GOD KIES SY SPAN

Written by webmeester on . Posted in Gemeentes

 

Omdat die VGK Mosselbaai tans vakant is, ontmoet ons dagbesture eers net om te gesels oor samewerking en toe reël ons ‘n ontmoeting tussen ons twee kerkrade waarin ons sommer net saam kuier en gesels oor “dit waarmee God besig is” en waar ons die grootste nood en behoeftes beleef.  En so word net weer bevestig – ons het dieselfde Spanbestuurder, Afrigter en Keurder en ons behoort tot dieselfde span en dat God ons klaar opgeroep het om dieselfde soorte nood in ons gemeenskap aan te spreek. Dit was net lekker om te weet dat die Here ons weer ordentlik saamgebring het vir ‘n Spanpraatjie en ons gehelp het om te sien hoe Hy ons wil laat saamwerk om Sy doel te bereik.

Die Tabita-groep en Omgee-bediening het sommer nou gereelde “spanpraatjies” ten doel. By ons ontmoeting op 5 November (foto ingesluit) het ons besluit om op 3 Desember mekaar te ondersteun in die kers-uitstappie vir sowat 30 kinders met MIV & Vigs. Die volgende dag, op 4 Desember gaan ons saam ‘n erediens aanbied met die fokus op World Aids Day.  Dis ook maar net die begin, want die Familiebedienings het al ‘n projek saam aangepak en die Sending-groepe is met opleiding van pastore d.m.v. die Nehemia-projek besig. Ons kyk en luister nou fyner om saam die Afrigter se stem te hoor.

Hoop vir matrieks op die platteland

Written by webmeester on . Posted in Gemeentes

 

Die ander boere knik instemmend kop. Ek hoor later die kinders kry daagliks ‘n sms, veral voordat hulle gaan skryf, om hulle te verseker dat daar iemand is wat vir hulle bid.

Toe ons huis toe stap na kerk, hoor ek dat baie min van die kinders gemeentelede is. Baie van die kinders kom uit die stad en is kinders van huise waar dit moeilik gaan. Ek verwonder my oor die natuurlike wyse waarop die gemeente liefde aan dié kinders gee in ‘n tyd wat hulle die ondersteuning van ‘n familie baie nodig het.

Die storie help my om die verhaal te onthou van ‘n ander gemeente in die Karoo. Die skool op die dorp het die afgelope 3 jaar as ek reg onthou geen druipelinge in matriek gehad nie. Baie van die kinders kom uit arbeidershuise op plase waar die ouers ongeletterd is, maar mense in die gemeente, van hulle onderwysers, sien dit as hulle roeping om die kinders spesiaal te ondersteun met ekstra klasse en handwerk projekte. ‘n Dogter van ‘n plaaswerker wie se ma oorlede is, word as ‘n kind aanvaar in die huis van die eienaar. Sy is soos ‘n suster vir die eienaar se dogter. Die twee dogters leer en speel saam. Sy wil na skool verder leer, sê sy, want leer is nie so moeilik as wat haar pa vir haar gesê et nie.

Ek verwonder my aan die kapasiteit wat daar in gemeentes opgesluit is om oor grense uit te reik en op betekenisvolle wyse ‘n verskil in ander mense se lewens te maak. Dalk steek hierdie verhale ander gemeentes se verbeeelding aan om in hulle konteks net so spontaan liefde en ondersteuning deur te gee aan kinders. Of dalk net dat hulle die stories van hoop wat daar is, sal raaksien en oorvertel.

Wanneer hoop deurbreek

Written by webmeester on . Posted in Transformasie

Hy was in ‘n ongemaklike situasie vanoggend, vertel ‘n vriend terwyl ons stap vir koffie.

Hy word gevra om ‘n egpaar in ‘n dissiplinêre verhoor te woord te staan. Alles dui daarop dat hulle die skuldige party is. Hulle kom in met aggressie en dreigemente om hulleself te verdedig. My vriend stuur die amptenaar van die instansie uit, maak die deur toe, gaan sit by hulle en begin luister… Stadig bedaar die agressie en raak die egpaar vrymoedig om hulle bekommernis oor die saak te deel.

Ons weet ook eintlik nie, begin hulle huiwerig te deel. Hy veroordeel nie, eggo hulle emosie, bly rustig teenwoordig in die angs wat na vore kom. En toe maak hulle heeltemal oop en raak eerlik. Daar word gehuil, planne gemaak, troos word uitgedeel. Wat ‘n tugverhoor moes gewees het, word ‘n ruimte waarin mense oor ‘n onwaarskynlike kloof na mekaar uitreik, en ‘n kind se lewe word “gered”!

Met die storie neem hy my gedagtes terug na hoe my eie dag begin het. ‘n Moeilike vergadering, wat my vannag laat rond rol het, het skielik onverwags ‘n baie goeie wending geneem. Ou klowe is skielik oorbrug en welwillendheid is gebore. Dit was nie my vernuf of enige ander leierskapstegniek nie.  HOOP het soos ‘n geskenk na my gekom.

Later vanmiddag kry ek berig van nog meer deurbrake oor die saak wat my laat wakker lê het. Die woorde van Sheila Cussons, die sendelingdogter van Piketberg, kom by my op: “Wat roer in die wortel, stoot in die sap, besige Christus …” en dan later in die gedig, “en hoe kon ek so afwesig staar na my?”

Mag ek, ons, haar woorde én die verhale onthou môre as ons ons vasloop in die vasgelooptheid van oënskynlike hopeloosheid.

Wat laat mense in verandering vassteek by die bekende?

Written by webmeester on . Posted in Transformasie

  • Ek dink die “hulle” is hier eintlik ons almal.  Is dit nie waar dat ons almal instinktief versigtig raak as ons voor die onbekende te staan kom nie?  Laat iemand maar net vir jou blinddoek en oor ‘n hindernisbaan begelei  Almal raak stadig, bang en selfs angstig, want ons weet nie waarheen ons geneem word nie.  Wat mense soos my vriend en ekself moet onthou, is dat ons meestal in prosesse in beheer wil bly.  Ons voorstelle word die pad wat ander moet loop.
  • Om te verlang na die bekende het baie keer te make met die spoed en intensiteit van die proses.  Hoe vinniger en dieper die proses loop, hoe groter is die kans dat ons transformasie-moeg sal raak, en dan is die bekende eenvoudig die maklikste of selfs die enigste manier om te oorleef.  Ek was onlangs verstom oor my eie reaksie toe ek na ‘n flim gekyk het oor apartheidskuld.  Daar het ‘n diep moegheid en moedeloosheid oor my gekom – net nie nog ‘n keer nie – was my gevoel.  Dit terwyl ek gewoonlik die een is wat mense sal aanmoedig om met ‘n oop gemoed en onbedreigd na die verlede te kyk! Die punt is eenvoudig, ek was emosioneel te moeg om die pad weer te loop. As mense seer gekry het – emosioneel seergekry het – en dit word nie geheel nie, is die emosionele energie net nie genoeg om weer oop te maak nie.
  • Van myself weet ek dat ek gewoonlik eenvoudig te vinnig is, en dit maak dat ek nie genoeg na mense luister nie. As mense dan nie inval nie, doen ek die onvergeeflike ding om mense wat nie met my saamstem nie te beskaam. Hoe kan jy nie die verandering steun nie, sal my lyftaal en stemtoon wees. Van mense naby aan my, hoor ek dat ek dan ‘n blindekol het en sonder dat ek dit weet dikwels geneig is om dan mense te laat voel hulle is net nie gehoorsaam genoeg, slim genoeg, gelowig genoeg of wat ookal is nie. Dit is dan wat ek begin preek, en hoe meer ek preek in so ‘n sitausie, hoe meer beskaam ek hulle!!! En hoe meer bou die “resenment” op in hulle, hoe onveiliger word dit om ons broosheid teenoor mekaar te wys. Morele hoë grond en die gepaardgaande beskaming is ‘n sonde wat ons as gemeenteleiers maklik in die naam van die HERE pleeg. Om mense te beskaam – hoe reg jy ookal mag wees – is nie van God nie, maar eerder gebore in eiegeregtigheid.

Dit help my ontdek dat die probleem nie met “hulle” te make het nie, maar met myself, wat nie genoeg luister nie, myself te ernstig opneem, en deur my ongeduld op ‘n subtiele manier in beheer wil bly. Ja, ek weet dit is nie die hele storie nie, maar kom ek vertel vir jou nog ‘n storie:

Ek is onlangs in ‘n klas, ‘n student vra ‘n vraag, ietwat lomp. Hy het die saak duidelik nie heeltemal deurdink nie. Ek sien die gat is sy argument en slaan toe. Binne enkele sinne sien ek hom reg. ‘n Vriend reageer gelukkig rustiger. Ek dink nie ons het alles gehoor wat jy wil sê nie, vra hy aan die student. Luisterend begelei hy die student verder, dieper.  Hy raak vrymoedig en begin voel-voel die eintlike saak wat hy op die tafel wil sit, oopmaak. Dit word ‘n wonderlike, lewensveranderende gesprek. Ek kon hom nie begelei nie, want ek was te gou met my antwoord, en te stadig om te luister …

Maar, ek ken hierdie moedeloosheid waarvan jy praat baie goed, en om die waarheid te sê, as ek eerlik moet wees, my moedeloosheid is dikwels ‘n vrees om te misluk wat ek projekteer op die “hulle” wat halstarrig is. Ek kan hulle nie verander nie, maar ek kan rustiger word, dieper luister, meer bevestig as beskaam, veilige ruimtes skep, sonder om op enige manier prys te gee op my visie. Dit is dan wat ek deur skade en skande leer, waar die teenwoordigheid van die Gees beleef word, waar die Koninkryk inbreek.

Soms breek die genade deur, ten spyte van myself, en lei ek nie vanuit vrees nie, maar vanuit die onvoorwaarlike beloftes van God, kry ek my ego oorwin en regtig gefokus op die ander in my teenwoordigheid. Dit is dan wat ek verstom is oor alles wat tussen mense kan gebeur. Dit is hierdie oomblikke van verwondering wat my ‘n volgende keer weer laat probeer.

{jcomments on}

Suid Afrikaners nie godsdienstige mense nie?

Written by Frederick on . Posted in Padlangs met gemeentes

Cobus van Wyngaard skryf op sy Blog  die Ander kant interessant oor die onlangse navorsing wat aantoon dat Suid-Afrikaners minder gelowig is. Hy wonder oa hoe dit moontlik is om sulke aannames te maak as net 200 respondente in SA deel was van die steekproef?

‘n Daling in godsdienstigheid het die Suid Afrikaanse koerante aan die gons. Alles van Rapport en Beeld tot by Citypress en Sowetan berig dat Suid Afrika minder godsdienstig is. Of as jy Beeld en Rapport se opskrifte moet glo dat “meer die kerk verlaat” en “heelwat minder glo”.

Min predikante sal ontken dat daar ernstige skuiwe in die Suid Afrikaanse godsdienstige landskap aan die gebeur is. En daar is ook geen tekort aan stemme wat of vir ons vertel dat ons besig is om soos “ongodsdienstige Europa” te word, of soos “fundamentalistiese Amerika”. Of ons egter enige werklike prentjie het oor wat aan die gebeur is twyfel ek al hoe meer. Hierdie vlaag van berigte help ons ook nie so baie soos wat die feit dat dit ‘n “gesagvolle navorsingsliggaam” was dit wil laat klink nie.

Eerstens, daar was ‘n volle 200 respondente uit Suid Afrika wat aan die WIN-Gallup studie deelgeneem het. Die minste van enige land op die lys. My agtergrond in statistiek is nie genoeg om te kan sê presies hoe akkuraat 200 antwoorde uit drie opsies sal wees nie, maar dit is genoeg om te kan sê dat as Kanada 35 miljoen inwoners en 1000 respondente het, en Suid Afrika 50 miljoen en 200 respondente, dan is die syfers oor Kanada heelwat meer akkuraat as die oor Suid Afrika. Wat ek egter nog nie kon opspoor vir hierdie studie nie is daai standaard stukkie oor metodologie en sekerheidsintervalle wat saam met statistiese navorsing moet gaan. Hoe random was die 200, en met hoeveel sekerheid kan ons afleidings uit 200 respondente maak?

Lees die volledige bydrae by http://anderkant.wordpress.com/2012/08/13/suid-afrikaners-nie-godsdienstige-mense-nie/

Hoop wat ons taai maak om aan te hou

Written by Frederick on . Posted in Leierskap

My entrepeneur/vriend vertel oor ‘n koppie koffie van sy moedeloosheid. Sy besigheid is so 4 jaar oud. Soos enige nuwe besigheid in die boubedryf is hy konstant onder kontantvloei druk, maar hy is van die beste in sy veld, goed opgelei, tegnies van die beste wat jy kan kry en goed genetwerk. Met innovering ontwikkel hy die hele tyd nuwe produkte, skep nuwe geleenthede. So het hy kon groei sodat hy tans ‘n 15-tal mense in diens het.  Maar hy moes weer iemand aflê, omdat die man gesteel het, vertel hy. Die werknemer se verweer is eenvoudig: “Meneer, almal steel tog”. My vriend is moedeloos: “Die morele vesel van ons samelewing torring uit, en ons kry nie ‘n skoon naat gestik om dit te keer nie” sê hy toe hy nog ‘n stuk hout op die vuur gooi. Almal steel tog meneer!

 

Die beste mense in ons gemeenskap is besig om moedeloos te raak. Die dokters, die onderwysers, die entrepeneurs. Hulle verloor hoop.  In hulle koppe is die bedankingsbriewe al geskryf en moet nog net ingegee word.

 

Wat moet gemeentes maak in so ‘n tyd? Ons kan tog nie al die toilette gaan skoonmaak nie – al moet ons dit ook meer gereeld doen – of almal wat steel vervolg nie – al moet ons ook opstaan teen korrupsie. Ons kan nie almal gaan klas gee nie – al moet ons ook meer by die onderwys betrokke raak en dalk as gemeente ‘n onderwyser of skool aanneem. Hoewel dit dinge is wat ons ook moet doen, dink ek dat ons nog ‘n veel belangriker taak het:

 

Ons kan hoop bring vir mense wat hoop verloor het. Gemeentes is immers draers van Hoop.

 

My entrepeneurs vriend gaan nie sy besigheid se deure toemaak nie.  Die onderwyseres sal Maandag weer voor die klas staan, en ek hoop dr Penzhorn gaan haar bedanking terugtrek. Nou wonder ek, of hoop ek, dat hulle Sondag in geloofsgemeenskappe sal wees wat in méér as betrokkenheid in die gemeente belangstel. Gemeentes behoort in hierdie tyd  juis vir hulle wat op die voorste loopgrawe werk, wat op die punt is om handdoek in te gooi en die tou te los, hoop te bring. Ons het ‘n besondere rol om in hulle lewens te speel. Om aan hulle die goeie nuus van die evangelie te bring. Goeie nuus wat vir hulle ‘n  ánder perspektief kan gee. Nancy Ammermann, vertel in haar boek Pillars of Faith (University of California Press, 2005) dat as mense inskakel in gemeentes, die kanse veel beter is dat hulle betrokke sal wees in die gemeenskap, en meer nog, dat hulle betrokke sal bly, al word dit moeilik. Ons weet dit nie altyd nie, skryf sy, maar as mense aan die evangelie blootgestel word, ontvang hulle geloof en hoop wat hulle taai maak en laat hulle aanhou en volhard.

Om draers van Hoop te kan wees, sal vra dat gemeentes se verbeelding nie primêr gevoed kan word deur die effektiwiteit al dan nie van die regering nie. Ook nie deur die  stand van die ekonomie nie. Die hoop wat ons dra, is ook nie gebou op politieke stabiliteit of politieke  onrus nie. Die hoop wat ons bring, kom vanuit ‘n ander verbeelding wat in die opstanding van Christus gegrond is. Gemeentes wat hierdie hoop dra, kan oor God praat as een wat lewend teenwoordig is in die chaos. Dié Een wat lewend teenwoordig is in die kliniek waar die toilette nie skoongemaak gemaak is nie, en die leggers onvolledig is. Die God wat in die wiskunde klas lewend teenwoordig is, en deurbrake gee ten spyte van die onverstandigheid van die departement. Dié God wat sy lewe gegee het vir geregtigheid ten syte van groeiende korrupsie in ons samelewing. Dié God wie se teenwoordigheid ons laat volhard, lank nadat die optimiste en die realiste die verhoog verlaat het.

As ons klaar gekla het oor korrupsie, ons onvergenoegdheid uitgespreek het oor oneffektiwiteit; As ons die stand van die ekonomie geanaliseer het en ons politieke voorspellings gemaak het; As ons dit alles klaar gesê het, het ons dan nog iets om te sê oor die hoop wat nie van ons af kom nie, maar gebore is in ‘n leë graf?

 

Ek daag myself en jou uit om vir hulle wat moed verloor van hierdie hoop te vertel.

 

It’s more than meets the eye?

Written by webmeester on . Posted in Gemeentes

So op die nippertjie kom die mense in, die leë stoele word so bietjie-bietjie minder. Die lofspan begin dapper, dit voel of ek alleen sing en ek en almal wat dit moet hoor, hou nie van my gebrom nie. Ek word hartlik verwelkom.

 

Soos gebruiklik begin ek die erediens met ‘n gebed van die hart. Die stilte kom moeilik, regs voor is ‘n kleinding meer lus vir speel as stilte en oorkant die straat is twee arbeiders luidkeels besig om in ‘n tuin te skoffel of so-iets, terwyl hulle gisteraand se sosiale lewe van plaaslike die township bespreek.

Ons fokus nou ons gedagtes op God, probeer ek vergeefs. Na die stilgebed nooi ek gemeentelede wat behoefte het, om te kom vir ‘n doopbevestiging tydens die lofsang. Niemand het vanoggend vrymoedigheid of behoefte nie. Net voor ons die laaste vers van die tweede lied sing, kom twee vroue, die een emosioneel. Ek maak met die doopwater waterkruise in hulle handpalms en verseker hulle van die onvoorwaarderlike liefde van Christus.

Dan is daar skielik is daar ‘n tou van mense. Hulle hande vertel verhale, sommige is perfek gemanikuur. Ander is growwe arbeiders hande met letsels. Daar is kinderhande met handskoene teen die geniepsige koue. Die Downsindroom dogter se handpalm vertel die verhaal van ‘n chromosoom wat vermis geraak het, almal ryk en arm gelyk in hulle behoefte om die onvoorwaardelike liefde te beleef.

En so hou hulle aan om te kom, rustig én diep geraak staan hulle met oop hande en ‘n blik wat my diep in die oë kyk. Die koue het gewyk, merk ek op, terwyl ek die Woord bedien. Die mense is nie net hier nie, hulle is téénwoordig soos mense wat diep geraak is.

Voor die seën aan die einde van die diens nooi ek hulle vir mekaar dankie te sê met ‘n woord of ‘n handdruk of dalk net ‘n kopknik. En toe gebeur dit, soos ‘n damwal wat breek, spontaan staan hulle byna soos een mens op en reik uit na mekaar, soos mense wat hulle lewe lank daarvoor gewag het. Party lag, ander huil openlik op mekaar se skouers, ander staan lank in ‘n stil omhelsing. Kinders hou hulle pa’s se broekspype vas onseker oor wat hier gebeur.

Hier word nie in tale gepraat nie, geen profesie uitgespreek, en tóg is die teenwoordigheid van die Gees onteenseglik. Dit is eenvoudig nie dieselfde mense wat die kerk koes-koes ingekom het nie. Ek ontvang deur die loop van Maandag ‘n e-pos van my kollega:

Die Gees het my op ‘n wonderlike wyse verras met die gemeente se reaksie tydens die diens.  Ek dink ek het nogal nodig gehad om só verras te word. Die gebeure tydens die erediens bevestig dat die gemeente gereed is vir ‘n tyd van vorming. Ek (weet) dat die deel waar mense na mekaar uitgereik het in die diens, BAIE betekenisvol was.

Dit het alles in ‘n bietjie meer as ‘n uur gebeur, op ‘n bitter koue winteroggend in ‘n kerksaal op ‘n dorp waar die gemeente al baie moes deurmaak, in die NG Kerk.

Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.” (Matt 20:18)