Die kerk is HIV positief

Written by Besoeker on . Posted in Gestuurdheid

Julle weet nou al teen hierdie tyd dat ek in Lusaka is. Ons is hier vir die byeenkoms van die Mission in Western and African cultures, ‘n projek waarvan ek nou al drie jaar deel is nou vir die eerste keer in Afrika bymekaar kom.

In die Afrika konteks is HIV/vigs en armoede van dié mees vanselfsprekende missionale uitdagings, uitdagings waaraan gemeentes in Canada en Australie, ja en Stellenbosch nie noodwendig dink nie. Om die rede is daar by ons byeenkoms ‘n verskeidenheid van interaksies met mense wat HIV positief is en ook gemeentes wat ‘n bediening het aan HIV positiewe mense.  Dit is nie die eerste keer wat ek luister na die getuienis van mense wat HIV positief is nie, maar hierdie keer het dit my baie diep geraak.

Akim Sakala is ‘n onderwyser wat van in sy 50’er jare, in alle opsigte ‘n waardige man.  Hy vertel van die ontnugtering waardeur hy gegaan het toe hy siek geword het en ontdek het dat hy HIV positief is. Na behandeling het hy sodanig herstel dat hy  kon voortgaan met sy werk as onderwyser in die skool. Hy is deel van ‘n inisiatief Circles of hope, ‘n ondersteuningsprogram aan HIV positiewe mense van die Zambiese Raad van Kerke onder leiding van dr Japhet Ndlovu. As deel van die program het Akim op nasionale televisie deel geneem aan ‘n program oor HIV/vigs.  Die kinders by die skool het hom op TV gesien en hy het die vrymoedigheid geneem om in die saalbyeenkoms van die skool oor sy positiewe status te praat en stigmatisering so te probeer afbreek. Circles of hope is so suksesvol dat die persentasie van HIV positiewe mense dramaties afgekom het in Zambië.

Ester is op die ouderdom van 14 gedwing om te trou en het later weggeloop van die man wat sy nie liefhet nie. Ook sy sou later na ‘n lang siekbed ontdek dat sy HIV/positief is.  Gertrude is HIV positief en het vier kinders aan die dood afgestaan, voordat sy verstaan het wat aangaan.  Terwyl hulle praat en later toe ons die Garden gemeente van die ZRC (Zambian Reformed Chuch) in ‘n slum area van Lusaka besoek,  bly ek dink aan die publieke getuienis van die kerk. HIV positiewe mense in Zambië, het ek ervaar is nie met bravado besig om te protesteer nie, aan die ander kant kruip hulle ook nie weg nie maar lewer hulle ‘n vasberade getuienis as kwesbares. Van die gemeentes wat ons besoek het ‘n hoederboerdery begin om hulle Circles of hope program mee te finansier!

Dit is veral die verhale van die vroue wat my baie diep geraak het.  In ‘n samelewing waarin hulle byna geen regte het nie, en dikwels gedwing word in ‘n huwelik teen hulle wil, of in ‘n samelewing waar gedwonge seks aanvaarbaar is, kan  ’n mense hulle  nie anders beskryf as kwesbare mense nie.Dit is juis vanuit hierdie kwesbaarheid dat hulle publieke getuienis my so aanspreek.

Ek kon nie anders dink as aan die 70 in Lukas 10 wat gestuur word soos lammers tussen wolwe in nie.  Hulle getuienis  verbeeld hierdie kwesbare gestuurheid.  Dit is die teenpool van die Christendom model waar die kerk vanuit ‘n (geinstitusionaliseerde) mags-posisie mense oortuig (lees dwing) tot deelname. Hoeveel tyd en geld spandeer ons nie steeds aan hierdie vorme van openbare getuienis om die Christendom te verdedig in die samelewing nie. Christen vroue in Afrika wat in die slums van die stede woon en HIV positief is, is in alle opsigte kwesbaar. So ook ‘n onderwyser wat voor die skool opstaan en openlik praat oor sy HIV status en hoe geloof hom hierdeur dra. Hierdie kwesbare getuienis het veel meer integriteit as baie van ons uitreik- en evangelisasie-programme.  Ons word gestuur as lammers nie as leeus nie.

Ester sluit haar getuienis af deur te sê, soos wat sy dit verstaan is die kerk in Zambië HIV positief! Kwesbaar, maar vasberade openbare getuienis. Terwyl ons deur die slums van Garden ry, die mees ondenkbare onmenslike situasie wat vanuit my wêreld geen hoop hoegenaamd inhou nie, dink ek aan wat Brueggemann se sy boekie: Hope in History skryf. Die hoop van die evangelie, skryf hy, sal op die ashope van die wêreld gevind sal word.

Toe Gertrude haar huis vir ons wys, se sy, sy sal verstaan as ons nie wil ingaan nie, want hulle is maar arm mense, maar as ons wil is ons baie welkom om in te kom. Ons gaan een-een in want die huis is een klein kamertjie.

Trackback from your site.

Leave a comment