Jesus en Jahwe
Wie is Jesus in die Bybel?
Ek dink in die laaste tyd baie na oor Wie Jesus in terme van die Bybelse boodskap is. Wat is die prentjie wat die Bybel self gee van Jesus? En hoe beïnvloed dié prentjie van Jesus my lewe?
Die rede daarvoor is aan die een kant omdat die navorsing van die afgelope paar eeue oor die historiese Jesus my ernstig frustreer. Die poging van die historiese Jesus navorsers om agter die teks van die NT en OT in te kom en met historiese metodes ‘n rekonstruksie van die sogenaamde historiese Jesus te gee, het tot soveel diverse prentjies van Jesus aanleiding gegee, wat nie net onder navorsers tot ernstige konflik van opinies lei nie, maar ook in groot konflik is met die teks van die Bybel self. Om daarvan sin te maak, is moeilik genoeg. Om daarvan te leef, is onmoontlik.
Aan die ander kant word my belangstelling in die Bybelse boodskap geprikkel deur die resultate van die narratiewe – en lesers-perspektief benadering. Die erns wat in dié benaderings met die teks van die Bybel self gemaak word, spreek net baie meer tot my. Elke nuanse van die Bybelteks, elke beeld wat gebruik word, elke verbintenis wat in die teks gemaak word, en die betekenis daarvan in terme van die konteks beide van daardie tyd en vandag, word op só ‘n kreatiewe wyse in spel gebring dat dit vir my lei tot ‘n inspirerende besig-wees met die teks. Die poging om sin te maak van die teks self, open vir my deure van luister en leef wat nie met historiese metodes moontlik is nie.