Die kerk vir ander

Written by Frederick on . Posted in Preekstudies

Die beeldspraak ten opsigte van “sout, lig en suurdeeg” wat Jesus meermale gebruik het, druk elkeen op een of ander wyse die gedagte van indringing en oorsteek van grense uit. Van uitwaarts beweeg! Elton Trueblood sê oor hierdie drie metafore: “The most surprising thing is that each of these is frustrated in its true function whenever it is saved, because the essence of each is that it is radically expendable (besteebaar, verhandelbaar, opofferbaar)”.

Een van die diepste elemente van die groot beweging van God se barmhartige soeke na die mens, is die onontbeerlikheid van die swakke getuie, van die magtelose verteenwoordiger van die boodskap, sê N.P. Moritzen. Die mense wat gewen en gered moet word, behoort so te sê altyd die moontlikheid te hê om die getuie van die evangelie te kruisig. Want dit is juis híér waar die teologiese en praktiese regverdiging vir die idée van “die kerk vir ander” te vinde is! Het Christus dan nie juis in sy lyding en sterwe die ware Sendeling – vir ander – geword nie?

Dietrich Bonhoeffer skryf in Mei 1944 uit die gevangenis na aanleiding van die geboorte van sy peetseun, dat ‘n kerk wat in hierdie tyd slegs vir haar eie voortbestaan veg asof dit doel op sigself sou wees, onbekwaam is om draer van die woord van versoening en verlossing te wees. Vir ‘n tyd lank sal die veelvuldige woorde wat die kerk vroeër gebruik het, eers kragteloos moet word en verstom, en sal ons Christenwees uit slegs twee elemente bestaan: in voorbidding en in die doen van geregtigheid onder die mense. Is dit nie vandag steeds waar nie?

In 1945, enkele maande na die val van Nazi-Duitsland, het die Duitse kerke in die Stuttgartverklaring gesê: “Ons kla onsself aan omdat ons nie moediger getuig, getrouer gebid, vreugdevoller geglo en vuriger liefgehad het nie.” Híéraan herinner ek myself al meer!  

Trackback from your site.

Leave a comment