{ARGIEF}

U Woorde uit Mrk 9 2-8, gee ons ‘n baie klein menslike kykie in u binneste, Here; hoe U aan’t werk is vir ons en u hele skepping. Baie dankie vir die onbegryplike voorreg! Ons kom agter u werke is totaal bo-menslik werke; dis dan ‘n total selfopofferende kruis-pad in Jesus van Nasaret! Maar dit is u verkose werk-metode.
Op die berg “sien” ons iets van U eie manier van doen. Dit maak die volle lewe in en rondom ons weer heel. En dit realiseer net deur U, wat u Seun, Jesus, op die berg ver-HEER-lik het! Net u ver-HEER-likte Seun maak die stukkende wêreld [uiteindelik op die Golgota-kruis] heel. Die Een wat U met u liefde vir U ‘gemerk’ het.
Dankie dat U ons op die berg ook laat hoor dat Moses en Elia [hulle verteenwoordig mos al u reddings/skeppings-Woorde ook uit die Ou Tyd] dit nog die heel pad vir ons gesê en bevestig het. Ou Woorde, Eerste Woorde, wat in Jesus van Nasaret, u Mens-geworde-heelmaak-Woord geword het.
Here, en nou is u opdrag aan ons, nie om knus daar op die berg van u Seun se verheerliking te bly nie. Dit blyk dat Petrus U dalk so misverstaan het. U Evangelie vir ons, is skerp en duidelik-vars. Ons het nie ‘n opsie nie. Ons wat in U glo, moet hierdie Jesus, U geliefde Seun, die Verheerlikte, ook ons Here en Meester, volg — volg op U enigste verlossings-/ heelmaak-pad. Here, en U weet, ons wêreld is verskriklik stukkend!
Ons bely dadelik: Ons kan dit glad nie doen/regkry nie. U volgelinge destyds in die Mrk 9:14-19 storie, kon ook nie. So, hoe sal ons dit ooit kan doen? Ons kan nie eers ‘n bietjie nie! Ons kan net weghardloop van die kruispad. Soos Markus self [volgens oorleweringe]; al die dissipels en heel aan die einde ook die “getroue” vroue — net weghardloop…
Dis ook nie so dat U ons net bietjie moet kom help in ons probeerslae om U gehoorsaam te wees nie. Ons is nie so half en half in beheer op die pad nie; en ons daarom daarop mag reken dat U ons so bietjie [of baie] moet kom help nie? U laat U nooit op die manier misbruik nie. Nee, Here, ons kan glad nie vir U op u heelmaak-pad, die kruispad, navolg nie.
Ons enigste Hoop om u opdrag, daar op die berg, lank gelede vir ons gegee, uit te voer, is net Uself, ons Meester en ver-HEER-likte Here. U wat die pad as ver-HEER-likte gevat het; U wat ons oppad saamvat; soms, so moet ons tot ons skaamte bely, saam-sleep op die pad agter U aan; ook in 2009.
Here, ons glo U. U verheerliking is regtig waar! U Woorde sê so. U Gees het ons van binne daartoe oortuig. Kom dan asseblief, Drie-enige God, kom asseblief ons ongeloof tot hulp.