwels

beswadder is.. Vir baie is hierdie leerstuk dié leerstuk wat by uitstek Calvinisme definieer

en wat vir baie juis die mees aanstootlike deel van die Calvinistiese godsdiens is. Dit

huisves, so word geglo ‘n droë, streng serebrale, en bo alles, arrogante tipe van

spiritualiteit wat geboorte gee Calvinistiese aktivisme met die aanspraak dat dit die totale

gemeenskap wil transformeer na aanleiding van Bybelse beginsels. Dit is hierdie

arrogansie wat die Calvinistiese idee van roeping en plig informeer. Vandaar die

afwykings waarvan ons in die begin gepraat het.

Wees gerus. Ek gaan nie predestinasie as ‘n leerstellige strydvraag aan julle voorhou nie,

maar as ‘n saak van religieuse ervaring.

3

Ek is ten volle bewus van die gevare van so ‘n benadering. Deur uit te gaan van die

manier waarop Calviniste die leerstuk van die predestinasie (uitverkiesing) ervaar, kan ek

daarvan beskuldig word dat ek die teologiese probleme inherent aan hierdie leerstuk

omseil. Maar met die oog op ‘n sinvolle diskoers ten opsigte van die toekoms van die

Christendom in Suid-Afrika is my aanpak bedoel om ‘n einde te maak aan die

stereotipering van mekaar.

Die gereformerde kerke het in die 17de eeu die leerstuk van die goddelike predestinasie in

sy finale vorm gegiet. Dit het gebeur toe ‘n herontwaakte skolastiek na vore begin tree

het. Vandaar die skewe beeld van die spiritualiteit van die Calvinisme onder

buitestanders. Historiese gesproke moet ons egter teruggaan tot op die vroeë geskiedenis

van die Christelike kerk om die wortels bloot te lê van die spiritualiteit waarteen ons die

predestinasieleer moet verstaan.

Reg van die begin af was die vroeë kerkvaders eenstemmig in hulle oortuiging dat die

inisiatief met betrekking tot die skepping, voorsienigheid en verlossing by God gelê het,

maar dit was eers Augustinus wat op ‘n kragtige wyse die idee van die predestinasie in sy

teologie geartikuleer het.

Daar is min twyfel dat Augustinus se idee van die predestinasie, uitverkiesing en

verwerping, sy oorsprong gevind het in sy bekeringservaring. Die meeste historici is

hieroor eens. In sy eie lewe het Augustinus die sonde ervaar as vernietigende realiteit, ‘n

diaboliese mag wat sy hele wese deurtrek het. Hy het derhalwe tot die gevolgtrekking

gekom dat die menslike staat van totale verdorwenheid dit vir hom onmoontlik maak om

die pad te vermy wat onverbiddelik aanstuur op die dood en verderf as God nie ingryp en

hom verlos nie. Sy Belydenisse (Confessiones) maak dit oorvloediglik duidelik dat sy visie

op die totale verdorwenheid van die menslike natuur en die ingryping van God wat

uitverkies tot die ewige lewe nie in die eerste plek ‘n leerstuk is wat hy onderskryf nie maar

‘n diep eksistensiële ervaring van die ongelooflike genade van God.

Hierdie eksistensiële ervaring het Augustinus egter nie daarvan weerhou om bepaalde

harde logiese gevolgtrekkings te maak ten opsigte van die lot van ongelowiges nie. Hy

beweer onder meer dat God sommige mense tot die ewige vervloeking gepredestineer

het. Hierdie sogenaamde dubbele predestinasie het enersyds in die jare wat sou volg die

ongelukkige resultaat gehad dat sommige teoloë dit die basis gemaak het van ‘n rasionele

teologiese sisteem sonder die soteriologiese en ervaringsmatige konteks waarin

Augustinus dit gebruik het. Andersyds kan dit nie ontken word dat die idee van ‘n dubbele

predestinasie vir Augustinus die agtergrond verskaf het waarteen die aktiewe

betrokkenheid van die kerk in die wêreld vorm sou aanneem nie. Ek verwys na

Augustinus se Stad van God (De civitate Dei) waaraan hy van 412 tot 426 gewerk het.

Die twaalf volumes van die tweede deel is ‘n lofprysing op die Koninkryk van God soos dit

in stryd is met die koninkryk van Satan. Vir Augustinus word die wêreldgeskiedenis

bepaal deur die stryd tussen geloof en ongeloof. Die lot van die individuele siel in

verkiesing en verwerping word hier getransporteer na die vlak van die menslike geslag as

geheel en die uiteindelike ontvouing van God se groot ontwerp vir sy skepping.

Hierdie majestieuse denkkonsep is misverstaan in die Middeleeue. Sommige historici, nie

ten onregte nie, blameer die kruistogte op ‘n misverstane Augustinus, ‘n misverstand van

die eerste rang.

4

Augustinus self, dink ek, sou nie hierdie roete gevolg het nie, vir die eenvoudige rede dat

hy ‘n mistikus was. Sy geestelike lewe en teologiese gedagtes het nie in die eerste plek

gesirkel rondom die mensdom se lotsbestemming en God se uiteindelike doelwit vir almal

nie, maar dit het verborge gelê in die dieptes van ‘n lewe wat geleef is in ‘n innige

verbintenis met God op pad na die visio Dei.

Nou wil ek graag met groot stelligheid beweer dat sonder die mistieke dieptes van

Augustinus se teologie hy nie in staat sou wees om die Christelike denke, Protestants

sowel as Rooms-Katoliek, in der mate te beïnvloed as wat hy wel gedoen het nie. Selfs sy

gedagtes oor die Stad van God sou maklik in die asblik van die geskiedenis beland het

daarsonder. Augustinus was Augustinus juis vanweë die mistieke dieptes van sy

spiritualiteit en teologie.

Enige persoon met ‘n bietjie kennis oor die geskiedenis van die ontwikkeling van die

Westerse denke sal in staat wees om jou te vertel dat Augustinus se mistisisme van die

Griekse denker Plotinus afkomstig is. Die meeste kommentatore sien dit as iets negatiefs.

Ek is nie daarvan so seker nie. Die vraag is nie waarvandaan dit gekom het nie, maar wat

Augustinus daarvan gemaak het. Laat ek probeer verduidelik.

Mistiek as ’n religieuse verskynsel kan gekarakteriseer word as ‘n soeke na en ‘n ervaring

van ‘n onmiddellike nabyheid tot God. Griekse intellektualisme wat die verstandelike

gereedskap verskaf het vir die vroegste ontwikkeling van die Christelike teologie het ‘n

sterk mistiese element bevat, soos dit op sy mees opvallende by Plotinus gevind word.

Hierdie intellektuele mistisisme van die Neo-Platonisme tref ons aan in die denke van

Origenes, Evagrius van Pontus en die ander Egiptiese hermiete in die woestyn, die sg.

Woestynvaders. Die nadruk het geval op die gemeenskap van die verstandelike

bewussyn met God deur kontemplasie. Selfs gebed was gesien as ‘n vorm van kennis. Al

is daar ‘n oneindige onkunde oor God, hierdie onkunde gaan voortdurend oor in kennis

terwyl die menslike bewussyn met God kommunikeer in kontemplasie. Hierdie tipe van

mistisisme kulmineer in die sesde eeu in die denke van Dionisius die Areopagiet en bly

voortbestaan as ‘n spesifieke vorm van spiritualiteit tot op hede.

Augustinus egter reik uit anderkant Plotinus en breek fundamenteel met hom wanneer hy

die gedagte van ‘n intellektuele gemeenskapsoefening met God ombuig in ‘n mistiek van

die liefde. Dit is God wat Homself bekend maak in die siel en liefde is die uiteindelike

resultaat van hierdie selfbekendmaking. Die ongelooflike neerdalende liefde van God in

Christus roep in ons op ‘n wederliefde vir God.

Augustinus is die inleier van ‘n Christusgesentreerde mistiek van die liefde wat soos ‘n

goue draad sou loop deur die gedagtewêreld van al die groot denkers van die

Christendom, soos dit veral na vore kom by Bernard van Clairvaux, die groot mistikus van

die elfde eeu. Sommige Rooms-Katolieke skrywers sien hom as die “laaste van die

kerkvaders” terwyl hy aanspraak kan maak op die seldsame onderskeiding dat hy hoog

gewaardeer word deur beide Calvyn en die Roomse curia.

In Bernard se homilieë op die Hooglied van Salomo vind Sistersiêre teologie sy edelste

uitdrukking. Gebed en liefde bly die twee pilare van sy teologie. Die genade van intieme

gebed en die ervaring van die realiteite van die geloof is vir hom een en dieselfde ding.

Deur gebed smaak ons die realiteit van ons eenheid met God en daarom die realiteit van

5

God Self. Dit word gesê van Bernard van Clairvaux dat sy wagwoord nie was soos die

van Anselmus nie: “Ek glo sodat ek mag verstaan nie (credo ut intelligam), maar “Ek glo

sodat ek mag ervaar” (credo ut experiar).

Bernard het Augustinus se besondere vorm van mistiek voortgedra in die eeue wat sou

kom. Maar, en dit is baie belangrik vir my tema van vanaand, Bernard het sy

Christosentriese mistiek nie alleen gekombineer met ‘n lewe van merkwaardige aktiwiteit

ten spyte van sy brose gestel nie, maar hy was ook in staat om ander tot beweging te

bring. Van adelike afkoms, in sy vroeë twintigs, maak hy ‘n dramatiese toetrede tot die

geringgeskatte klooster van Citeaux. Binne enkele jare word hy ab van die nuwe

Sistersiese klooster van Clairvaux. Spoedig word hierdie klooster die leierklooster in die

Weste, met die ab as die mees invloedryke kerkmens van sy tyd. Hy het maar enkele

kere buite sy klooster by wyse van spreke, die wêreld betree, maar die wêreld het hóm

voortdurend opgesoek met die doel om hom te betrek by die sake van kerk en staat.

Onder andere het sy oproep tot ‘n sobere lewe ‘n merkwaardige sosiale uitwerking gehad;

te Mainz het hy ‘n Jodevervolging stopgesit en met groot moed het hy die pouslike strewe

na wêreldheerskappy teengestaan. Ons kan krities wees oor sy teologiese oordeel in

sommige van die aksies wat hy onderneem of laat onderneem het, maar sy gewilligheid

om betrokke te raak kan niemand ontken nie. Met die verowering van Edessa deur die

Turke was hy die dryfkrag agter die tweede kruistog en toe dit misluk stel die pous hom

aan as hoof van ‘n nuwe kruistog. Gelukkig wou die Sistersiërs hom nie nodige verlof

daarvoor gee nie.

Ongelukkig laat die tyd my nie toe om vir ‘n oomblik stil te staan by Johannes van Fidanza,

die Franciskaan wat beter bekend is as Bonaventura nie. Ek moet ‘n paar eeue oorslaan

om by Johannes Calvyn uit te kom. Die rede hiervoor is eenvoudig: as iemand wil praat

oor predestinasie en aktivisme, spreek dit vanself dat in die eerste plek aandag gegee sal

word aan Calvinisme en die teoloog wat gestalte gegee het aan hierdie geestelike

beweging nie alleen binne teologiese kringe nie, maar ook op nie-teologiese terreine.

Calvyn is al geblameer vir baie dinge, selfs vir die opkoms van ‘n kapitalistiese ekonomie

in die Weste. Ek wil nie hierop ingaan nie. Die een belangrike idee wat ek wil belig is die

algemene opvatting, selfs ‘n bepaalde konsensus, dat Calvinisme aan die wêreld gegee

het ‘n spiritualiteit van godsdienstige intellektualisme, morele engheid, ‘n rigoristiese

onbuigsaamheid en bo alles ‘n streng pligsbesef wat hand in hand gaan met die oortuiging

van ‘n roeping deur God: God het my geroep tot sy diens, daardeur het Hy aan my ‘n doel

in die lewe gegee wat van my ‘n aktiewe deelgenoot van sy werk op aarde maak.

Die laaste deel oor God se roeping en ons doel in die lewe is sonder twyfel

prysenswaardig, selfs as ons die gevaar erken van ‘n misverstane roepingsbesef soos

ons in die begin van die referaat gehoor het. Maar die probleem gaan baie dieper as die

moontlikheid om ‘n blote fout te maak oor wat ons sien as God se roeping. Daar is die

persepsie dat ons hier te doen het met ‘n vorm van geestelike arrogansie met wortels in

Calvyn se tipe van predestinasieleer. In sy genade verkies God sommiges, maar ander

verwerp Hy in sy toorn. Jammer vir diegene wat nie uitverkies is nie. Die uitverkorenes

moet van hulle kant hulle plig doen om God se uitverkiesing die moeite werd te maak. Die

resultaat is ‘m streng spiritualiteit sonder diepte van vroomheid, sonder werklike liefde en

meegevoel, ‘n intellektuele najaag van plig sonder werklike vreugde en uitbundigheid..

6

Ek vind dit bevreemdend dat hierdie persepsie altyd Calvyn en sy teologie in fokus bring,

terwyl Augustinus die groot guru van die Westerse Christendom van wie Calvyn sy idee

van ‘n dubbele predestinasie gekry het, aan hierdie oordeel ontsnap. Augustinus word in

die eerste plek onthou vir ‘n teologie wat sy oorsprong vind in ‘n diep vroomheid en

mistieke dieptes. Enige poging om Augustinus te beskuldig van die dinge waarvoor

Calvyn geblameer word, is tot ‘n mislukking gedoem.

Maar daar is ‘n geestelike kant aan Calvyn wat nie altyd goed gedokumenteer is nie en

wat weinig historici werklik van bewus is. Sover ek weet was daar weinig van die aktiewe

en invloedryke bevrydingsteoloë van die laaste dekades van die 20ste eeu wat werklik

hiervan bewus was, ander sou hulle sekerlik meer daarvan gebruik gemaak het.

Dit sou vreemd klink om te sê dat Calvyn ‘n mistikus was. Laat ons daarom liewer sê dat

Calvyn nie weggevlug het van die mistiek af nie. Calvyn se vertroue op die almag van

God as die fondament van die mens se verlossing en sy aandrang op die betroubaarheid

van God se beloftes in hierdie verband is nie, wat hom betref, iets wat met die intellek

afgelei en bewys kan word nie; slegs die geloof kan dit ervaar. Geloof en ervaring is

onlosmaaklik met mekaar verbind. In die taal van sy Institusie is dit ‘n soetheid wat ons

werklik voel en ervaar in onsself. Dit is ‘n welbekende feit dat Calvyn in sy beroemde brief

aan Kardinaal Sadoleto sy uiterse terughoudenheid om oor homself te praat te kenne

gegee het. Nogtans, in sy Kommentaar op die Psalms ontdek ons sy merkwaardige

getuienis dat Hy in die reformasie van die kerk in die Psalms sy eie ervaring herken het en

dat hy hier die ware betekenis van gebed ontdek het.

In 1535 skryf Calvyn ‘n voorwoord tot die Franse vertaling van die Bybel deur Pierre

Robert Olivétan. Sowel die inhoud van hierdie voorwoord as die tyd waarin dit geskryf is,

vertel ons van ‘n persoon van vlees en bloed wat leef in ‘n historiese konteks wat hom

persoonlikraak op die mees eksisternsiële wyse denkbaar. In die voorwoord verwys

Calvyn na die bevryding van Israel uit Egipte en dan volg ‘n besondere openbarende sin

waarin hy sê dat God die kinders van Israel dag en nag vergesel het in hulle vlug,

teenwoordig onder hulle as self ‘n vlugteling. Die besondere betekenis van hierdie sin

word duidelik as ons kyk na die tyd en omstandighede waarin dit geskryf is. Dit was ‘n tyd

van vervolging wat die ballingskap van die jong Fransman tot gevolg gehad het. Saam

met ‘n stroom van vlugtelinge vestig hy hom in Switserland waar hy die voorwoord skryf.

Self ‘n vlugteling en te midde van vervolging ontdek Calvyn God Self as die eerste

Vlugteling, teenwoordig onder sy vlugtende kinders. As dit nie mistieke teologie is nie, dan

weet ek nie wat mistiek is nie.

Dit verwonder ons daarom nie dat Calvyn die leerstuk van die predestinasie nie behandel

as deel van die leerstuk oor God en die almag van God soos latere ortodokse teoloë na

Calvyn sou doen nie. Calvyn behandel dit binne ‘n soteriologiese verband. Vir hom het dir

predestinasie te doen met God se orde van verlossing (potentia ordinata) en nie met die

orde van God se absolute mag (potentia absoluta) nie.

Dit is belangrik dat ons die tipe spiritualiteit sal herken wat onderliggend is aan die idee

van uitverkiesende genade. Die predestinasiegedagte is ‘n verbasende innerlike leerstuk.

As dit ernstig geneem word gee dit aan die gelowige se lewe en godsdienstige ervaring ‘n

onderskragende sekerheid wat geen ander leerstuk kan bied nie. Ten spyte daarvan dat

die konsep van predestinasie die individu intrek bine die sfeer van ‘n verborge God, is

7

daar in sy of haar ervaring ‘n onmiddellikheid tot God wat alle moontlikhede van

beskrywing te bowe gaan.

Ongelukkig het die ortodoksie van die 17de eeu (insluitende die Puritanisme) nie altyd

getrou gebly aan hierdie soteriologiese gesentreerdheid van die leerstuk nie. Sodoende is

dit beroof van sy ware geestelike katrakter as ‘n innerlike, nederige viering van God se

verbasende genade en is dit verhef tot die sluitstuk van ‘n intellektuele sisteem wat dit so

afstootlik gemaak het vir baie Christene, insluitende die Armeniane (Methodiste) en in die

kringe van baie piëtiste. Dit word gesê, en nie sonder meer onregmatig nie dat die

Armeniane die Calvinistiese denke rondom die uitverkiesing sien as ‘n onaanvaarbare,

streng en onbuigsame, selfs arrogante intellektuele sisteem, maar wanneer hulle op hulle

knieë gaan, weet hulle sonder twyfel dat hul Christelike geloof begin en eindig met die

oorrompelende ervaring van God se genade. Dieselfde geld Rooms-Katolieke gelowiges,

ten spyte van die feit dat sommige van hul Protestantste medegelowiges geneig is om

hulle as semi-pelagianiste te sien.

Ek is volledig bewus daarvan dat ek myself hier in ‘n teologiese mynveld bevind. Maar die

eintlike punt wat ek wil maak is dat Christene van verskillende oortuigings dikwels baie

suspisieus is oor mekaar se spiritualiteite. Hulle bedek hul suspisies met soveel

leerstellige argumente dat hulle hopeloos daarin misluk om die gemeenskaplikheid van

hulle godsdienstige ervarings raak te sien. Dit was so reg van die begin af en dit sal met

ons wees tot op die dag van die vervulling wanneer ons meer, alhoewel nooit ten volle nie,

sal besef hoe verbasend God se genade werklik is.

Calvinistiese aktivisme inderdaad! Daar is weinig ander Christelike religieuse

wêreldbeskouings met dieselfde byna oorrompelende gevoel van doelgerigtheid en die

stel van doelwitte waarsonder die Christelike geloof sy impak op die gemeenskap verloor.

Maar daar is ook weinig ander wat so arrogant en verkeerd gerig kan word indien dit nie in

toom gehou word deur ‘n diep geestelike en nederige piëteit nie. Dit kan maklik so

serebraal en streng word dat in die proses vergeet word wat dit beteken om God se

genade gewoon te vier.

‘n Piëtistiese vierende mistiek kan weer ‘n baie magtige geestelike krag word indien die

ontdekking gemaak word dat die “redding van siele”, alhoewel die belangrikste, maar nog

net één deel is van die koms van God se koninkryk in die wêreld. Hierdie geestelike krag

moet gerig word op die baie breëre raamwerk van God se koninkryk en die weg waarlangs

tekens van hierdie koninkryk in staat en samelewing opgerig kan word.

Ek wil graag beklemtoon dat die koninkryk van God nie ‘n soort algemene en amorfe idee

is oor wat die wil van God op die publieke terrein beteken nie. Daar is tye in die

geskiedenis dat die koninkryk van God homself manifesteer, of homself behoort te

manifesteer, op ‘n baie besondere wyse, dan wanneer ons voor ‘n oomblik van waarheid

te staan gekom het.

Twee honderd jaar gelede het die kerk van Christus voor so ‘n oomblik van waarheid te

staan gekom waarin die koninkryk van God homself onomwonde wou manifesteer: die

afskaffing van slawerny in die Westerse wêreld. Na baie eeue het die Christene finaal en

met groot helderheid besef dat knegskap en slawerny die hart van die evangelie

weerspreek. In die suidelike state van Amerika het dit nog ongeveer 60 jaar gevat vir

hierdie besef om deur te dring, maar ook daar is uiteindelik ‘n teken van die koninkryk

opgerig en vandag kan ook ons die lied “Amazing Grace” sing, geskryf en gekomponeer

8

deur ‘n slawe-eienaar wat die oomblik van waarheid herken het toe hy daarmee

gekonfronteer is. Ongelukkig het die slawebevryding eers gebeur na ‘n bittere

burgeroorlog, omdat baie nie hierdie oomblik van waarheid herken het toe dit hom

aangemeld het nie.

Ook in Suid-Afrika, en met name in die familie van NG Kerke, het baie Christene ook hulle

oomblik van waarheid beleef. Ek verwys in hierdie verband na die Belydenis van Belhar

en in besonder na seksie 4 waar gesê word dat God op ‘n besondere wyse die God van

die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat die kerk as eiendom van God moet

staan waar Hy staan, naamlik teen die ongeregtigheid en by die verontregtes

Ek het min twyfel daaroor dat hierdie diep evangeliese sentiment sy oorsprong het in

bevrydingsteologie se ontdekking van ‘n lank verwaarloosde outentieke Bybelse tema.

Maar wat daarvan? Calvyn, die veronregte vlugteling, sou die Bybelsheid daarvan sonder

meer raakgesien het.

In die begin van my lesing het gesê dat ons ‘n nuwe ideaal, ‘n nuwe visie nodig het wat

deur Christene van alle groepe en denominasies in Suid-Afrika gedeel word. Ek is nie

verwaand genoeg om vir julle vanaand te vertel wat hierdie ideaal en visie behoort te wees

nie. Ek glo egter dat as ons as Christene van enige betekenis vandag in Suid-Afrika wil

wees en ons eie oomblik van waarheid wil ontdek, ons saam daarna op soek moet gaan.

Dit sal alleen kan gebeur as daar ‘n samevloeiing kan plaasvind van die twee groot

spiritualiteite wat vandag die kerklike lewe domineer. Dit sou beteken dat ons die groot

kloof wat daar tussen baie kerke en soms binne dieselfde kerk is, sal moet oorsteek, veral

die kloof wat daar tussen die wit-oorheersde en swart-oorheersde kerke bestaan. Dit is

tog geen geheim nie dat die vierende mistieke spiritualiteit sterker leef in die swart kerke

as in die meer serebrale kerke van wit Europese oorsprong.

Die geskiedenis van 21 eeue vertel vir ons dat beide hierdie twee spiritualiteite eg

Christelik is, dat daar tussen die twee ‘n groter gemeenskaplikheid is as wat ons vermoed

en dat die twee saam ‘n geestelike mag kan vorm wat Suid-Afrika se aanskyn grondig kan

verander.

Kopiereg: Jaap Durand

Trackback from your site.

Leave a comment