Die smet van diversiteit as andersheid

Written by Frederick on . Posted in Artikels

Diversiteitsberaad van die Noordelike Sinode Mei 2009

Dit is met sy hantering van diversiteit dat die Afrikaanse kerke moontlik die land die meeste in die steek gelaat het. Besprekings van diversiteit gaan maklik oor in ‘n lofsang vir die kleurvolle, multikulturele verskeidenheid in die reënboogland. In die veelkleurige nasie omhels ons almal mekaar en vier ons gemeenskaplikheid met respek vir ons verskille. Diversiteit beteken egter helaas basies om anders te wees, en andersheid is en was juis die oorheersende, treurige geskiedenis daarvan in ons land. Hierdie inleiding gaan daarop konsentreer en nie op die harmonie waarvoor ons almal respek en waardering moet hê nie. Die positiewe benadering sal wel tydens hierdie beraad genoeg aandag kry.

Gesant van God

Mens sou jou na oom Angus Buchan se magtige saamtrekke kon voorstel wat sou gebeur het as e-posse en sms’e deur die land heen begin flits het oor ‘n naamlose gesant van God wat aan mense begin verskyn het. Hy is hier om sy nuwe kerk vir Christus te stig. Hy sal oor twee weke in ‘n dorpie opdaag. Sommige begin bespiegel hy is die Messias, ander hy is ‘n profeet, ander hy is mal. Mense ruk in hulle duisendtalle soontoe op.
Na talle gerugte en groot afwagting stap die gesant uiteindelik tussen ‘n skare deur die markplein binne. Heelparty strek hulle arms in ‘n gebaar van verering na bo toe hulle sy lang hare en baard sien.
Hy vra in ‘n sagte stem: “Wie wil by my  kerk aansluit?” Die skare storm gretig nader.
Hy vra vir elkeen ‘n paar vrae, dan besluit hy. Vir ‘n lidmaat van die pas gestigde Nederduits Protestantse Gereformeerde Hervormde Kerk bevind hy: “Ons kan helaas nie met julle kerk meng nie. Julle is nie Bybels gereformeerd nie en dus sektaries.” Vir ‘n swart vrou sê hy egter dadelik: “Ousie, jy is welkom as ‘n sendinglidmaat. Ons reël vir jou ‘n garagediens in jou taal sodra jy Sondagmiddae klaar vir die miesies gewerk het.” Vir ‘n vrou wat wil dien: “Dametjie, jy is ongelukkig nie manlik nie en kan dus nie in alle ampte ‘n ampsdraer wees nie. Jy mag wel vir ons geld insamel.” Vir ‘n man met ‘n oorring: “Vriendjie, jy is nie heteroseksueel en selibaat nie, en dus ‘n gay en gedoemde sondaar. Ons bid wel vir julle.”
Niemand waag meer vorentoe nie. ‘n Waardige NG-ouderling in ‘n swart pak tree nogtans na vore en roep uit: “Halleluja! Nou weet ons u is waarlik ‘n wegbereider vir onse kerk en ‘n gesant van God!”
U dink natuurlik dadelik aan Nietzsche se mal man wat op die markplein verkondig het: “God is dood! Ons het Hom doodgemaak!” Mag hierdie moord nie in die naam van diversiteit gepleeg word nie. In Europa stroom veral jong mense weg van die kerk. Waarom?

 

Anders-wees en jou naaste

Vir soveel mense het die kerke, en in die besonder ook die NG Kerk, jare lank help beaam: jy is “die ander”. Jy is anderskleurig, anderskerklik, andersgeslagtelik, andersseksueel, anderstalig, anderskultureel, anderspolities, andersstatus, andersvolkig, andersdenkend, andersjarig, anderssoortig.
Vir die oorgrote meerderheid van diegene wat “anders” is, is daar ‘n bitter pil onder die suikerlagie van diversiteit as ‘n lofwaardige verskeidenheid wat gevier moet word. Vir hulle is apartheid, seksisme en homofobie steeds ‘n lewende en mensonterende ervaring. Hoeveel vrome Christene kan of wil hulle indink in die pyn en verskrikking van iemand wat soos ‘n uitgeworpene deur die vromes behandel word? Hoeveel begrip is daar vir die vernedering en smet van iemand wat ‘n etiket kry en onaanvaarbaar in die binnekring van gelowiges is?
Hoe vreemd dat daar in die kerk relatief so min kritiese aandag geskenk word aan die tweede groot gebod: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Miskien is dit tog nie so vreemd nie, want maar te dikwels beteken diversiteit ongemaklikheid. Ons voel ongemaklik in ons omgang met die ander, andersheid. Die duidelikste teken daarvan is die talle grappies daaroor. ‘n Grap word dikwels bedoel as ‘n soort skadeloosstelling en verontskuldiging. Solank mens oor iets lag, hoef jy dit nie so enstig op te neem nie.
Daar is ‘n hele galery van standaardtipes waaroor grappies gemaak word: die dom houtkop wat alles breek, die jollie dronk hotnot, die dowwe blonde koekie, die slaphand-gay, die Doppers wat nie seks mag hê nie omdat dit tot dans kan lei . . .
Luister maar na ‘n paar grappies. Jonas gly bo in die put en val. Sy werkgewer roep ondertoe: “Jonas, het jy iets gebreek?” Die antwoord: “Nee, Baas, ek het nou net geval.”
Nadat jy gelag het, tel hoeveel verhoudings van andersheid daar in die grappie is.
Of kom ons dryf andersheid op die spits. ‘n Papegaai ontsnap uit sy hok en omdat hy nie goed kan vlieg nie, fladder hy in die straat af. Jonas sit die voël voor hom op sy fiets agterna. Hy gryp-gryp en die papegaai fladder verder weg. Toe Jonas langs hom kom en sy hand uitsteek, skreeu die papegaai: “Voertsek, kaffer!” Jonas val byna van sy fiets af. “Askies, Baas, ek dog Baas is ‘n hoender, Baas.”
Ons lag en keer daarmee die angel van onsself weg.

Kerndefinisie

Waarvan praat ons werklik by hierdie beraad as ons nie papegaaitaal praat nie? Een van die definisies wat vir die doel van hierdie bespreking die bruikbaarste is, lui vertaal soos volg: divers – verskillend, ongelyk, anders as, afsonderlik, in verskillende rigtings, in teenstelling met.* Hier ontbreek die positiewe konnotasies van multikulturele verskeidenheid en die benutting van onderlinge verskille wat in talle omskrywings en benaderings beklemtoon word
Ons lewe in ‘n tydvak waar daar nie meer verskoning is dat ons nie die toerusting het om andersheid te peil en beskryf nie. Die postmodernistiese fragmentering van betekenis is immers juis daarop ingestel om andersheid in alles van taal tot strukture in te sien. Betekenis en gesag is nie meer onveranderlik en sonder vrae vasgevang nie. Selfs gesiene Afrikaanse teoloë word nou al as die ander gesien omdat hulle vrae oor byvoorbeeld die historiese Christus vra.
Die kerk wat gewoonlik so konserwatief is, het ook aangepas. Al minder sien ‘n mens dat die dominee in swart die finale woord namens God vanaf sy hoë preekstoel predik. Hy is nie meer die enigste gesaghebbende vertolker tussen die Groot Ander en Sy gemeente nie. Gesprek kom in die rol van stellings, vraagstelling in die plek van finale sekerhede.
Die hele praktyk van dekonstruksie bevraagteken boonop binêre opposies soos ons/ander, goed/sleg, reg/verkeerd. Kodes soos ons/goed/reg word nie meer so maklik outomaties in die diskoers bevoorreg nie. Meesterkodes van ras, geslag, seksualiteit en so meer bepaal dus nie meer noodwendig sonder kritiek die aard van bevoorregting in die groter gesprek of diskoers nie.
Ons behoort vanselfsprekend ons kritiese toerusting te gebruik om ons instelling teenoor ons naaste te ontleed. Veral die een met die swart, bruin of geel vel. Dus die ander.

‘n Nuwe samelewing sonder andersheid?

‘n Veranderde tydsgees en diskoers beteken nog geensins ‘n veranderde samelewing nie. Die 1990’s het die ideale geleentheid vir die oorsteek van grense gebied. Kommunisme het soos die Berlynse muur in duie gestort, globalisme het die hele nuwe wêrelddorp verander. Godsdiens het ideologie in lande soos Indië en Turkye begin vervang, en dit kan ‘n algemene tendens word. Die godsdienstige swaartepunt het na die suide en ook in die besonder Afrika verskuif wat toenemende getalle betref. Ook Suid-Afrika het juigend ‘n nuwe reënboognasie begin vorm.
Waar is ons vandag?
Thabo Mbeki se binêre skeiding tussen wit en swart nasies is helaas op talle vlakke wel steeds die werklikheid. Kerkeenheid word deur dinge soos ‘n moratorium op gespreksvoering en die sjibboletwoord Belhar verongeluk. Daar is slegs spierwittes op die meeste NG-kerkbanke. Hier en daar word vrouens in die hoogste kerklike ampte toegelaat.
In sy bespreking van diversiteit vir die Gemenebes bevind prof. Desmond Cahill**  van Australië tereg die wêreld het sy kans vir brugbou in die 1990’s verspeel. Hy hou veral plaaslike geloofgemeenskappe verantwoordelik. “All local faith communities need to develop their own theologies of ‘the other’ and ‘the different’, and interrogate their traditions for attitudes such as ‘other religions are the work of Satan’.”
Hoeveel plaaslike geloofsgemeenskappe is in wese steeds maar apartheidsgemeenskappe? Daar is nie meer institusionele apartheid nie, maar wat met ons bly, is ‘n apartheid van die gees. Dit behels ons houdings, voorkeure en veral afkeure, en oënskynlik klein dingetjies soos ons grappe, aanmerkings en snedige veralgemenings. Hulle is die klein jakkalsies wat die wingerd verniel. Wanneer hulle op hulle onskuldigste lyk, bied hulle die beste vastrapplek vir die sondes van liefdeloosheid en veroordeling.

Wat doen geloofsgemeenskappe?

Hoeveel doen gemeentes om die wese van “andersheid” onder lidmate te peil? Volstaan hulle deur bloot te aanvaar apartheid is verby? Heelwat insig in ‘n geloofsgemeenskap kan deur gestruktureerde gesprekke verkry word.
‘n Bekende tegniek by interkulturele werksessies is om die in-groep van die buitegroep te onderskei. Die eerste vraag is: Wat is die kenmerke van die groep met wie ek die meeste identifiseer? Tipiese antwoorde is: wit, Afrikaanssprekende Christene, godsdienstig, gesinsmense, met hoë waardes, hardwerkend.
Dan die vraag: Wat is kenmerkend van die groep wat die meeste van my verskil? Tipiese antwoorde oor die buitegroep wat ek selfs na 1990 gereeld in sessies gekry het, is: Afrikataalsprekende swartes (dikwels Zoeloes), met min morele waardes, dikwels korrup, onbetroubaar en lui.
Die volgende logiese vraag is: watter soort mense kan jy nie as jou naaste aanvaar nie? Natuurlik kom die antwoord: moordenaars, verkragters, rowers . . . Oor die implikasie van die velkleur hoef daar nie gevra te word nie. Nadat daar geantwoord is, die vraag: Wie het Christus as sy naaste aangedui, veral aan die kruis? Of meer: Wat was Jesus se velkleur waarskynlik?
Dieselfde soort vrae kan maklik oor verskeie soorte “andersheid” aangepas word: seksuele oriëntasie, geslag, kerkverband, ensovoorts. Hoeveel indringende gesprekke oor hierdie terreine reël die kerke? Weet ons hoe groot die behoefte daaraan is, naas en saam met die altyd gewilde Bybelsturdie? Hoeveel keer word Bybelstudie gebruik om andersheid te belig?
Volgens Cahill moet geloofsgemeenskappe kultureel wees in die sin dat hulle sosiale kapitaal moet skep en onderhou. Dit word veral deur brûe en verbandlegging gedoen; ook die aanvaarding van die ander. Sulke gemeenskappe behoort gevolglik almal kruiskultureel te wees, dus met ‘n uitwaartse oriëntasie wat deel is van die universalisme wat die egte wese van alle religieuse tradisies is. Hulle behoort egter ook kontra-kultureel te wees deurdat hulle die dwalinge van almal vanaf die regering na individue moet uitwys wanneer hulle agter vals gode soos mag, geld, seks of wat ook al aanloop.
Waar was die plaaslike kerk en geloofsgemeenskappe met die gruwelikste van alle uitwasse vanweë andersheid, naamlik die onlangse xenofobiese haat- en moordveldtog? Wie het namens gelowiges gepraat toe die Dalai Lama uit die land geweer is om ‘n Kommunistiese boelieland te paai? Hoeveel protes was daar toe president Jacob Zuma sommer namens Christene selfs as ‘n Messias as lid van die in-groep ontvang is, met God volgens hom aan sy party se kant?
Biskop Paul Verryn is moontlik die enigste geestelike wie se kerkdeure heeltemal oop is vir duisende buitelandse vlugtelinge en slagoffers van xenofobiese aanvalle. Hy het pas aan Beeld gesê wat die wortel van die kwaad is: “Die vrees vir die ander.” Dit het duidelik volgens hom ook ‘n ras- en klasdimensie. Armes en swartes word geteiken. Selfs taal is duidelik ‘n faktor vir andersheid: ‘n derde van die moorde was op Suid-Afrikaners wat een van die algemene inheemse tale nie kon praat nie. Dit was die merkteken van die dood. “Sjibbolet” was volgens Rigters 12 die bepalende woord waarvolgens taal- en kultuurgroepe onderskei en as die ander uitgeken kon word.
Sê nou die ander is deur ons kerkmense getoets en hulle kon nie Afrikaans praat nie?
Stel jou voor dat die magtige NG-megakerk Moreletapark sy deure vir die ontheemdes, vervolgdes en ellendelinge oopgooi, soos Verryn in Johannesburg. ‘n Kerk vir derduisende as ‘n toevlugsoord vir verstotelinge sonder ‘n dak oor hulle koppe! Dit terwyl honderde vlak langs hulle onder enige moontlike skuiling in die reën en koue plak. Maar nou ja, die megakerk vind selfs sogenaamde gays onaanvaarbaar in hulle geledere en het boonop ‘n program om hulle van hulle dwaling te genees. Dit was vir my ontnugterend om self onder hulle sensuur van andersheid deur te loop, al het ek bloot met gays gesimpatiseer. Soos hulle musiekdosent kon ek ook nie aan hulle destydse kunste-akademie skeppende skryfwerk doseer nie. D.J. Opperman het boonop gewaarsku: kuns is boos!

Die bose kringloop

Seker die grootste uitdaging vir plaaslike geloofsgemeenskappe is om die bose kringloop van stereotipering en verwerping te ontleed en deurbreek. Die sirkel word daagliks in gesprekke oor “hulle”, dus die ander, bevestig. Daar is nou reeds soveel konsensus oor wie “hulle” is dat groepe selfs nie binne wisselende kontekste genoem hoef te word nie.
Mens hoor gereeld: Hulle is ‘n vrotsige regering met ‘n korrupte staatshoof. Hulle is moordenaars en rowers wat ons geteiken het. Hulle saboteer ons met dienslewering, taal, onderwys en wat nog. Ons probeer kerkeenheid kry, maar kyk wat is hulle houding. Mens kan nog probeer verstaan hoekom mense gay is, maar hulle is volkome promisku en maak seksualiteit banaal.
Die bose kringloop het ‘n duidelike aanloop en voltooiing. Die basis by Afrikaanssprekendes is frustrasie gebore uit onmag omdat al die belangrikste soorte mag prysgegee is. Die ander het op talle vlakke mag oorgeneem. Daar is volkome wettige griewe, van misdaad tot dienslewering. ‘n Sondebok is nodig en die ander het ‘n duidelike profiel van veral velkleur, dus is daar dadelik stereotipering. Dit dra min gewig om een persoon te blameer, dus word daar veralgemeen. Sodra nog ‘n individuele onreg opduik, bevestig dit dan die veralgemening.
Dit gebeur maar te maklik dat die gestereotipeerde ander ook gedemoniseer word. Hy word iets uit ‘n nagmerrie: ‘n swart figuur wat jou veilige huis en ruimte binnedring om te verkrag en te moor. Vrouens wat deur ‘n swartman verkrag is, getuig maar te dikwels dat hulle daarna alle swartes vrees en selfs alle mans vermy. Wat die Beeld-opskrif noem die “broeiende vrees vir die ander” word in hierdie land vol misdaad deel van ons kollektiewe psige. Dit was een van die hoofredes waarom ‘n vyfde van die wit bevolking reeds landuit gevlug het.
Dit is dus die belangrikste elemente van die kringloop: onmag-griewe-sondebok-stereotipering-veralgemening-demonisering..
Hoeveel kerkleiers en ander kerkmense waag dit nogtans om dadelik in gesprekke met stereotipering te vra wie “hulle” is? Is die groot meerderheid van 80% Christene wat hierdie land tydens die vreedsame oorvang na demokrasie van ‘n bloedbad gered het, almal by implikasie onder verdenking? Is al die swartes? Is al die kerkleiers wat nie wit is nie, eintlik die skuldiges wat kerkvereniging verhoed?
Maar die belangrikste vraag word waarskynlik byna nooit gevra nie, ook nie deur diegene wat Christus se boodskap wil uitdra nie. Die vraag is: Is hulle, die ander, diegene wat jou so aanval en al jou regte skend, nog jou naastes?
Min, bitter min, gelowiges sal saam met Christus selfs aan die kruis sê: ja! Die bede: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie,” word vervang met: “Vader, verdoem hulle na die hel, want hulle weet wat hulle doen.”
Dit is die realiteit van diversiteit in hierdie apartheidsland.

Die janee-faktor

Daar is natuurlik wel ‘n ander kant van die saak, al oorheers dit hoegenaamd nie. In ‘n demokratiese Suid-Afrika het verreweg die meeste lidmate van die gereformeerde kerke sedert 1994 bepaald na ‘n groter verdraagsaamheid en begrip vir andersheid beweeg. Maar steeds sien ‘n mens orals die dubbelkantigheid wat die janee-faktor genoem kan word. Ja om gekleurdes by die erediens te verwelkom, nee om my huishulp saam te nooi.  Ja vir algemene kerkeenheid, nee vir vereniging wat my eksklusiewe gebruik van kerklike Afrikaans bedreig en ‘n “politiekery” soos Belhar toelaat. Ja om selibate gays as Christene te erken, nee vir gay huwelike en seks. Ja vir vrouens in laer kerklike ampte, nee vir ‘n vroueleraar. Ja vir geloofsverdraagsaamheid, nee om Rooms-Katolieke as Christene en Moslems as gelowigs te erken.
Die basiese, logiese voorwaarde om foute reg te stel is om hulle te erken. Die NG Kerk het ‘n groot tree gegee deur sy aandeel in apartheid te erken. Is dit genoeg om ook voortgesette vervreemding van die ander op talle vlakke te dek, dus gemeenskapsapartheid en ‘n apartheid van die gees?
Gaan kerke in Suid-Afrika ja së vir die erkenning dat ons steeds daagliks hierdie apartheid bedryf?
Wat sou Christus se opsomming wees as Hy eendag ongemerk tussen ons moet verskyn en sien hoe ons met andere omgaan?
Sal Hy sê: “Janee”?

* www.wiktionary.org

** http://www.commonwealthfoundation.com/news/news/detail.cfm?id=57

Inleiding gelewer by die bosberaad oor diversiteit van die NG Kerk, 18-19 Mei 2009, Pretoria.

Dr. Charles Malan is ‘n letterkundige, skrywer en gewese professor aan die universiteite van die Vrystaat en Pretoria. As navorsingspesialis by die RGN het hy nasionale projekte oor interkulturele interaksie en nasionale simbole gelei.

Trackback from your site.

Leave a comment