Die reis na binne

Written by Frederick on . Posted in Transformasie

Hy vertel oa in die berig oor ‘n gesprek by die Helde-akker in Windhoek met  Ben Khadila ‘n oud Swapo-vegter en vandag komm. Ben Khadila, bevelvoerder van die Namibiese spesiale magte: Ek en Ben Khadila het eenkant gepraat oor sy lang jare in die bos as ’n Swapo-vegter. Ben het geamuseerd om hom rondgekyk en met ’n effense glimlag gesê: “Daar is geen oorwinnaars hier vanaand nie. Vrede is die enigste oorwinnaar.”

Dit is nie moeilik om uit die berig agter te kom dat die “reis” werklik helend van aard is vir soldate wat wil vrede maak met hulle geweldadige verlede en sekerlik ook met die vrae oor die regverdigheid van die oorlog wat so baie van ons lewens op soveel verskillende maniere geraak het.

My vraag is nie in die eerste plek oor die spesifieke doel van die projek nie, maar het te make met die bereidheid van oud-soldate om die reis na binne te onderneem. In dieselfde uitgawe van Rapport word vertel van die NG Kerk wat jaarliks 10588 lidamte verloor! ( http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/NG-Kerk-verloor-10-588-in-n-jaar-20101106 ) Ons kan ‘n ander dag oor hierdie statistiek praat. Agter die statistiek is daar mense se verhale baie ook van pyn en verlies. Predikante wat hulle werk verloor, geboue wat verkoop word, lidmate wat die kerk waarin hulle grootgeword het verlaat. Soos in die geval van die oud-soldate is hier ook verhale wat roep om genesing, wat vra na ‘n reis na binne.

By beide die berigte is daar stringe komentare binne enkele ure gepubliseer. Dit is ontstellend om dit te lees omdat meeste daarvan getuig van woede, telleurstelling, verwyte en is sommer net gewoon beledigend. Die kommentaar is meestal van mense wat ander mense en instellings verwyt vir wat hulle verkeerd gedoen het in die verlede. Die NG Kerk word met vennyn beskuldig van allerlei politieke en geestelike en teologiese dwalinge en sommer net daar afgeskryf. Nogal sleg om dit te lees, maar ek dink meeste van ons sal verstaan dat dit is hoe dit lyk wanneer mense geraak word deur ‘n diep samelewingstransformasie waar die foute van die verlede nie weggesteek kan word nie.

Ek dink die oud-soldate het met iets begin waarby ons almal kan leer. Hulle het nie die vinger na ander gewys nie, maar self op reis gegaan na binne om sin te probeer maak uit die trauma van die verlede.  My indruk is dat hulle dit met deernis doen teenoor almal – in die woorde van oud-soldaat Blackie  “’n Mens besef nou… Elke ou wat jy doodgeskiet het, het ook ’n ma of ’n pa, ’n broer of ’n suster gehad.”  Ook Roland de Vries sê prontuit: “Elke man (later ook vrou) tel.”

Ek kom by baie gemeentes waar daar nog met vrymoedigheid vinger gewys word en ‘n sondebok gesoek word. Hoewel ‘n mens die woede agter die verlies-ervarings van leë kerke en bankrekeinge verstaan, kan ons dit nie daar laat sonder om almal saam die reis na binne te onderneem nie. Ons moet eenvoudig deur die woede en die verwyte kan werk om saam ‘n nuwe toekoms te kan ontvang.

Wat my die meeste verwonder van die oud-soldate is dat hulle verstaan dat dit nie ‘n kopstorie alleen is nie, maar ‘n storie van die hart en die hand. Op hulle reis is daar duidelik ruimte om deur die emosies te praat, maar verder om ook die verlede fisies in die oë te kyk en onder die kremetartboom in Angola te gaan staan en saam die trauma te beleef en daardeur te werk.

Ek hoop ons is in ons gemeentes dapper genoeg om as deel van die krimpende kerk die reis na binne te onderneem om so gereed te raak om ‘n nuwe toekoms te kan ontvang!

Trackback from your site.

Leave a comment