`n Vriend sê my dat die regter in die Oscar Pistorius-saak klaar sy finale uitspraak voorberei het: “Skuldig! Die hele samelewing is skuldig! Veral die kerke, die regering, die media, ons opvoedkundige instellings en sommer elkeen wat help vorm het aan ’n samelewing waarin sulke hartseer dramas hoegenaamd moontlik is”. “Skuldig”, lees die uitspraak verder, “nie deur wat gedoen is nie, maar veral deur wat nagelaat is om te doen.” “En”, voeg die regter by, “dit geld sommer ook vir die Griekwastad-moorde, die Sondagverkragter, die Modimole-monster, Anene Booysen en al die ander…”
Ek het min twyfel oor die feit dat Suid-Afrika tans in ’n morele krisis verkeer. Die nuusberigte waarvan ons daagliks kennis neem is die empiriese bewys daarvan. Laat ek dit egter eers baie duidelik stel: met hierdie skrywe maak ek geen uitspraak oor Oscar Pistorius nie. Tog wil ek dit waag om te sê dat al die gebeure om ons, wel simptome is en die kulminasie is van breuklyne wat baie diep lê en oor ’n lang tyd aankom. Ja, selfs al word Oscar onskuldig bevind, kom die vraag by `n mens op: in watter tipe samelewing gebeur so iets?