{ARGIEF}

Die Groot storie van God met die mens

Kix en die Kinderbond is nou amptelik een. Ons is so dankbaar om te sê dat ons al die nodige toestemming het om uiteindelik ons bediening saam te doen. Ons is van mening dat beide handelsmerke goed gevestig is by die kinders en daarom kan jy maar praat van die Kinderbond, van KIX, van die Kix.Kom of die Sonstraaltjie. Ons lesse vanjaar is alreeds ’n vrug van hierdie eenwording.

Ons bediening kry vlerke.

Ons is dankbaar om te sê dat twee van ons buursinodes amptelik weer by ons kinderbediening ingeskakel het. Ons het reeds verteenwoordigers van die Noord-Kaap wat ons help skryf en nou het ons die goeie nuus gehoor dat dié Sinode hulle amptelik afvaardig en opdrag gee om dié bediening ook in die Noord-Kaap te vestig. Net so het ons op die UK ook verteenwoordiging uit die Oos-Kaap. (Christine en haar man het daarheen verhuis.)

Verlede jaar se projek:

Tyd loop so vinnig aan. Wie kan nog onthou wat verlede jaar se projek was? Dit was die projek: “Vertel, vertel!”. Ons het geld ingesamel vir die “Vertel, vertel!”-Bybel wat in Zoeloe vertaal is. Hierdie Bybels gaan ons stuur na Msinga en Makhathini.

Teen druktyd het ons reeds die mooi bedrag van R 51 490.70 ingesamel. Ons weet daar is altyd nog gemeentes wat bydraes instuur. Julle is welkom om dit spoedig in te stuur sodat ons dit kan deurstuur. Met hierdie geld kan ons al amper 900 Bybels koop. Dit beteken 900 gesinne gaan blootgestel word aan die Bybel in hul eie taal. Dis eenvoudig geskryf sodat laerskool kinders dit vir hulle ouers kan lees. Dit gaan dus deur die skole versprei word en die kinders kan die “boek” gebruik om hulle lees te oefen en so kom die stories van ons wonderlike Here ook in die huise van Msinga en Makhathini.

Ek weet ons moet nie uitsonderings maak nie, maar ai, dis so wonderlik hoe die Here ook die harde werk van individue raaksien en dit seën dat dit tot seën van ander kan wees. Piketberg se KIX het vanjaar so gewoeker dat hulle R15 000 kon insamel. Boesmanland het ook nie lyf weggesteek nie en kon R5 000 bydra. Welgemoed het die mooi bedrag van R5 232 ingesamel en Hantam het R3 000 bygedra.