COLLINS, FS 2006 THE LANGUAGE OF GOD. A SCIENTIST PRESENTS EVIDENCE FOR BELIEF

Written by webmeester on . Posted in Artikels

COLLINS, FS 2006 THE LANGUAGE OF GOD.  A SCIENTIST PRESENTS EVIDENCE FOR BELIEF. FREE PRESS, SIMON & SCHUSTER: NEW YORK.

Die boek is in vier dele.

In deel een, The chasm between science and faith, skryf Collins oor sy beweging van ateïsme na geloof. 

‘n Terminale vrou se vraag na sy geloof het op 26 ‘n proses aan die gang gesit wat via boeke van CS Lewis, bv. Mere Christianity, hom tot geloof beweeg het.  Lewis se klem op die universaliteit van ‘n morele wet, en spesifiek die altruïstiese impuls daarin (agape liefde), wat nie uit ‘n natuurlike ontwikkeling verklaar kan word nie, het vir hom soveel sin gemaak, dat hy God se bestaan nie langer kon ontken nie.

Hy beskryf in hoofstuk twee die oorlog tussen wêreldbeskouings, bespreek drie besware teen geloof (Freud se “wish-fulfillment”, die baie kwaad wat in die naam van godsdiens gedoen is deur die eeue en die teodisee vraagstuk) en sluit af met ‘n verduideliking van die beperkte plek van wonderwerke.

In deel twee, The great Questions of Human Existence, skryf hy oor:

  • die oorsprong van die heelal, gebaseer op die Big Bang teorie gekoppel aan ‘n teïstiese verstaan daarvan (“I cannot see how nature could have created itself”) met ‘n interessante verwysing na 15 fisiese konstantes waarvan die waardes nie deur huidige teorieë voorspel kan word nie (bv. die spoed van lig, swaartekrag),
  • die wyse waarop lewe op aarde ontstaan het, van die mikrobes tot by die mens, gebaseer op die evolusionistiese teorie van Darwin wat deur DNA navorsing bevestig word
  • veral uit die lesse wat geleer kan word uit die menslike genoom projek, waarvan hy die direkteur was.  Sy teïstiese verstaan van die heelal lei hom tot die gedagte, wat in die titel van sy boek ‘n neerslag gekry het, dat DNA die taal is wat God gebruik het om lewe te skep.

In deel drie, Faith in science, faith in God, skryf hy oor die volgende vier opsies en kies vir die vierde:

  1. Ateïsme en agnostisisme (wetenskap troef geloof) – hy wys dit af weens die bestaan van die morele wet en die feit dat wetenskap per definisie nie ‘n mening kan uitspreek oor iets buite sy veld van ondersoek nie.
  2. Kreasionisme (geloof troef wetenskap) – hy wys dit af weens die totale teenstrydigheid met gesonde wetenskap beoefening bv. in die jong aarde gedagte en betreur dit dat die woord kreasionisme daarmee eintlik in diskrediet gekom het.
  3. Intelligente Ontwerp (wetenskap het Goddelike Hulp nodig) – hy wys dit af omdat IO faal om op enige wyse ‘n eie wetenskaplike teorie daar te stel en IO se sentrale tese, dat kompleksiteit nie uit eenvoudiger dele tot stand kan kom nie, deur wetenskaplike waarnemings omvêrgewerp word.
  4. BioLogos (wetenskap en geloof in harmonie) – hy kies hiervoor en noem dit ook teïstiese evolusie, ‘n posisie wat die meeste ernstige bioloë wat ook gelowiges is, aanvaar.

Hy sluit af met ‘n bylae oor die morele beoefening van wetenskap en medisyne (bio-etiek).

Trackback from your site.

Leave a comment