Die Bemagtiging van die Amp van Gelowige in Missionêre Konteks

Written by Frederick on . Posted in Gemeentes

Nota:  Hierdie is ‘n opsomming van Poelf Pienaar se proefskrif by UOVS Roelf kan gekontak word by rjpienaar@absamail.co.za

Die Kerk se Roeping in tye van Verandering

In die veranderings wat daar in Suid Afrika plaasvind sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 is daar ’n baie groot behoefte dat die kerk duideliker die boodskap van hoop deur al sy lidmate op elke terrein van die lewe moet laat hoor.  Die wêreld, wat ’n paradigmaskuif beleef, het die christelike boodskap van hoop nodig want post-modernisme vul nie die leegte wat modernisme in die wêreld gelaat het nie.  Post-modernisme se verwerping van die normatiewe boodskap van die Bybel maak dit verder vir die kerk nodig om sy lidmate beter toe te rus vir die uitdagings van hierdie era.  Navorsing oor die plek en rol van gelowiges wat nie in ’n besondere amp staan nie is noodsaaklik in ’n tyd van verandering en sal die kerk se uitvoering van sy roeping en taak om die evangelie aan die wêreld te bring versterk.  Die gedagte aan die “bemagtiging’ van lidmate word in hierdie konteks dikwels gebruik.  Bemagtiging is die omvattende aktiwiteit van die kerk waarmee lidmate in staat gestel word om missionêr in die wêreld betrokke te wees.  In die vasstelling van wat bemagtiging vir die gelowige beteken is dit nodig om die volgende sake te ondersoek:
• Die missionêre konteks waarbinne die kerk homself bevind en die gereformeerde raamwerk van hierdie sending van die kerk;
• Die betekenis van die kerklike amp in missionêre konteks;
• Die bestaan van ’n algemene “amp” waarin alle gelowiges staan en wat die missionêre waarde daarvan is;
• Wat die betekenis is van die term “bemagtiging”, eers soos wat dit in nie-teologiese dissiplines gebruik word, en daarna die betekenis daarvan in die missiologie ten opsigte van die amp van die gelowige.

’n Eerste Verkenning van die “Missionêre Konteks”

Omdat “sending” sentraal staan en omdat die konteks waarbinne die kerk werk dit eis, is dit noodsaaklik dat die kerk hom voortdurend besig hou met die omskrywing van wat “sending” beteken en wie die subjekte van “sending” is en die metode waarvolgens dit gedoen moet word.  Die opdrag en belofte van Hand 1:8, teen die lig van die opstanding van Jesus en toegepas op elke gelowige, vorm die agtergrond waarteen die Vroeë Kerk sy sendingtaak begryp het en moet in die bemagtiging van lidmate ’n sentrale rol vervul.  Die konteks waarbinne die Vroeë Kerk gewerk het, het nie geverg dat die kerk baie aandag aan ’n volledige sendingbeleid gee nie en tog was daar duidelike trekke van ’n ontwikkeling in die kerk se siening van hierdie taak.  Die kerk het nie altyd sy sendingwerk goed begrond nie en daarom is alles uit die kerk se sendinggeskiedenis nie net positief nie.  Die term “sending” het sy ontstaan uit die kerk se leer oor die Drie-eenheid en die Missio Dei wat die verlossing van die mensdom, deur die herstel van die verhouding tussen God en mens in die oog het.   “Sending” moet die hele mens op ’n holistiese wyse met al sy ingewikkelde dimensies bekendstel aan die eskatologiese hoop en verlossing wat daar in Christus Jesus is.  “Sending” gebeur daar waar die kerk die grense, sigbaar en onsigbaar, tussen die evangelie en die verloregaande wêreld op so ’n wyse oorsteek dat die wêreld kan deel in die hoop wat daar is in Christus.  Alhoewel die “sendingwerk” van die kerk nie in een sin opgesom kan word nie moet dit, al is dit vanuit die waarnemer se oogpunt, so gestel word dat dit die hoop en bevryding wat daar is in die evangelie duidelik omskryf.

’n Gereformeerde Raamwerk vir ’n definisie van “Sending”

’n Gereformeerde definisie vir “sending” moet die volgende elemente bevat:

“Sending” is Missio Trinitatis en dit is in die eerste instansie die Vader, Seun en Heilige Gees wat uitreik na die wêreld om in die wêreld hoop te bring.  Jesus staan in God se sending sentraal en die hoop wat daar is in die Missio Trinitatis word bewerk deur sy gehoorsaamheid aan die kruis.  Na die hemelvaart van Jesus word die Missio Trinitatis deur die Heilige Gees voortgesit.  Die Missio Dei strek van voor die skepping af en word deur die Drie-enige God voortgesit tot herstel van die gebroke verhouding wat die mens se sonde veroorsaak het.  Die hoop wat daar is in God se “sending” is gerig op almal wat ly aan die gevolge van sonde terwyl God se geregtigheid met die oog op bekering verkondig word aan almal wat meedoen aan die verbrokkeling van hierdie hoop.  Jesus is die enigste Middelaar van die hoop wat God in die wêreld bring.  Die inhoud van die boodskap van hoop aan sondaars is dat herstelde verhoudinge met God, medemens en die wêreld moontlik is.  Die hoop wat daar is in God se sending word nie verdien nie maar word ontvang uit genade alleen, deur geloof in die bemiddelaar van hierdie hoop, Jesus Christus, deur die verkondiging van die Woord van God in woord en daad deur diegene in die besondere ampte en deur gelowiges wat nie vir ’n besondere diens geroep is nie.  Die ampte moenie net die Woord van God verkondig en die sakramente bedien nie maar moet toesien dat die evangelie oral versprei word.  Die uitdra van hoop geskied op ’n formele en informele wyse deur die hele kerk wat die werk van ampsdraers en nie-ampsdraers insluit.  Die rede vir “sending” is die verlossing van sondaars sodat hierdie verlostes God die Verlosser met volharding tot in ewigheid sal verheerlik en eer as ’n liggaam van verlostes.  Sending” is dus daardie multi-dimensionele aktiwiteite van die hele kerk van Christus, waarmee die kerk, op grond van die Missio Dei, die grense na die wêreld op so ’n wyse oorsteek dat God se eskatologiese hoop en verlossing in Jesus Christus alleen, vandag reeds realiseer vir diegene wat onder die gevolge van sonde ly.

Die Kerklike Amp in Missionêre Konteks

Die kerklike amp moet die onderwerp van studie bly sodat dit in elke era en tyd só ingerig kan word dat dit in nuwe tydskontekste en -eise steeds binne die Bybelse riglyne bly.  Die beskrywing van die amp volgens eie tyd en konteks moet geskied in die lig van die Missio Dei wat deur die kerk hoop en verlossing bring deur besondere en algemene gawes.  Die primêre betekenis van die term “amp” is “diens”.  Hierdie diens is egter nie net van ’n algemene aard nie maar geskied in opdrag van God met gesag wat van Hom afkomstig is binne die ruimte van die kerk as draer van die eskatologiese hoop en bevryding in Christus.  Christus regeer die kerk deur sy Woord en Gees.  Die Heilige Gees versorg die kerk deur die kerk voortdurend toe te rus met gawes aan indiwiduele persone sowel as gawes aan die gemeenskap van gelowiges.  Die ampte tel onder laasgenoemde gawes.  Alle ampswerk is diens maar alle dienswerk is nie amptelik nie.  Amptelike diens is ruimte skeppend vir alle diens wat aan Christus gelewer word in en deur sy liggaam, die kerk.  Daar is’n verskeidenheid van ampte met ’n onderskeid in opdrag en funksie.  In die verskeidenheid van ampte is daar egter’n eenheid in die diens aan die liggaam van Christus.  Die getal van ampte is nie primêr nie maar wel die oorsprong, doel en teologiese fundering van elke amp.  Die funksie van die amp is die toerusting van lidmate sodat alle gelowiges, lidmate en ampte in eenheid gesien, betrokke kan wees by:
–  die soeke na die eenheid in die kerk,
–  die oordra van die geloof van geslag tot geslag,
–  die barmhartigheidswerk van die gemeente, en
–  die toesig en tug van mekaar.

Die toerustingstaak van die amp sluit die toerusting vir die opbou én die uitbou van die gemeente in en dus het die amp ’n missionêre dimensie, alhoewel laasgenoemde nie primêr is nie.  Dit is die taak van die amp om die gemeente as deel van die een, heilige, algemene, apsotoliese kerk in staat te stel om sy doel en funksie in die Missio Dei te bereik deur intensionele dade van koinonia, kerygma, diakonia en martyria, nie net deur die ampsdraers alleen nie maar deur die hele kerk, tot verheerliking van die Hoof van die kerk.  In die Gereformeerde belydenisskrifte word daar baie gemaak daarvan dat die regering van die kerk ’n Christokrasie is waarby Christus self die ampte betrek.  Christus is teenwoordig in die regering van die kerk en word nie deur die ampte verteenwoordig nie.  Die Christokrasie van Christus word aan die hand van die Drie Formuliere van Eenheid in die Kerkorde van die NG Kerk in 2004 erken.  In hierdie Kerkorde word daar vir slegs drie ampte, te wete die ampte van leraar, ouderling en diaken, ruimte gemaak.  Die “dienswerk van al die gelowiges” word nie onder die opskrif “Die ampte van die kerk” genoem nie, maar wel onder “Die arbeid van die kerk”.

’n Gereformeerde Beskouing van die “Amp van die Gelowige” en die Missionêre Waarde daarvan

Daar is ’n sterk wisselwerking tussen die amp en die gemeenskap van gelowiges wat, indien dit verbreek word, sou lei tot ’n verskraling van beide en sou dit beteken dat die plaaslike gemeente nie aan sy doel en funksie beantwoord nie.  Alhoewel die term “amp van die gelowige” nie in die Drie Formuliere van Eenheid gevind word nie is die saak wel aanwesig en word die amptelike taak wat op elke gelowige rus verbind aan die ampswerk van Jesus Christus.  Alhoewel die term “amp van die gelowige” nie in die Bybel gebruik word nie en alhoewel die gevaar bestaan dat dit verkeerd gebruik of verstaan kan word, is daar genoeg ondersteuning ten gunste van die term.  Wanneer dit wel gebruik word moet die Bybelse inhoud daarvan omskryf word.  Die Bybel getuig in sake die Amp van die Gelowige:
• Dat God in Ou Testamentiese tye al alle lede van sy volk geroep het om ’n bemiddelingsrol te speel tussen Hom en die wêreld  (Eks 19:5 – 6);
• Dat God sy Gees gee aan alle gelowiges  (1 Joh 2:20 en 27);
• Dat die Gees van God van die kerk ’n koninklike priesterdom maak met die roeping van elke gelowige om die hoop in Christus in die wêreld te bemiddel  (1 Pet 2:9);
• Dat in die bemiddeling van hoop die woorde en dade van gelowiges nie van mekaar geskei kan word nie  (1 Pet 3:15);
• Dat elke gelowige die roeping het om sy of haar besondere gawes van die Gees te gebruik tot diens in die Missio Dei  (1 Pet 4:10);
• Dat geen gelowige oorgeslaan is met die uitdeel van die Gees of die gawes nie en dat elkeen sy of haar gawes onder die leiding van die Gees moet benut in die opbou en funksionering van die plaaslike gemeente (Rom 12:6 – 8;  1 Kor 12:7 en 25);
• Dat die besondere ampte die algemene amp moet toerus vir die diens wat elke gelowige moet verrig in die uitdra van die evangelie en die opbou van die kerk  (Ef 4:12).
Die besondere en algemene ampte is, sonder die oorheersing van die een oor die ander, in wisselwerking met mekaar sodat beide deur die beskikking van die Gees aangewend kan word in die uitbreiding van die koninkryk van God en die opbou van die liggaam van Christus.  Die inhoud en taak van die amp van die gelowige rus daarop dat elke gelowige geroep is om sy of haar eie verlossing prakties uit te leef met die gawes wat die Heilige Gees aan hom of haar gegee het.  Die christen is geroep om in die Missio Dei betrokke te wees by alle terreine van die lewe sodat die hoop en verlossing wat hy of sy reeds in Christus ontvang het, gedeel word met diegene met wie se lewe sy of haar lewe daagliks kruis.  Die eerste waarde van die amp van die gelowige lê in die vermoeë van die gelowige om as individu die wêreld met die evangelie te kan binnedring en die tweede winspunt is dat die uitleef van die algemene amp deur die hele kerk nuwe lewe bring in die plaaslike gemeente.

Die Benutting van Algemene Wetenskappe in Missiologie

Alhoewel die term “bemagtiging” al hoe meer benut word om die taak van die ampte ten opsigte van die amp van gelowige mee te omskryf is dit nie ’n woord wat sonder misverstand gebruik kan word nie en daarom moet die term goed omskryf word voordat dit in die kerk gebruik word of selfs heeltemal vervang moet word met ander terminologie.  In die gesprek tussen teologie en die algemene wetenskappe word die bona fides van beide wedersyds soms in twyfel getrek en daarom is die resultate van die een nie sondermeer bruikbaar in die beoefening van die ander nie.  “Wetenskap” is:
 Die Sistematiese versameling van kennis van ’n gedefiniëerde objek deur ’n subjek wat vasgestelde metodes daarvoor gebruik, met bepaalde doelstellings;
 Die objek maak deel uit van die hele waarneembare skepping van God, sigbaar en onsigbaar, en word ondersoek in verband met ander objekte wat deel uitmaak van die geskape werklikheid;
 Die subjek beoefen wetenskap vanuit ’n eie lewens- en wêreldbeskouing en ander vooraf definiëerbare voorveronderstellings;
 Die metodes vir die beoefening van wetenskap moet verifieerbaar wees en word nie beoefen in afsondering van ander dissiplines van wetenskap nie;
Die metodes van teologie is hoofsaaklik die kritiese nadenke en sistematisering van nadenke oor die objek van studie op so ’n wyse dat dit verifieerbaar is.  Die teoloog kan die resultate van die natuur- of algemene wetenskappe bestudeer en benut om te bepaal watter impak dit het of kan hê op die teologie, geloof en geloofshandelinge van gelowiges aangesien beide teologie en algemene wetenskappe deel uitmaak van die skepping van God en beide ’n gawe is van die enigste bron van kennis, naamlik die Heilige Gees.  Die teoloog mag wetenskaplike resultate nie bo die openbaring van God in sy Woord verhef nie aangesien beide teoloog en algemene wetenskaplike aan die sondeval onderworpe is.  Die benutting van algemene wetenskappe is ’n wyse waarop die missioloog die boodskap van die Bybel kan kontekstualiseer in sy eie tyd, en ’n manier om in gesprek met die wêreld ’n boodskap van hoop te kan bring.  Die boodskap van hoop handel oor God wat die hemel en aarde geskep het en steeds versorg en in stand hou.  Missiologie is daardie wetenskaplike handeling waarmee die sendingteoloog alle aspekte van die kerk se sendingtaak en die uitvoering daarvan deurdink vanaf die voor-wetenskaplike voorveronderstellings tot die uiteindelike uitdagings in die praktyk van sendingwerk.  Deur die missiologie word die konteks waarbine die teologie gepraktiseer word so ondersoek dat dit behulpsaam is in die kontekstualisering van die bevindings van teologie.  Vir die navorsing van die konteks waarbinne die kerk hom bevind en ter wille van die kontekstualisering van die teologie benut die missioloog ook nie-teologiese of algemene wetenskappe.  Die missioloog is voortdurend in gesprek met die wêreld waarbinne die boodskap van hoop gebring moet word.  Die benutting van algemene wetenskappe is tegelykertyd sending en kontekstualisering van die boodskap van hoop.

’n Definisie vir die term “bemagtiging”

Bemagtiging is daardie handelinge of prosesse wat ’n individu bevry van ’n onderdrukkende kultuur of struktuur en wat die individu met sy of haar waardes en norme so laat deel word van ’n nuwe gemeenskap dat die individu beleef dat hy of sy behoort en nie in die nuwe gemeenskap oorheers word nie maar self deel het aan die prosesse van die gemeenskap.  Voordat daar op ’n tipe of model vir bemagtiging besluit word moet daar deeglik vasgestel word:
– wat die spesifieke situasie is wat aanleiding gee tot die behoefte aan bemagtiging of wat aanleiding gee tot ’n belewenis van gevoelens van nie-behoort nie;
– hoe die gesagstruktuur lyk of wat die persepsies is rondom die gesagstruktuur waarbinne bemagtiging moet plaasvind;
– wie die gesagsvolle persone is in die waargeneemde gesagstruktuur, sodat bemagtiging by hierdie persone kan begin
Bemagtiging geskied deur strukturele verandering waardeur gesindhede, opinies en persepsies verander en is daarom ’n langtermyn proses en nie ’n vinnige oplossing vir uitdagings wat aan enige struktuur gestel word nie.  Toerusting en opleiding is ’n belangrike onderdeel van bemagtiging en is bemagtigend maar is nie gelykstaande aan bemagtiging nie.  Hoe meer die invloedsfeer van die objek van bemagtiging vergroot hoe meer verhoog die objek se betrokkenheid, houding, ingesteldheid en vebintenis aan die struktuur waarbinne bemagtiging geskied.  Bemagtiging word meestal bestuur deur diegene in die struktuur met mag en dit beklemtoon die onderdanigheid van die objek van bemagtiging en pogings tot bemagtiging lei tot gevoelens van magteloosheid.  Bemagtiging geskied in wisselwerking tussen die objek van bemagtiging as spesialis van sy of haar situasie en die subjek van bemagtiging as fasiliteerder in die verbetering van hierdie situasie.  Die interaksie tussen subjek en objek geskied met in agneming van die waardes en norme van die gemeenskap of struktuur waarbinne dit geskied op so ’n wyse dat die objek van bemagtiging ’n meer gewaardeerde rol kan vervul in die spesifieke gemeenskap of struktuur.  Die term “bemagtiging” hou vir sommige hoorders die gedagte van ’n politieke utopia in maar ware bemagtiging is nie die verskuiwing van ’n konstante hoeveelheid van mag in ’n gemeenskap of struktuur nie maar is die skep van meer mag en energie.  Bemagtiging is ’n proses van deelname en delegasie waarin delegasie lei tot ’n verbetering in die werker se werksprestasie aangesien hy of sy ervaar dat hy of sy in beheer is.  Die redes waarom bestuur by bemagtiging betrokke is moet baie duidelik uitgespel word sodat dit nie lei tot suspisies by die objek van bemagtiging nie.  Die verspreiding van inligting in die strukture waarbinne bemagtiging gebeur is baie belangrik.  In bemagtiging moet die mikro en makro konteks van die objek in berekening gebring word.  In die onmiddelike of mikro konteks speel dinge soos ondersteuning, die beskikbaarheid van hulpbronne en kontekstuele bestuurstelsels ’n baie belangrike rol.  Bemagtiging moet die betrokkenheid en betekenisvolle deelname van alle rolspelers insluit.  Menslike hulpbronne en vaardighede en die verbetering van toegang tot die aktiwiteite van die struktuur waarbinne bemagtiging plaasvind is vir suksesvolle bemagtiging noodsaaklik.  ’n Baie hoë vlak van vetroue tussen die betrokke partye en egtheid, kreatiwiteit en eenvoud is van groot waarde sodat konstruktiewe verandering van strukture die ontmagtigde kan bemagtig.  Die behoorlike omskrywing van die rolle van alle betrokke partye en ’n proses van mentorskap kan meewerk tot die die meetbaarheid van die proses.  Die fokus op die belange van die individu binne die konteks van die kollektiewe belange van die struktuur kan tot suksesvolle bemagtiging lei indien ’n sterk kern van waardes, wat te midde van die veranderings wat deur bemagtiging teweeggebring word, onveranderd bly.

“Bemagtiging” as ’n missionêre praktyk in die kerk

Postmodernisme se verwerping van algemeen geldende waarhede en die gepaardgaande soeke na individuele waarhede skep vir die kerk geleenthede waarin die bemagtiging van die amp van die gelowige die invloedsfeer van die gelowige in die wêreld kan vergroot.  Met die kernwoord “mag” is “bemagtiging” egter ’n gelade term om in die kerk op ’n naïewe wyse aan te wend.  In die kerk se benutting van die term “bemagtiging” moet daar wegbeweeg word van mag of gesag en moet daar eerder gefokus word op die einddoel van die proses as die vergroting van die vermoeë tot diens en die invloedsfeer van die gelowige in die wêreld.  Alle mag behoort aan God as die Skepper van die wêreld.  Hierdie mag wend Hy in die konteks van die verbond aan met die oog op die herstel van alle in sonde gevalle mense.  Daar is geen gesag buiten die gesag van God nie.  Hy dra aspekte van hierdie gesag aan gelowiges en die geloofsgemeenskap oor deur Jesus se nalatenskap van ’n lewende geloofsgemeenskap, sy tradisie van lering en die voortgesette werk van sy Heilige Gees.  Hierdie drieledige nalatenskap van Jesus dra gesag oor in die konteks van die die Bybel, die kerk en sy tradisies, menslike rede en ervaring.  Om deel te hê aan die mag wat aan God behoort buite hierdie struktuur is destruktief vir die mens.  Mag wat van God af kom word deur die gelowige geïnternaliseer deur die ontvangs van genade en geloof.  Indien dit nie langs hierdie weg geïnternaliseer is nie sal dit misbruik word en lei dit nie tot gevoelens van “behoort” nie maar eerder tot ’n belewenis van vervreemding en ontmagtiging.  Bemagtiging gaan in die eerste instansie oor die eer van God deur die verhoging van die verbintenis en dissipelskap van gelowiges in so ’n mate dat hulle die waarheid van die evangelie daagliks in hulle lewens sal uitleef en vertel.  Die oogmerke van bemagtiging lê op twee vlakke.  Op individuele vlak is dit gerig op die gevoel van behoort (“sense of belonging”) van die gelowige.  Op korporatiewe vlak is dit daarop gerig om gelowiges as die liggaam van Christus in staat te stel om nie net getuies van die evangelie te wees nie maar om ’n nuwe gemeenskap te wees te midde van die gebrokenheid van die wêreld.  Die oogmerke van korporatiewe bemagtiging as aktiwiteit van die kerk is om die geloofgemeenskap te begelei tot ’n missionêre begrip van die Bybelse openbaring, ’n pastoraal-profetiese teenwoordigheid in die wêreld, ’n uitleef van ’n eie sowel as ekumeniese roeping en ’n besef van kerkwees in sy bymekaarwees en in sy verspreidwees as sout, lig en suurdeeg in die wêreld.  Bemagtiging is om lidmate te begelei om ’n christelike leefstyl te handhaaf wat van hulle in die openbare lewe mense met groot invloed tot herstel van die wêreld sal maak.  Met die oog hierop moet die kerk fokus op ’n aanbiddingstyl, Bybelstudie en geestelike toerusting wat bemagtig deurdat dit korrigeer, inlig, inspireer en die bedieninge van gelowiges ondersteun.  Bemagtiging bestaan uit praktiese meetbare aksies van ’n gemeente om die gehalte van dissipelskap van christene te verbeter. 

Hierdie askies sluit onder meer in:

• die toerusting van gelowiges wat gerig is op die oorvertel van die evangelie op so ’n wyse dat dit die postmoderne mens aanspreek;
• om gelowiges opnuut die waarde van persoonlike stiltetye saam met die Here te leer en om gelowiges te leer om meer vertroue in die werk van die Heilige Gees as in die werk van mense te stel;
• eredienste wat gelowiges hulle plek in die Missio Dei laat beleef deur lofprysing, aanbidding, prediking en getuienis;
• die verandering van persepsies en gesindhede van beide lidmate en kerkleiers.  Veranderings van persepsies van en oor laasgenoemde is deurslaggewend vir die sukses van bemagtiging

Trackback from your site.

Leave a comment