DEMOGRAFIESE EN KONTEKSTUELE UITDAGINGS VIR GEMEENTES IN DIE NG KERK IN SA

Written by Frederick on . Posted in Gemeentes

DEMOGRAFIESE EN KONTEKSTUELE UITDAGINGS VIR GEMEENTES IN DIE NG KERK IN SA
VERSLAG AAN DIE MODERAMEN
MAART 2009

Communitas span

1.   OPDRAG EN AGTERGROND

Die moderatuur het gedurende 2008 besluit dat daar `n deeglike ondersoek na die stand van sake in die sinodale gebied gedoen moet word. Dit sou `n ondersoek na die demografiese werklikhede wat ons in die gesig staar, insluit. In aansluiting by vorige opdragte is die opdrag aan GKS gegee, wat besluit het om dit in samewerking met Communitas te doen.

Hierdie is ‘n eerste verslag oor die stand van gemeentes soos waargeneem in ons dienslewering en navorsing van gemeentes in ons streek. Ons het gelyktydig waarderend gekyk na die energiepunte wat dalk ongesiens onder die radarskerm van die instituut flikker en ook krities na uitdagings in ons gemeentelike sisteem wat dringende aandag verdien. Die verslag sê nie alles oor gemeentes nie, maar probeer om ons waarnemings en databasisse as span te verenig om so ‘n prentjie te skets.

Ons is bemoedig deur ‘n hele aantal energiepunte wat onverwags vanjaar na vore gekom het, waarvan ons in vorige jare nie bewus was nie. Ons sien daarin die Here se leiding en vernuwing. Ons is bekommerd dat valse suksesfaktore wat ingestel is op die voorbestaan en instandhouding van gemeentes ons daarvan kan weerhou om die bewegings van die Gees waar te neem.

Daar is in ons streek wonderlike tekens van ‘n klein, maar groeiende groep gemeentes, wat soos baanbrekers besig is om ons definisie van gemeentewees te herskryf. In hierdie groep is daar groot en invloedryke gemeentes, maar ook klein en brose gemeentes wat in sommige gevalle nie meer ‘n predikant kan bekostig nie, maar leierskap toon in die manier waarop hulle aanpas en vernuwend inwerk op hulle omgewing.

2.   DEMOGRAFIESE WERKLIKHEDE

Die volgende opsommende syfers is deur dr. Bertie van Zyl (stadsbeplanner) vir ons voorberei.

BRON: “THE STATE OF THE POPULATION IN THE WESTERN CAPE PROVINCE” – R Marindo (ed) HSRC Press, 2008.

1.  Die totale bevolking van die Provinsie vir 2007 word op 5.28 m geraam. Dit verteenwoordig byna 11% van die RSA bevolking. Sy groeikoers van 5,3% (2004) is vinniger as die nasionale gemiddeld en ook heelwat hoër as die land se ekonomiese groei. Sowat 64% van die mense woon in Kaapstad.

2.  Migrasie is ‘n belangrike faktor – veral twee kenmerke staan uit :

  • Swart mense migreer hoofsaaklik vanaf die Oos-Kaap : in 1996 was 21% van die Provinsie se bevolking swart. Vir 2007 word dit op 30% geraam;
  • Die Provinsie is ‘n aftree-bestemming, veral vir blankes.
  • Amptelike statistiek dui daarop dat 52% van migrante vanaf Europa afkomstig is en 34% uit Afrika. ‘n Groot persentasie van die swart migrante is jong volwasse mans. Daar word egter beraam dat nuwe immigrante na die Provinsie (wettig en onwettig) 100 000 – 130 000 oor ‘n 5 jaar periode beloop (20 000 – 26 000 per jaar), waarvan 80% in Kaapstad kom vestig.

3.  Ou mense : Ongeveer 6% van die bevolking is by aftree-ouderdom (234 000 = 65 jr. oud) en minder as 1% is 80 jaar en ouer (tweekeer soveel vrouens as mans bereik hierdie ouderdom). Beduidend is dat tien keer meer blankes as swartes 80 jaar en ouer word (3% teenoor 0,3%) – 0,5% in die geval van bruin mense. Die persentasie ou mense raak proporsioneel meer. In 2005 was daar 8 mense in die 65+ ouderdomsgroep vir elke 100 in die 15 – 65 jr. groep. In 2025 sal hierdie “afhanklikheidsverhouding” na verwagting 13 per 100 wees.

4.  Lewensverwagting:

Lewensverwagting Mans Vroue
Swart 56 jr 60 jr
Bruin 59 jr 66 jr
Blank 68 jr 75 jr

5.Kindermishandeling : Statistiek is onvolledig en nie betroubaar nie, maar dit is ‘n ernstige probleem. Die meeste kinders wat mishandel word, is 5 jaar of jonger, word deur mans (veral pa’s) mishandel en dit vind tuis plaas. Beserings word hoofsaaklik met vuiste, hande en voete toegedien.

6.Kindersterftes : Die laagste in die land, maar dit word toegeskryf aan demografiese kenmerke – ‘n relatief hoë blanke bevolking onder wie die kindersterfte-syfer besonder laag is.

7.Werkloosheid : In 2006 was dit 18% in die Provinsie teenoor 29% in die RSA (die belangrikste rede waarom migrasie na die Wes-Kaap so hoog is). Werkloosheid onder “die jeug” word op 52% geraam en word daaraan toegeskryf dat skoolverlaters nie kan werk kry nie.

8.VIGS (in 2006) : Die hoogste insidensie is steeds in KZN (40%) teenoor RSA gemiddeld van 29%. In die Wes-Kaap is dit 15%, maar dit groei hier ook die vinnigste (ek onthou dat dit 10 – 15 jr. gelede slegs 5% was). Huishoudings waar daar VIGS voorkom, se gemiddelde inkomste is minder as die helfte van dié van ander huishoudings.

9.Opvoeding : Daar is 1581 skole in die Provinsie waarvan 8% onafhanklike (privaat?) skole is, waar slegs 3% van die 980 000 leerders onderrig ontvang. Die leerder/onderwyser verhoudings is 1:12,7 vir onafhanklike skole en 1: 31,1 vir publieke skole. Dit is opvallend dat daar meer as 30% minder leerders in graad 11 as in graad 10 is en byna 30% minder in graad 12 as in graad 11 (‘n aanduiding van die “drop-out rate”). Infrastruktuurgewys is die Wes-Kaap se skole die beste daaraan toe in die land : 93% word as in ‘n uitstekende toestand beskou. Tog is daar bv. 34 skole sonder enige watertoevoer en 98 wat van boorgate afhanklik is; 14 skole is sonder elektrisiteit; en 53 skole het geen geriewe om van riool-afloop ontslae te raak nie.

10.Taal : Afrikaans oorheersend, Xhosa nou tweede

TAALGEBRUIK Afrikaans Engels isiXhosa Ander
Kaapstad 41.4% 27.9% 28.7% 1.9%
Wes-Kaap 55.3% 19.3% 23.7% 1.7%
RSA 13.3% 2% 17.6% 60.8%

Kyk ons deur `n meer kerklike bril kan die volgende opmerkings gemaak word:

  • Belydende lidmaatgetalle het die afgelope 3 jaar binne die sinodale gebied konstant gebly. Dit verteenwoordig steeds meer as `n derde van alle lidmate binne die NGK
BELYDENDE LIDMATE
Jaartal Wes-Kaap NASIONAAL
2006 233,335 873,491
2007 229,343 873,420
2008 232,518 864,878
  • Die beduidende skuif van die platteland na die stad het nie omgekeer nie. Enkele plattelandse dorpe beleef `n toename in stedelinge wat die stilte kom opsoek. Die vraag is of en hoe hulle kerklik inskakel? In samehang hiermee sien ons dat `n beduidende aantal plattelandse kinders nou skole in die groter sentra bywoon, met noodwendige implikasies vir die dinamika in gemeentes.
  • Ons stede word steeds toenemend kosmopolities en multikultureel. Dit word veral gesien in die sogenaamde “armer” stedelike gebied. Dit rig `n uitdaging en `n geleentheid aan die kerk.
  • Ons ervaar veral twee groter sentra: Die Skiereiland en George-Mosselbaai en enkele groter plattelandse dorpe soos Springbok, Malmesbury, Gansbaai, Herrmanus, Worcester, Oudtshoorn en Beaufort-Wes.
  • Ons kan nie meer noodwendig aanvaar dat stedelike gemeentes groei en plattelandse gemeentes swaartrek en kwyn nie. In albei gevalle is daar gemeentes wat `n opbloei beleef en gemeentes wat sukkel en kwyn..
  • Daar is tans geen noemenswaardige groei in die suidelike voorstede. Daarom dat die eksperimentele bedieningspunt soos LFM in Tokai vir ons so `n belangrike oefening is.
  • Van die kleiner myn gemeenskappe (Kleinsee/Gootmist, Alexanderbaai, Oranjemund, gaan deur `n baie moeilike tyd.
3.  OORKOEPELENDE TENDENSE EN OORSIG OOR GEMEENTES

Die stand van gemeentes:

Ons gemeentes kan in 3 kategorie geplaas word:

  • Stabiele gemeentes met ‘n tradisionele bediening, wat die gevaar inhou dat die gemeente mag kwyn. (Geel)
  • Kwynende gemeentes, wat hulleself afsluit van enige vernuwing en stadig sterf. (Rooi)
  • Innoverende gemeentes, wat oor die leierskap beskik om aan te pas en positief te reageer om die veranderinge in ons gemeenskap. (Groen)

Ons weerhou ons daarvan om presiese getalle gewigte aan die kategorieë te gee Breedweg sou ons wou sê dat 25% van die gemeentes in die laaste twee kategorieë val en 50% in die eerste kategorie

Daar is beslis ‘n groot groep gemeentes wat basies met ‘n tradisionele bediening voortgaan maar wat toenemend druk ervaar om hulle strukture instand te hou. Hulle is dikwels oop vir gesprek oor aanpassings maar moet met omsigtigheid en geduldig begelei word omdat hulle dikwels transformasiemoeg is.

Daar is ook ‘n groep gemeentes wat kwyn, maar hulleself nie blootstel aan enige nuwe denke t.o.v. gemeentewees nie. In hierdie groep is daar stads-, voorstedelike- en plattelandse gemeentes. Indien ons nie aandag gee aan hierdie groep nie, kan hulle geneig wees om die hele sisteem vas te hou.

Dit is vir ons goed om waar te neem dat leierskap met ‘n visie vir die toekoms ‘n groter impak op gemeentes maak as demografiese verskuiwings.

Ons streek het ‘n groot groep plattelandse gemeentes wat sterk is en goed funksioneer. Voorstedelik is daar ook ‘n gesonde kern van gemeentes. Dit is in die stedelike omgewings met groot demografiese skuiwe waar ons gemeentes die meeste onder druk is.

Van watter nuwe energiepunte het ons bewus geword?

Tydens die Communitas-spanvergadering – in Nov. 2008 het ons nagedink oor tendense wat ons in gemeentes waarneem. Ons het besluit om oor die volgende geloofsonderskeidende vraag na te dink en verhale te vertel: Waar en hoe het die Here op verrassende maniere deur gemeentes gewerk vanjaar?

Ons ervarings en verhale is natuurlik gestempel deur ons dienslewering aan gemeentes die afgelope jaar. Ons is as span genooi om vanjaar met ‘n verskeidenheid van gemeentes en predikante op pad te wees. Ons het dieper probeer kyk as die voor-die-hand-liggende na nuwe tendense of energiepunte wat ons kan help om te besluit waarin ons moet belê vir die toekoms. As Communitas Netwerk vat ons mekaar se hande om in ons dienslewering te fokus op hierdie tendense en geleenthede as gawes voortspruitend uit die werk van die Gees.

Ons is deur hierdie verhale geïnspireer en het weer ontdek dat gemeente hulleself nie kan bou nie, maar dat gemeentes gebou word deur die werk van die Drie-enige God. Dat ons tyd nodig het om daaroor na te dink, daaroor te bid en insig te ontwikkel, nie is wat ons doen nie, maar wat die Here onder ons aan die doen is. Die hoop, wat voortspruit uit die werk van die Gees, is dikwels ‘n “skugter” hoop, jy kan dit maklik miskyk veral as jy te besig is met jou eie agenda. As jy dit opmerk, kan ons dit as gawe ontvang en sodoende vennote word van die Drie-enige God. Dan sal ons ontdek dat Sy las lig en Sy juk sag is.

Waar en hoe het die Here op verrassende maniere deur gemeentes gewerk vanjaar?

  1. Lidmaat inisiatiewe. Ons neem waar dat meer en meer lidmate inisiatief en verantwoordelikheid neem vir die gemeente en ontwikkelinge in gemeentes. In die verhale wat vertel is, het ons opgemerk dat daar ‘n groeiende groep lidmate is, wie selfstandig as leiers na vore tree en leiding neem. Ons is verras om op te merk dat lidmate in dikwels moeilike situasies op ‘n stil manier eenvoudig aangaan om hulle roeping uit te leef en sodoende werk hulle mee aan die herstel van gemeentes.
  2. “Nuwe” gemeentes in armoede- en multikulturele en ontkerklike kontekste: Ons bemerk ‘n klein, maar betekenisvolle aantal gemeentes wat besig is om onder die radarskerm na vore te kom. Dit is gemeentes wat ons in die verlede sou toemaak of laat “terugstig” het met ander gemeentes. Hierdie gemeentes funksioneer en lyk baie verskillend as die “normale” profiel van ons gemeentes. Dit is nuwe dikwels klein gemeentes of herlewings van gemeentes in situasies van armoede of multikulturaliteit. Kenmerkend van hierdie gemeentes is hulle institusionele broosheid en hulle bereidheid om risiko’s te neem. Ons merk op dat die leiers hier met ander vrae besig is as gewone hoofstroom gemeentes. In baie gevalle het daar slegs ‘n klein kern van ‘n vorige groter gemeente oorgebly, maar is daar leiers wat met nuwe visie vir die gemeenskap na vore kom. Ons merk op dat hulle dikwels in konflik kom met die institusionele gesig van die kerk, soos die Ring waarin hulle is of buurgemeentes wat met hulle wil saamsmelt, maar is verras met hulle vasberadenheid en deursettingsvermoë. Hulle definieer vir ons in ‘n groot mate hoe die toekoms sal en kan lyk. Om met hulle te werk, is ‘n voorreg wat ons inspireer en motiveer. Tot ‘n groot mate is hulle die gemeentes wat die roeping en die belydenisse van ons sinodes beliggaam.
  3. Energie waar daar “oor-grens” blootstelling en kontak is. Ons bemerk dat gemeentes wat buite hulle kerklike grense blootstelling het, i.t.v. uitreike of die bou van verhoudings met mense wat nie deel is van die gemeente nie, die gemeentes is met die meeste energie. Dit is ‘n ander soort energie as wat na vore kom as uit die instandhouding van die gemeente. Ons is verbaas oor die intensiteit en die krag van hierdie energiepunte.
  4. Ons bemerk ‘n groeiende leerbaarheid en bedieningswysheid onder predikante. Ons sien dit nie net raak in die groeiende groep predikante wat kursusse en konferensies bywoon nie, maar veral in die leerbare houding van die leraar. Ons bemerk ‘n bereidheid om nuut te leer en met hoop dat ons gemeentes wel ‘n verskil kan maak. Wat ons veral opval hier, is die genesing wat daar al by baie predikante gekom het, wat hulle in staat stel om met ‘n positiewe leerbare ingesteldheid nuwe uitdagings aan te pak. Hierdie leerbaarheid is in kontras met ‘n naïewe idealisme aan die een kant of ‘n fatalisme aan die ander kant. Ons is verras met die vasberade wysheid en deurdagtheid wat deur hierdie predikante uitgestraal word. In hulle teenwoordigheid het dit moontlik geword om eerlik te wees oor dit wat ons nie weet nie.
  5. Ons bemerk ‘n merkbare nuwe passie onder jonger mense. Ons wou aanvanklik praat oor jonger lidmate, maar het toe opgemerk dat dit nie altyd in die eerste plek jongmense is wat as lidmate inskakel in gemeentes nie. Dit is jong mense met ‘n passie vir die evangelie en ‘n eerlike uitleef daarvan. Dit beteken nie dat hulle noodwendig “en mass” inskakel by gevestigde bedieninge nie. Ons sal steeds saam met hulle moet soek na alternatiewe bedieninge waar hulle kan inskakel. Ons dink egter dat dit nie noodwendig meer so is dat gevestigde kerke ‘n “no-go-area” vir jonger lidmate is nie. Dit hang grootliks af van die aard van die bediening van die gemeente.
  6. Daar is in gemeentes ‘n duidelike soeke na verdiepte spiritualiteit of ‘n gereedheid om geestelik begelei te word. Hierdie is dalk van die sterkste tendense wat ons bespeur. Baie van ons verhale het te make gehad hiermee. Ons het opgemerk dat die verhale te make het met leiers wat oor die vermoë beskik om lidmate geestelik te begelei en as leierskap saam geloofsonderskeidende leiding te gee. Opmerklik in hierdie verhale is die be-oefening van geestelike dissiplines deur die leiers. Ons is geïnspireer deur die gereedheid van gemeenteleiers om vanuit ‘n geestelike vertrekpunt na te dink oor hulle leierskap in gemeentes.
4.   PREDIKANTE

Die Sinode van Wes- en Suid-Kaap is ‘n dinamiese Sinode wat verskeie, soms uiteenlopende, kontekste verteenwoordig. Die Sinode word saamgestel uit 230 gemeentes wat ‘n tuiste vir ongeveer 230 000 belydende lidmate en 360 predikante bied. Dit is gevolglik ‘n waagstuk om jou uit te speek oor die toedrag van sake rakende die lewensvreugde en bedieningsvreugde van die predikante van die Wes- en Suid-Kaap van die NG Kerk.

Positiewe gegewens wat wel in aanmerking geneem kan word (in die algemeen) is die volgende:

  1. Die predikante is blootgestel aan ‘n goeie teologiese opleiding.
  2. Daar word van Sinode-kant baie moeite gedoen met VBO en daar is ‘n groot getal predikante wat dit bywoon.
  3. Die meerderheid van die predikante is leerbaar.
  4. Die meerderheid van die predikante openbaar goeie interpersoonlike vaardighede en leierskap.
  5. Predikante is in die algemeen aangename positiewe mense wat daarvan hou om met mense te werk – (en tevrede te hou).
  6. Die meeste predikante twyfel nie aan hulle roeping nie en doen moeite met hul verhouding met die Here.
  7. Baie predikante is tevrede met waar en hoe die Here hul gebruik.
  8. Die meeste predikante maak erns met die bediening soos hulle dit verstaan.
  9. In die algemeen het die kerklike strukture die welwese van die predikant in die oog.
  10. Ten opsigte van spiritualiteit, gawes, persoonlikheid en leiers-eienskappe van predikante is die Kerk in ‘n groot mate geseën.
  11. Die meerderheid van die gemeentes kan nog in die materiële behoeftes van die predikant en sy/haar gesin voorsien.

Negatiewe gegewens wat wel in aanmerking geneem kan word (in die algemeen) is die volgende:

  1. Die kontekste waarin predikante hulle bevind, het baie verander sedert hul opleiding en verander steeds.
  2. Hoewel baie predikante leerbaar is en by veranderde onmstandighede wil aanpas, “default” hulle terug in die Christendom-paradigma.
  3. Ten spyte van die feit dat predikante nie in hul roeping twyfel nie, is daar tog vele wat nie duidelikheid oor hul roepingsfokus het nie.
  4. Daar is ‘n redelike groot groep predikante wat hul roeping as ‘n “job” sien en slegs geroetineerd predikant is.
  5. Daar is predikante wat voel dat die “sisteem” hulle in die steek gelaat het – finansieel, beroepe, rol in die samelewing.
  6. In die algemeen plaas predikante hulleself baie onder druk deur aan die verwagtinge te voldoen, program-gedrewe te leef, besig te wees en in eie behoeftes en dié van die gesin te voldoen.
  7. Baie gemeentes plaas geweldig druk op predikante in hul verwagting dat predikante die veranderende wêreld moet inkrimp in die bekende kerk (Christendom-paradigma).
  8. Kerkrade, by name DVK’s, verstaan nie die rol van die predikant vir vandag nie.
  9. Predikante vereensaam/is eensaam en vind al moeiliker ruimtes van veiligheid.
  10. Min predikante het mentors en min is mentors.
  11. Daar is meer predikante op pad na uitbranding of reeds uitgebrand as wat hulle self besef.
  12. Baie predikante handhaaf nie gesonde spirituele gewoontes nie.

Algemeen:

  1. Daar is sommige Ringe wat ‘n veilige ruimte vir die predikante is en waar dit goed gaan tussen die predikante. Dit is egter die minderheid van Ringe wat hierdie versorgende karakter openbaar. Die feit dat die dissiplinêre funksie ook by die Ringe setel verhoog die afstandelikheid tussen ringspredikante.
  2. Hoewel daar navrae is oor standplaasverwisseling, was daar die afgelope drie jaar nie ‘n suksesvolle afhandeling nie.
  3. Waar daar konflik tussen predikante en kerkraad is, is die die gemene delers dikwels die swak hantering en roloorskreiding van die kant van die DVK en ‘n gebrek aan emosionele intelligensie aan die kant van die predikant. Of laasgenoemde die gevolg van persoonlikheid of uitbranding is, is nog te ondersoek.
  4. Daar is sinodebesluite en hulpmiddele, ter ondersteuning van predikante, wat om een of ander rede nie (strukturele probleme) ‘op die grond’ toe gepas word nie. Byvoorbeeld die induksieproses en die A-Z handleiding.
  5. Dit wil voorkom dat gemeentes en predikante in die algemeen baie indiwidualisties en onafhanklik van ander gemeentes en predikante funksioneer. Dat daar nie baie energie is vir ‘n groter gesamentlike visie nie (bv in die groter plekke). Die gemeentelike druk na binne maak dit vir die predikante moeilik in dié verband.
  6. Die indruk is dat ons as Kerk en geestelike leierskap onderhoudend en nie onderskeidend lewe nie. ‘n Groot getal predikante funksioneer in die rol van bestuurder en nie geestelike leier nie.

Statistiek: Wes en Suidkaap

  1. Daar is nagenoeg 50 predikante wat 15 jaar en langer in hul eerste en enigste gemeente is.
  2. Daar is ‘n groot groep predikante wat tussen 10 en 20 jaar in dieselfde gemeente is.
  3. Daar is tans 18 persone wat binne 5 jaar van normale (65jr) aftrede is.
  4. Daar is 9 predikante wat vanjaar 60 word.
  5. Algemene Sinode: Die getal gelegitimeerdes van die NGK tussen 1975 en 1985 is 751 (uit ‘n totaal van 1638 predikante) met die twee groot klasse in 1981 en 1982 wat saam 228 predikante gelewer het. Die implikasie is dat in die volgende 10 jaar 46% van predikante op ouderdom 60jr sal kan aftree met die groot “hap” van 228 (14%) oor ‘n 6 -7 jaar.
5.  JEUG

Dooplidmaat getalle:
In 2004 was die dooplidmate van die Wes en Suid kaap 62252 en vier jaar later is dit 59080. Dit beteken ’n daling van 5%. Die statistiek kan seker verskillend interpreteer word, maar in ’n tyd waar baie NG Gesinne geëmigreer het, wil die Jeugkantoor moed skep in die statistiek en aflei dat daar nie baie dooplidmate is wat die kerk verlaat vir ander denominasies of gelowe nie.

Jeugwerkers:
Die afgelope paar jaar is die meeste Jeugwerk poste ooit, geadverteer. Ongeveer die helfte van die gemeentes het nuwe poste geskep terwyl ander bestaande leraars poste omskryf het in Jeugwerk poste. Daar is egter verskeie gemeentes wat navraag doen oor die skep van nuwe poste en stuur die Jeugkantoor gemiddeld 5 Jeugwerk pakkette per maand.

Kommerwekkend is egter die hoeveelheid Jeugwerkers wat die beroep verlaat. Ongeveer 25% van alle jeugwerkers in Jeugwerk poste verlaat binne 6 jaar die beroep. Die Jeugkantoor is baie bekommerd oor die werksomstandighede van Jeugwerkers in die NG Kerk. Aangesien die salarisskale asook pligtestate in plek is, lei ons af dat die beroep ly onder die kerk se onvermoë om een of ander vorm van legitimasie aan die Beroep te verleen.

Kinderbediening (KIX):
Verskeie Kinderbedienings het met die draai van die millennium besluit om “onafhanklik” te funksioneer van die voorheen Kinderkrans bediening. Ons belewenis die afgelope 2 jaar is dat baie gemeentes weer ’n formele Kinderbediening begin het en veral die Jeugkantoor se ondersteuning vra.
Die statistiek was in 2004 – 6380 en in 2008 – 6045. Dit dui ook op ’n daling van ongeveer 5%. Die Kinderbediening is egter dankbaar dat baie van die 6000 kinders al hoe meer kinders is wat min tot geen blootstelling aan die Evangelie van Jesus het nie, aangesien al hoe meer skole en bewaarskole hulle hekke oopmaak vir KIX.

Om demografiese en kontekstuele opmerkings te maak oor die uitdagings van die kerk vanuit die Jeug se perspektief, is redelik moeilik in die lig van verouderde demografiese statistieke asook snel veranderende kontekste.

In kort dink ek die kerk kan versigtig optimisties wees vanuit die Jeug se oogmerk. Versigtig, aangesien die kommerwekkende Kerkspieël statistieke steeds van toepassing is. Kommerwekkend, omdat die kerk steeds nie die Jeug akkommodeer as een van die belangrikste fokusse van die bediening nie en dit wys op alle gebiede.
Van die opleiding waar Jeugwerk ‘n baie beperkte blootstelling het in voorgraadse sowel as lisensiaat vlak, tot Jeugwerkers wat na meer as 20 jaar nog nie amptelike status in die kerk kan ontvang nie en daarom nooit deel van die geestelike leierskap korps raak, soos die VBO- stelsel, sowel as afvaardiging na meerdere vergaderings van die kerk, onderstreep.

Dit wys verder in die manier waarop jongmense geakkommodeer word by kerkraadsvergaderings tot die verdraagsaamheid waarmee volwassenes kinders in eredienste hanteer.

Optimisties, omdat die wonderlikste verhale besig is om af te speel. Studente bedienings reg deur ons Sinodale streek het ‘n ommekeer beleef. Stellenbosch is seker ons beste voorbeeld en die wysheid wat ons daardeur bekom het, is dat dit elke keer is as daar meer generasies saam is en saam werk en mekaar kan bedien.

Tieners het ‘n erns om met die Here self te “connect” en is opreg in hulle geloof en spiritualiteit. Baie se teologie is redelik onder verdenking, maar die reaksie op moeite wat gemaak word, is baie positief.

Optimisties, omdat baie gemeentes wel die belangrikheid van ‘n Jeugbediening besef. Die resultaat is baie keer die beskikbaarstelling van ‘n Jeug pos wat of deur ‘n Jeugwerker of Jeug dominee gevul moet word. Die kommer is egter die tekort aan geskikte kandidate.

Optimisties, omdat heelwat Jeug bedienings besef dat die bediening van die gemeente nie net ‘n lidmaatskap fokus moet hê nie, maar meer van ‘n gemeenskapsverantwoordelikheid. ‘n Goeie voorbeeld daarvan is die Kinderbediening KIX (Kinders in Christus). KIX het ‘n doelbewuste poging om leidsters te motiveer om nie net in kerksale te bly en met gemeente kinders te werk nie, maar juis uit te gaan na skole en bewaarskole. Ons is dankbaar om te sien hoe die droom al hoe meer waar word en KIX se getalle het opgetel van 5600 na 6000. Dis ook wonderlik om te beleef hoe die vertroue teruggekom het in die struktuur en beleef ons al hoe meer KIX takke wat weer oopmaak.

Steeds bly die uitdaging daar om die kinders wat in ‘n post-moderne klimaat die waarheid verstaan, te bedien vanuit ‘n Denominasie wat met baie Modernistiese denke, maatstawwe, metodes en materiaal werk. Een benadering is dat die Jeugkantoor die Kerk kan help om vorentoe te gaan deur terug te gryp. Nie wat 20-30 jaar terug was nie, maar wat duisende jare terug was.

6.   FINANSIES

Finansies as Barometer
Die stand van ‘n gemeente se finansies is gewoonlik ‘n betroubare barometer van die toestand in die gemeente. Die tendense soos genoem in punt 3 hierbo, sou in dieselfde verhoudings in die finansies sigbaar wees.

Offervaardigheid
Lidmate se offervaardigheid en hulle verhouding met die Here groei hand aan hand. Gewoonlik is die uitdaging tot groter offervaardigheid ook die stimulant tot ‘n verdiepende verhouding. “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” (Matt 6:21)

Ons bemerk baie positiewe tendense:

  • Toenemende dankoffers wat elektronies oorbetaal word. Dis veiliger en standhoudend. Waar gemeentes die dankoffers persoonlik hou, ‘n simboliese fees daarvan maak en aan gewers erkenning gee deur hulle te bedank, groei die inkomste relatief vinniger.
  • Positiewe, entoesiastiese leierskap (leraars, kerkraad en ander leiers) wat ‘n voorbeeld stel, speel ‘n sleutelrol in die motivering van lidmate.

‘n Voorbeeld uit ‘n plattelandse VGK gemeente bewys hierdie waarhede en sal ons bemoedig:
Meer as 70% van dié gemeente se lidmate is plaaswerkers waarvan die inkomste laer as R500 p.w. (< R2 000 p.m.) is. Maar hulle het ‘n droom vir die Here se werk en gee hulleself daarvoor. Hulle beplan uitbreidings aan hulle kerkkompleks vir meer as R3 miljoen en is goed oppad om die bedrag in kontant te hê. Dit laat ‘n mens nogal klein voel as meeste van hulle, netjies aangetrek na ‘n Debutante Dinee waar R120 000 ingesamel is, agter op vragmotors huis toe vertrek. Hulle het elkeen ook nog R75 vir die ete opgedok. En die volgende oggend het die erediens-dankoffer bordjies oorgeloop van “groot” note!

Sinode se Begroting
Die Sinode se begroting uit gemeentes se Sinodale aandeel (SA) vir die jaar 2009/10 word beraam op R18,8miljoen. Die gemeentes se Sinodale aandeel word volgens die formule wat deur die laaste Sinodale vergadering goedgekeur is, bereken. Die maksimum SA is 8% van die inkomste van die vorige jaar. Indien die gemeente se inkomste in die betrokke jaar hoër is, is die SA minder as 8% van die inkomste. Volgens berekening is die gemiddelde SA per gemeente minder as 6% van inkomste.
Indien die Moderamen die SFK se voorstel vir ‘n aanpassing in die begrotingstoekennings goedkeur, sal die verdeling van die R18,8miljoen soos volg wees:

BEGROTINGSTOEKENNINGS
Getuienis verwant 30%
Barmhartigheid verwant 20%
Diens aan Gemeentes 26%
Ondersteuningsdienste 20,7%
Nuwe Prioriteite (Moderatuursdiskresie) 3,3%

Tendense om op te let:

Een van die aanwysers wat gebruik word om ‘n gemeente se finansiële volhoubaarheid te toets, is die persentasie van die inkomste wat vir personeelvergoeding aangewend word. Dit is ‘n goeie ideaal dat tot 50% van ‘n gemeente inkomste beskikbaar sal wees vir aktiwiteite buite die gemeente, want die kerk bestaan nie vir homself nie. ‘n Gemeente behoort nie net homself instand te hou nie, maar juis beskikbaar te wees dat die Here se Koninkryk kan kom. Die ideale van 50% is egter nie oral ewe haalbaar nie.

Oor die jare het ‘n syfer van 60% vir personeelkostes as kriterium vir volhoubaarheid bekend geword. Indien ‘n gemeente meer as 60% van haar inkomste vir personeelvergoeding spandeer, dui dit daarop dat “medisyne” nodig is. In die jaar 2007/8 het die toestand in ons gebied soos volg gelyk:

Gemeentes wat:
<50% van inkomste vir personeelvergoeding spandeer 35%
50% – 60% van inkomste vir personeelvergoeding spandeer 34%
60% – 70% van inkomste vir personeelvergoeding spandeer 19%
70% < van inkomste vir personeelvergoeding spandeer 12%

 

7.   VROUE

Ons vrouelidmate is tans `n baie belangrike energiepunt in ons gemeentes is ons vroue. Soms word die invloedsfeer van vroue onderskat, asook die onderbenutte potensiaal van vroue op alle vlakke van die gemeente. Vroue maak tyd om te luister na die Here. In ons streek is honderde Bybelstudiegroepe, gebedsgroepe, ensovoorts – bo en behalwe groepe waarby hulle as gesinne/wyke ingeskakel is. Dit bevestig ons navorsing wat getoon het dat vroue in die eerste plek wil weet wat die Here deur die Bybel (Sy Woord) vir ons sê. Vroue is inderdaad geestelike ankers in ons gemeentes. Vroue is egter ook in baie opsigte ons hande en voete in die gemeente. Duisende van ons vrouelidmate is besig met armoedeverligting en -bestryding, barmhartigheidsdiens, geletterdheidsprogramme, getuienisprojekte ens. Kom ons sien dit raak en benut hulle met waardering en respek.

8.   WAT GEBEUR TANS MET ONS LIDMATE PSIGOLOGIES

Navorsing toon dat 50% van Suid-Afrikaners negatief oor die toekoms voel en onseker is. Ons kan aanvaar dat onsekerheid en bedruktheid ook in die harte en gedagtes van die meeste van ons lidmate leef. Dit laat die vraag na die kollektiewe bewussyn van ons lidmate hier aan die begin van 2009. Lê lidmate meer wakker, of lê meer lidmate wakker? Wat is die impak van die huidige situasie op die psige van ons lidmate? Hierdie vrae veronderstel dat die konteks waarin ons lidmate leef, kompleks is en hulle negatief beïnvloed. Die vraag is egter: Is ons huidige konteks noodwendig donkerder of moeiliker as wat dit al voorheen in die geskiedenis was?

Die gebeure in die wêreld en ons land oor die afgelope tyd het ‘n beduidende impak op die psige van lidmate. Daar is meer onsekerheid in die gedagtewêreld van mense. Ou bekende vrae oor finansies, veiligheid, waardes, leierskap, verhoudings en godsdiensoortuigings het nader aan die lyf beweeg. Persoonlike finansiële druk, aflegging by die werk, motorkapings en disrespek vir mense-lewens is nie meer net in die koerante nie, maar in families en vriendekringe. Die antwoord op hierdie vrae het moeiliker geword as gevolg van die wêreldwye onsekerheid. Tot onlangs het die gras groener anderkant die water gelyk, maar nou is die hele wêreld deurmekaar en is oplossings nie so eenvoudig as om ‘n ander blyplek te soek nie.

Groter emosionele druk het ‘n invloed op die geestesgesondheid van ons lidmate. Meer mense sukkel op die een of ander tyd met stres-verwante siektes soos depressie en angs. Dwelms en alkohol word ‘n ontvlugtingsmeganisme. Aggressie kom in verskillende vorms in ons samelewing te voorskyn.

Wat gebeur met die menslike psige wanneer stres en onsekerheid meer word? Daar word waarskynlik teruggeval op ou patrone of meer primitiewe maniere van reageer. Dit word moeiliker om positief te bly en nie in ‘n veg of vlug patroon te verval nie. Die gevaar is dat mense meer in hulleself sal terugtrek, selfgerig word en net probeer om hulle eie besittings te beskerm en met meer aggressie sal optree. Mense reik minder uit na ander en gee minder om vir ander. Bekommernisse oor basiese behoeftes raak meer. Basiese lewensvrae word meer: Waar kom die kos op die tafel vandaan? Hoe kan ek my en my kinders se veiligheid verseker? Binne hierdie konteks beïnvloed mense mekaar negatief en word die kollektiewe bewussyn donker. Waaroor word gesels wanneer mense bymekaar kom? Op die een of ander tyd kom negatiewe sake soos werkloosheid, onveiligheid, politieke leierskap, disrekspek vir menselewens en ekonomiese onsekerheid aan die orde. Hierdie situasie kan gemeenskappe baie negatief maak.

Die vraag onstaan nou na die rol van die kerk as geloofsgemeenskap in bogenoemde omstandighede. Die kerk kan of meedoen aan negativisme of ‘n ander weg inslaan. Daar is ook ‘n ander kant waar ons lidmate geleer het om hoopdraers te wees in moeilike omstandighede. Die Skrif en Sielkundiges, soos Victor Frankl en ander, herinner aan die vermoë van mense om nie toe te gee aan negatiewe denke en ingesteldheid nie, maar om alternatiewe te soek. Dit lê binne die menslike vermoë om in die donkerste uur op te staan en te fokus op dit wat hoop bring. In die pastorale spreekkamer van ons kerk is daar elke dag mense wat daarin slaag om, op grond van hulle geloofsoortuiging, op te staan uit die moeilikste denkbare omstandighede. Hulle is elke keer weer bakens van hoop wat heenwys na die opstandingskrag van Christus.

Dit was nog altyd die taak van die kerk om ‘n draer van hoop te wees, sonder om onrealisties te wees. Wanneer mense bereid is om te soek na unieke uitkomste wat anders is as die negatiewe temas, kan hulle saam soek na oplossings waar medemenslikheid en respek die wagwoord raak en so sin gee aan hulle omstandighede.

Wat op psigologiese vlak met ons lidmate gebeur, is nie iets wat buite hulle eie beheer is nie. Elkeen het ‘n keuse hoe hy of sy die eise van die dag gaan aanspreek. Die vraag is dus nie hoe beïnvloed die omstandighede in die wêreld die psige van ons lidmate nie, maar hoe beïnvloed lidmate se spiritualiteit hulle psige, sodat hulle die wêreld positief kan beïnvloed.

9.   SAMEVATTENDE OPMERKINGS EN UITDAGINGS

Die kerk van Christus was nog nooit `n statiese, lewelose, onveranderbare instrument nie. Dit is `n lewende organisme wat weliswaar gerig word deur vaste waarhede en waardes, maar in die tyd en konteks lewe en verander. Wie dit nie verstaan nie, kan maklik goed bedoeld van die kerk iets vervelig, doods en irrelevant maak. Dit is daarom goed om jouself voortdurend die vraag af te vra oor wat binne in hierdie lewende organisme aan die gebeur is. Watter nuwe krag, energie en dinamika is daar, maar terselfdertyd ook die vraag te vra oor watter virusse aan die broei is.
Die vraag is ook watter konkrete uitdagings hierdie en ander tendense aan geestelike leierskap rig. Ons noem net `n paar :

Faktore wat kan keer dat ons die nuwe energie werklikheid word

  • Valse sukses faktore: Gemeentes bestaan nie vir hulleself nie, maar behoort gerig te wees op die gemeenskap. Daar is ‘n redelike mate van konsensus hieroor, maar die “suksesfaktore” bly steeds institusioneel bepaal. Dit is faktore soos getalle mense in die kerk op ‘n Sondag, bankbalans van die gemeente, die instandhouding van die geboue en strukture, die instandhouding van ‘n leraarspos ens. Hierdie faktore domineer nog steeds wanneer ons oor suksesse in gemeentes praat.
  • Die uitdaging om Ringe beter te laat funksioneer.
  • Sistemiese weerstand teen transformasie
  • Predikante wat stagneer en nie verder begelei word nie.
  • Gebrek aan fokus
  • Nalaat om leierpotensiaal onder leiers te ontwikkel
  • Deur vas te hou aan `n plattelandse bedieningsmodel as absolute. (Sien Bylaag 1)
  • Al meer en meer die werklikhede van ons konteks te ignoreer

Uitdagings

  • Lidmaatbemagtiging is amper al `n holruggeryde woord. Dit moet egter voortgaan. `n Uitdaging vir 2009 sal egter wees om mense buite die “binne-kring” of selfs buite die gemeente te bemagtig. Dit kan opwindende energie losmaak. Dit bly steeds een van die heel eenvoudigste maniere om iemand by die kerk betrokke te kry. Gee hom of haar `n taak. Laat hulle voel hulle maak `n bydrae en is van waarde en onmisbaar. Laat hulle energie en passie vloei. God het hulle daarvoor gemaak. Stel jouself ten doel om net een of twee sulke mense in hierdie jaar te soek en in te skakel.
  • Moet asseblief nie klein gemeentetjies toemaak of geboue nou verkoop nie! Hulle is te kosbaar. Onthou, dis `n mite dat `n gemeente `n predikant moet kan bekostig om voort te bestaan. Daar is baie ander opsies. (Kontak gerus die Gemeente-Ontwikkeling en Kerklike Samewerking kantoor (GKS) in die Kaap vir raad – 021-9577202)
  • Daar sal daadwerklik gekyk moet word na die bediening van gemeentes wat nie meer voltydse leraars kan bekostig nie. Die gebruik van sogenaamde “amateur gelowiges” teenoor “professionele amptenare” verdien dringende oorweging. (Sien ook Communitas se aanbeveling aan die Kuratorium)
  • Mag 2009 die jaar van verhoudingsbou oor grense wees. Tel die telefoon op en bel `n kollega in `n ander kerk of gemeente. Gaan drink koffie, of nog beter, beplan iets saam.
  • Verryk jouself met `n kursus, wat jy voorheen nog nie oorweeg het nie. Jy is dit aan jouself, die gemeente en die koninkryk verskuldig.
  • Bid vir ons jongmense en gaan spandeer op een of ander manier tyd in hulle teenwoordigheid. Wees daar, gesels en neem waar. Sit hulle volrond op die kerkraad se radarbord. Dis `n energiepunt!
  • Spandeer dubbeld soveel tyd met God in jou binnekamer as verlede jaar. Onlangs sê emeritus aartsbiskop Desmund Tutu, dat hy as geestelike leier slegs `n “leë simbool” sal wees, as hy nie elke dag ten minste twee ure per dag met God deurbring nie. In `n tyd waar ons lidmate smag na geestelike leiding kan geestelike leierskap nie bekostig om leë simbole te wees nie. Dit vra meer as teologiese feite kennis oor God . Dit vra `n elke dag se wandel met God! Dit is dalk saam met al die ander uitdagings van ons dag geestelike leierskap se heel grootste uitdaging.

‘n Laaste uitdaging: Huisbesoek?

Daar is ook `n laaste saak wat ons aandag verlang. Dit hoef nie meer gedebatteer te word dat verhoudinge en persoonlike aandag en kontak in feitlik alle sektore van die samelewing terug op die agenda is nie. Hierdie is nie `n pleidooi vir huisbesoek, presies soos wat ons dit in die ou dae geken het nie, maar wel vir `n tipe bediening wat seker maak dat daar persoonlike kontak en verhoudinge tussen die geestelike leiers en die lidmate is. Kortom, predikante en/of ander geestelike leiers sal op een of ander manier op konkrete wyse moet figureer in die lewens van gewone lidmate. Dit sou kon beteken dat daar weer `n paar persoonlike besoeke gebring word, indien dit om welke rede die afgelope jare nie meer gebeur het nie. Dit kan in hierdie dae `n deurslaggewende verskil maak.

Maart 2009

 

BYLAAG 1
Ons voorstede verander. Moet die kerk ook? (Anné Verhoef)

Elke voorstad van Suid-Afrika se demografie het die afgelope 10 jaar ingrypend verander. Dit is nie meer vreemd om swart mense of ander kulture as bure te hê nie. In ʼn gegoede voorstad van byvoorbeeld Durban, woon daar in een straat gewoonlik ʼn paar blanke Engelsprekendes, ʼn paar Indiërs, ʼn paar Zoeloe-sprekendes, en hier en daar ʼn blanke Afrikaanse gesin. Die voorstede regoor Suid-Afrika het verander – selfs in kleiner dorpe. Moet die kerk ook verander?

Dát die kerk nie verander nie, is natuurlik vir sommige lidmate goeie nuus. Die kerk is vir hulle by uitstek ʼn baken van standvastigheid en stabiliteit in ʼn onsekere wêreld vol hoë eise en dikwels chaos. Die diepste oortuiging by hierdie lidmate is dat die kerk ʼn hawe is waar ʼn mens veilig en beskut kan voel – veral teen al die euwels en maalkolk van veranderinge in die wêreld.

Dat die kerk nie verander en aanpas by die tye nie, is natuurlik weer vir ander lidmate ʼn saak van kommer. Is ons nie besig om onsself te isoleer nie? Eien ons nie God vir onsself toe ten koste van ander mense nie? Leer ons ons kinders reg as ons kerk hou op ʼn manier wat mense op grond van taal, kultuur en ras skei? Vir hierdie lidmate is die kerk nie net ʼn hawe van beskutting nie, maar die instrument waardeur God die nood in die wêreld wil bereik. Die kerk is Jesus Christus se liggaam wat bestaan en leef nie ter wille van haarself nie, maar ter wille van die wêreld.

Hoe nou gemaak in ʼn voorstad waar dinge besig is om vinnig te verander en daar twee ekklesiologieë in lidmate se harte leef? Gaan een ten koste van die ander gehoor en gevolg word of is daar ʼn ander uitweg?

Dr. André Bartlett het onlangs[1] by die Forum for Intercultural Ministries (FIM), van die NG Kerk kom saam nadink oor Suburbia and Intercultural Ministries – soos die tema van die konferensie was. Sy bydrae was baie insiggewend en daar is twee sake wat hy uitgelig het wat perspektief bied op die bogenoemde vraag: Eerstens die ontstaan en funksionering van die hele verskynsel van voorstede; en tweedens die plek van interkulturele bediening in só ‘n konteks.

Oor die verskynsel van voorstede het Bartlett dit uitgelig dat die voorstede ontstaan het (in Johannesburg byvoorbeeld) om weg te kom van die geraas en stof van die mynkampe. Voorstede moes veilige, mooi verblyf vir gesinne weg van die werkplek se stres en lawaai verskaf. Hier moes nie nywerhede en te veel besighede wees nie, maar wel skole en kerke. Die gesin se privaatheid en waardes moes deur die voorstede beskerm word, en van die kerk in die voorstad is verwag om hierby in te val. Dikwels was hierdie waardes nie in lyn met die waardes wat die kerk self wou verkondig nie, naamlik die isolering van gesinne van die gemeenskap om hulle, die verbruikersmentaliteit wat oorheers, die onttrekking van sosiale realiteite en ongeregtighede wat dikwels baie meer opvallend op die markplein (en in die mynkampe) is. Voorstede moes nog altyd as rustige veilige woonarea funksioneer en só ʼn idilliese wêreld binne die wêreld skep.

As voorstede dus verander wat die kultuursamestelling betref, word dit gou as bedreigend ervaar. Mense trek weg na waar hulle eie kulture is, of mense isoleer hulle nog meer van die nuwe intrekkers wat as indringers beskou word. Interessant genoeg reik die nuwe mense, die vreemdes in die ou omgewings, dan uit na mekaar en vorm nuwe subgemeenskappe.

Op hierdie punt lyk dit of die kerk deur sy multikulturele bedieninge ʼn aanknopingspunt kan kry. Die meeste bedieninge in die NG Kerk wat multikultureel funksioneer, is bedieninge wat hierdie nuut saamgestelde gemeenskappe ondervang. Gewoonlik gebeur dit in die middestad, soos byvoorbeeld in Windhoek (Andrew Murray gemeente) en in Pretoria (Arcadia Faith Community) waar ʼn verskeidenheid nuwe kultuurgroepe intrek en dan saam groepeer en tuiskom by die kerk. In die voorstede gebeur dit ook, maar op ʼn kleiner skaal. In ʼn voorstad soos Amanzimtoti word die Engelse erediens byvoorbeeld bygewoon deur Engelstalige blankes (met hulle Afrikaanse familie) en ʼn groep van swart mense wat dít in gemeen het dat hulle nie Zoeloes is nie. Hulle praat Sotho, Tswana of ander inheemse tale, maar hulle moedertaal is nie Zoeloe nie en hulle gemeenskapslewe is die van Amanzimtoti en nie van byvoorbeeld KwaMakhutha nie.[2] Hierdie soort nuwe “subgemeenskappe” begin waarskynlik al meer in alle voorstede van die land ontstaan en hulle het nie ʼn onmiddellike, nabye of “natuurlike” heenkome soos baie ander kultuurgroepe in die voorstede nie.

Voorstede (spesifiek die voorheen blanke voorstede) bestaan dus waarskynlik uit ʼn groep wat reeds by die kerke in die voorstad inskakel (dikwels net Engelstalige en Afrikaanse kerke), groepe wat uitry terug na voorstede waar hulle voorheen gewoon het om daar kerk by te woon (byvoorbeeld van Houghton terug na Soweto), groepe wat ry na nuwe kerke met ʼn spesifieke soort teologie en assosiasie (soos Rhema in Randburg en in Durban die Ethekwini Community Church van Vusi Dube), en dan is daar dikwels hierdie nuwe subgemeenskap van vreemdelinge wat nog nêrens ʼn tuiste gevind het nie. In die middestad groepeer hulle makliker, maar hulle woon ook in die voorstede en het ʼn behoefte tot gemeenskap.

As die kerk dus oor sy bediening in die voorstad nadink, is die vraag natuurlik of die kerk net die waardes nastreef van wat onderliggend aan die hele konsep en bestaan van ʼn voorstad lê, en of die kerk bereid is om ander waardes te verkondig en na te streef? Sal dit ʼn kerk kan wees wat die isolasie en privaatheid van die voorstad kan oorkom en ʼn ware gemeenskap kan vorm? ʼn Gemeenskap waar juis die vreemdelinge kan tuiskom?

Dit is dalk belangriker om hieroor na te dink op teologiese vlak as op praktiese vlak. Dikwels spring ons op praktiese vlak net na kortstondige kitsoplossings en las ʼn Engelse diens of ʼn multikulturele erediens by ons kerk se aktiwiteite. Dit raak dan op die lange duur ʼn soort ongemaklikheid wat moeilik is om te bestuur in terme van lokale en tyd en personeel. ʼn Ander gevaar (waarop Bartlett byvoorbeeld ook gewys het) is om ʼn multikulturele bediening na te streef asof dit ʼn doel in sigself is. Dit is nie waarvoor die kerk geroep word nie, maar om iets van God se teenwoordigheid in hierdie wêreld sigbaar te maak – op alle vlakke van die samelewing en nie net met kerklike aktiwiteite nie. Die kerk moet eerder ʼn unieke presence in die wêreld hê deur ʼn unieke gemeenskap te wees. Somtyds kan dit beteken om in ons bediening multikultureel te raak. Mag ons dan die moed hê om dit te doen en vreemdelinge te verwelkom.

Trackback from your site.

Leave a comment