Wat is daar vir die kerk en gemeentes uit die 2014 verkiesing te leer?
Ek waag vanaand! Daar is al heelwat ontleding oor die uitslag van die verkiesing gedoen. My bydrae probeer nie op die uitslag fokus nie maar op die prosesse in en rondom die verkiesing om te probeer verstaan wat in ons land aan die gang is.
1. Die persentasie kiesers wat gestem het, was wel ‘n bietjie laer as die verkiesing van 2009, maar het nogtans die verwagting van die OVK ver oortref. Die proses is gekenmerk deur lae vlakke van geweld as in ag geneem word hoe vel die verkiesingstryd was. Iemand het opgemerk dat daar minder geweldadige insidente was as in die VSA se laaste verkiesing! Die mense wat voorspraak gedoen het om stembriefies te bederf het nie hond haaraf gemaak nie. Die getal bedorwe briefies was klaarblyklik min of meer dieselfde gewees as met vorige verkiesings. Sou ‘n mens kon aflei dat mense oor ‘n breë spektrum genoeg omgee en glo in die toekoms van ons land dat hulle in groot getalle moeite gedoen het om te gaan stem? Indien ek reg is, wil ek voorspel dat gemeentes wat net vir eie belang en voortbestaan aanspraak maak op mense se ondersteuning en lojaliteit, minder en minder ondersteuning gaan kry.
2. Dit wil lyk asof Suid Afrikaners ‘n behoefte het aan publieke deelname van prosesse of byeenkomste van nasionale belang. Die Wereldbeker het dit in 2010 gewys, Madiba se begrafnis en nou weer met die deelname aan die verkiesing. Nie alleen het ‘n verassende persentasie mense deelgeneem nie, maar die oorweldigende kommentaar was dat mense dit “geniet” het om te stem. Ek kan my aan min ander lande indink wat mense met soveel vreugde stem en dit as lekker beskryf. Kan dit wees dat daar ‘n behoefte by Suid Afrikaners is om mekaar te ontmoet in publieke ruimtes waar ons saam deelneem aan prosesse? Ek onthou nog baie goed hoe Suid-Afrikaners mekaar omhels het toe Thabalala daardie eerste doel in die 2010 wêreldbeker geskop het. En die eerste keer toe die Blou Bulle in Soweto gaan rugby speel het, en nie net rugby gekyk het nie, maar heerlik gekuier het in Wilakazistraat se restaurant.
‘n Paar weke terug het ek dieselfde ervaar met die optog in Kaapstad voor die verkiesing. Ek hoor van ‘n groep predikante wat in Parow ‘n gesamentlike diens op Palmsondag gehou het waar ‘n tiental gemeentes van verskillende kante van die spoorlyn saam kerk gehou het en hoe lekker dit vir almal was toe ‘n paar honderd mense na die kerk op die grasperk saam geëet het.
Is dit nie nou tyd om uit ons woonbuurtes te kom en saam publieke prosesse te ondersteun wat die eenheid tussen Suid-Afrikaners verder bou nie?