Dissipelskap

Written by webmeester on . Posted in Nagedagtes

Dit wil my lyk of die konsep van dissipelskap weer stadigaan
terugkom in die woordeskat van sommige gevestigde kerke.  As dit so is,
sal ek baie bly wees.  Dit is die soort Christenskap wat ons nou nodig
het in ons kerke.

Dissipelskap as die fokus van teologiese opleiding

Ek het die sterk klem op dissipelskap in die laaste tyd op een of
twee verrassende plekke gesien. In Dorothy Bass en Craig Dykstra se
nuwe boek oor teologiese opleiding For Life Abundant word in een van
die artikels `n passievolle pleidooi gelewer dat getroue dissipelskap
in die sentrum van alle praktiese teologie en teologiese opleiding sal
lê. Hulle skryf: “The basic task that orients practical theology is to
promote faithful discipleship” (p 67).

Hulle sien alle opleiding – in elk geval in praktiese teologie –
as’t ware in konsentriese sirkels lê rondom hierdie sentrale fokus op
die navolging van Christus. Dit geld van die verstaan van bediening wat
oorgedra word, maar ook van die leermetodiek, navorsing, ens. In alles
wat gedoen word moet hierdie fokus nl dat ons mense wil help tot `n
getroue navolging van Christus, deel van die groter prentjie wees.

Is dit ekstreem?  Vir mense wat geleer het om teologie te doen binne
`n Westerse universitêre sisteem kan dit dalk vreemd klink.  Maar van
die kant van die kerk en geloof gesien is dit eintlik logies –
natuurlik mits `n mens dissipelskap in sy breë en diep Bybelse verband
sien.  As `n mens verstaan dat die konsep van dissipelskap sentraal is
aan die Christendom en die Christelike teologie – en die argument sal
nie moeilik wees om te maak nie – kan jy eintlik nie dink dat `n mens
Christelike teologie regtig op enige ander manier behoorlik kan bedryf
nie.

Hulle is reg.  Dissipelskap is nie bloot `n praktiese saak nie.  `n
Mens het dissipelskap ook nodig om teologie reg te kan doen.  Die mees
wesenlike kante van die evangelie kan moeilik verstaan word van buite
die geloof om.  John Stott het graag verwys na Joh 14:21 waar Jesus
beloof het om Homself te openbaar aan mense wat Hom liefhet en sy
opdragte uitvoer!

Dissipelskap veronderstel `n lewende, teenwoordige Christus

Om die term dissipelskap meer gereeld te gebruik het nog `n
voordeel. Dit dwing ons ook om na te dink oor Christus en oor sy
teenwoordigheid en werk onder ons.

Dissipelskap veronderstel duidelik `n verhouding. Jy is Iemand se
dissipel.  Die woord “navolging” wat dikwels saam met dissipelskap
gaan, sê dit nog duideliker. Jy kan net navolg as daar Iemand anders is
wat voor jou uit loop!

Daarmee is ons by die belangrikste vraag wat aan Westerse Kerke
gevra kan word op hierdie stadium.  Dit is die vraag hoe ons dink oor
die lewende Christus, oor sy teenwoordigheid by ons en sy werk onder
ons.  Onder die druk van sekularisasie en moderniteit het dit vir baie
mense, ook Christene, moeilik geword om te dink aan `n persoonlike God
en ‘n lewende Christus wat werklik onder ons teenwoordig is.

Daar is tans `n lewendige gesprek hieroor in die teologie.  Die
groep prominente teoloë wat duidelik praat ten gunste van konfessionele
geloof in die Triniteit, die werklikheid van die Opstanding en
werklikheid van Christus se teenwoordigheid by ons deur die Heilige
Gees raak al hoe groter.

Ek is baie dankbaar dat ons hierdie klem op Christus se werklike
teenwoordigheid en werk onder ons ook duidelik hoor by die
missionêre-kerk-beweging. Sending begin nie met ons uitbeweeg in die
wêreld nie, maar met die missie van God en van Christus. Daarom word
daar in die kringe baie gepraat oor onderskeidingsvermoë – dat ons tyd
sal neem om te luister na God.  Ons kan nie maar gaan werk waar ons wil
of lus is om te werk nie. Ons moet eers luister en kyk waar God aan die
werk is onder ons – en Hom dan navolg.

As ons sê dat dissipelskap belangrik is, moet dit ook in ons bedienings aandag kry

Dit is vreemd, sê Dallas Willard, dat kerke aandag probeer gee aan
die eerste deel van Jesus se opdrag in Matt 28:18-20 nl dat ons moet
uitgaan en die evangelie verkondig, maar dat ons die tweede deel van
die opdrag heeltemal verwaarloos.  In vs 20 word gesê wat dissipelskap
beteken en inhou.  Dit is dat die ons mense “leer om alles te onderhou
wat Jesus ons beveel het”.

Die soort dissipelskap het raar geword in Westerse kerke.  Daar is
in die meeste Westerse kerke tans `n mite in die rondte, sê Dallas
Willard, dat dit moontlik is om vir 40-50 jaar lank `n Christen te wees
sonder dat jou lewe enigsins hoef te verander. Dit klink hard as
Willard dit so skerp formuleer maar as jy mooi daaroor dink weet jy dat
hy presies reg is. Dit is nie wat ons wil sê nie, maar ons sou mense
wat diè indruk kry, nie kon kwalik neem nie.

As jy dieper na die verskynsel kyk, sê Willard, lê die grootste
probleem nie by mense wat nie wil verander nie, maar dalk eerder by
kerke wat nie genoeg met mense praat oor hoe die Gees van Christus
mense soos ons se lewens kan verander en vernuwe nie.

Hierdie tema word die inhoud van sy uitstekende boek Renovation of
the Heart.  In die boek waag Willard dit om te skryf oor die
venuwingswerk van die Gees in ons lewens.  Hy kyk na ses vlakke van ons
mensheid: ons gedagtes, ons gevoelens, ons wil (of keuses), ons
liggaam, ons verhoudings, en ons siel en probeer naspeur wat ons in die
Bybel leer oor hoe hierdie vlakke van ons lewe verander word deur die
werk van die Gees.

Sonder om te sê dat ek saamstem met elke besonderheid van Willard se
uiteensettings, meen ek dat hierdie die temas is wat ons tot nadeel van
ons gehoorsaamheid en getuienis afgeskeep het die laaste paar dekades.

Die boek van Willard is ook op DVD en in `n 12-weke-programformaat
beskikbaar en ek weet van gemeentes in ons kerk wat dit met groot seën
gebruik.

Die punt is: as ons ernstig is oor dissipelskap en mense  wil leer
om alles te doen wat die Here Jesus Christus beveel het, sal ons meer
moeite moet doen om oor praktiese dissipelskap te preek en te praat.

Die Lewende, Regerende, Doenende Christus

Written by webmeester on . Posted in Nagedagtes

Dit gaan in die
kerk en in die bediening nie oor ons en ons planne nie, maar oor Christus – die
lewende, regerende, doenende Christus. Jesus is nie dood of weg nie – Hy is
hier en deur die Heilige Gees sit Hy die werk wat Hy begin het voort en sal Hy
dit ook klaarmaak. 

 

Dit is die
boodskap van Dr Andrew Purves, professor in Pastorale Teologie van die
Pittsburgh Theological Seminary, wat tans in Suid-Afrika op besoek is.

 

Dr Purves se
teologie en verstaan van die bediening wentel om twee oortuigings.  Die eerste is dat Jesus Christus ook in ons
dag en tyd `n lewende werklikheid is – nie net as `n raamwerk of beginsel of `n
goeie voorbeeld nie, maar as `n lewende Persoon.  Hy glo dat Christus in elke situasie waarin
ons kom, reeds teenwoordig is en besig is om sy werk te doen.

 

Dit is
interessant dat Hy bewustelik kies om meeste van die tyd van Jesus te praat. Hy is bang, sê Hy, vir Name
wat te veel rus op ons konstrukte en interpretasies – asof ons nie regtig die historiese
verhale oor Jesus kan vertrou nie.  Hy
meen dat ons in ons denke oor Jesus ons moet laat lei deur die verhale en
oortuigings van die NT.

 

Die tweede
oortuiging agter sy pastorale teologie hang saam met die werk van die Heilige
Gees wat kom om ons as gelowiges aan Christus te bind.  Dit was vir my `n goeie verrassing om te sien
hoeveel Dr Purves skryf oor die gelowige se vereniging met Christus.  In sy voordragte werk het hy baie met Joh 15
se beeld van die wynstok en die lote en Paulus se uitdrukking “in Christus” –
wat in varierende vorms blykbaar rondom 160 keer in Paulus se briewe gebruik
word.

 

Daarmee wil hy
beklemtoon dat ons as gelowiges en bedienaars van die evangelie nie in die
eerste plek geroep word om Christus te imiteer (na te boots) of sy voorbeeld na
te volg nie, maar eerder om in `n diep verhouding met Christus te leef waarin
ons “deel word en deel kry” aan Hom en aan al die gawes wat Hy vir ons verkry
het. 

 

Hy het diè
gedagtes pragtig uitgewerk in sy boek Restructuring
Pastoral Theology
. Ek het die boek drie jaar terug met groot verwagting
gekoop omdat `n groot deel van my werk op die oomblik is om saam met predikante
na te dink oor hulle bediening. 

 

Die boek was in
alle opsigte `n goeie verrassing.  Die
eerste verrassing was dat Purves eers in die tweede helfte van die boek oor ons
as predikante se bediening begin skryf! 
Die eerste deel van die boek gaan oor die Bediening van die Lewende
Christus. Hiermee gryp Purves terug na die oortuigings van die Vroeë Kerk (oa Athanasius
en die Kappadosiers), die Reformasie (veral Calvyn), maar, glo hy, ten diepste
na die boodskap van die Nuwe Testament. 
Die goeie nuus van die evangelie is dat Christus na sy Hemelvaart nie
regtig weg is nie, maar steeds deur die Heilige Gees onder ons woon en werk.  Hy is en bly die Eerste Bedienaar van die
Evangelie!

 

In die tweede
deel van die boek kom hy dan by ons bediening – wat net behoorlik en
betekenisvol gedoen kan word as ons dit in vereniging met Christus doen.  Die sentrale daad in elke deel van ons
bediening is dat ons getuig van Christus en na Hom heenwys.  Ons kan nie regtig mense help nie. Dit is nie
vir ons wat mense nodig het nie.  Hulle
het vir Christus nodig en ons taak is om hulle te help om Hom en sy werk in hul
lewens en in die wêreld buite ons raak te sien.

 

Purves skryf dan
pragtig oor vier bedienings van die predikant: 

  • Die bediening van God se Woord
  • Die bediening van God se genade
  • Die bediening van God se
    Teenwoordigheid by ons
  • En die bediening van God se
    heerskappy

 

Andrew Purves se
boeke het my die laaste twee jaar baie gehelp in my eie denke oor die
evangelie, oor die kerk en oor die bediening. 
Hy het my gehelp

  1. om te verstaan dat dit in die kerk
    steeds oor Christus gaan en dan ons moet oppas dat ons die Christologiese
    kern van die evangelie nie verloën of verloor nie. 
  2. om weer te verstaan dat Christus nie
    `n idee of `n voorbeeld of beginsel is nie, maar `n lewende, teenwoordige
    Persoon wat soek daarna om in `n verhouding met ons te leef.
  3. om weer te gaan kyk na die tweede
    deel van Jesus se lewe nl dit wat by die Hemelvaart en na die Hemelvaart
    gebeur.  Ons is geneig om hierdie
    tweede deel van Jesus se lewe gruwelik te verwaarloos – en dit is waar
    baie van ons probleme begin…
  4. om die wese van die bediening nuut te
    verstaan in die lig van die wesenlike insigte van die reformasie.  Ons kan nie in `n totaal nuwe situasie
    presies soos hulle dink en praat oor die bediening nie, maar ons kan oor
    die kernpunte van die evangelie, sy werking en die bediening steeds baie,
    baie by hulle leer
  5. om te verstaan dat `n groot deel van
    ons bediening daarin bestaan om mense te herinner aan die werklike
    Teenwoordigheid van Christus – wat by ons is, selfs in die deurmekaarste
    van situasies (sien die tweede deel van sy boek).

 

Purves se werk het my ook nuuskierig gemaak oor die Skotse gereformeerde
tradisie en my genoop om weer te gaan kyk na mense soos Knox, en veral die
Torrances.  Die Skotse gereformeerdes is
natuurlik na aan ons, maar op sekere punte is daar tog interessante ander
klemme.  My indruk is bv dat die Skotste
tradisie sterker as Hollandse gereformeerdes klem lê op die priesterlike faset
van Christus se werk en ook van ons bediening. 
Hierdie klem het my die laaste tyd persoonlik baie gehelp.  Maar ek skryf op `n ander dag meer daaroor.

 

Ons is gelukkig om Dr Purves tans op besoek te hê in SA.  Elders op die webblad is daar `n lys van sy
optredes.