Die spook van McGavran loop nog sterk

Written by Frederick on . Posted in Gemeentes

Aan die einde van die 1800’s is die kerk gekenmerk deur ʼn ekklesiologie wat gevorm is deur ʼn tydperk waar die Christelike geloof eers die dominante geloof was (veral sedert Constantyn) en toe die ontnugtering van die verligting ervaar het. Langs díe pad het die kerk sy missionêre dryf verloor.
In die vroeë 1900 het daar ʼn vars wind in die kerk begin waai en teen die 1950’s was daar ʼn hernude klem op die missio Dei. Die missionêre ywer van die kerk word gesien in ʼn aantal sendingkonferensies wat gehou is, die ontstaan van verskeie sendingorganisasies en die evangelie wat tot aan die uiteindes van die wêreld geneem is. Sendelinge soos Leslie Newbigin, Donald McGavran en later David Bosch keer terug van die sendingveld en vind dat die Westerse samelewing arm aan die evangelie geword het. Hulle was profete in hulle eie tyd wat die kerk wys op sy onafgehandelde missionêre taak, veral in die Weste.

Donald McGavran keer terug uit Indië met ʼn brandende hart vir die evangelie en die siele van mense. Die kerk se gebrek aan sukses in die evangelisering van mense rus swaar op sy hart en hy word ʼn katalis in die soeke na effektiewe evangelisasie middele vir die Weste. Sy akademiese posisie by Fuller Theological Seminary World school of missions bied vir hom ‘n geleentheid om effektiewe metodes van evangelisasie te ontwikkel en te propageer. Hy stel sy visie vir die kerk soos volg: “The chief and irreplaceable purpose of mission is church growth” (McGavran, 1990: 22).  So ontstaan die Church Growth Movement wat ‘n groot impak ook in Suid Afrika gehad het. Hy inspireer ʼn generasie van kerkleiers om die Weste te evangeliseer.

In sy ywer vir die evangelie ontstaan ʼn ekklesiologie wat die kerk sien as die grond en die doel van die Groot Opdrag (Matt 28) – Jesus sterf sodat die kerk kan groei. Metodologieë uit die sosiale en ekonomiese wetenskappe word gebruik om die kerk meer effektief te maak. Strategiese beplanningsessies word gehou waar visie, missie en strategie bepaal word; sukses word gemeet aan getalle en balansstate. ʼn Gemeente struktuur word ontwerp waar elkeen sy plek en taak ken. Die dominee word bestuurder, strateeg en CEO. Ons beplan, delegeer en kontroleer – die kerkraadposisies word gevul deur suksesvolle manne uit die besigheid en nie noodwendig mense met geestelike onderskeiding nie.

Vir ʼn tyd werk die strategieë en ʼn aantal makrogemeentes ontstaan wat die vlag dra vir die Kerkgroei Beweging. Groot geboue word gebou, predikante en gemeente bestuurders word aangestel en glad geoliede bedienings en eredienste word geskep met die beste musiek en kommunikeerders wat geld kan koop.

ʼn Generasie ‘boomers’ floreer op die “BMW” teologie en praktyk van die Kerkgroei Beweging.

Die radikale pragmatisme van die Kerkgroei Beweging lei tot ʼn teologie (gebrek aan?) wat gewortel is in die sosiologie, populêre leierskap en bestuurstegniek. Van ʼn Trinitariese vertrekpunt en die missio Dei is daar min te sien. In die praktyk word die gemeente se korporatiewe identiteit sterker as hulle Trinitariese identiteit. ( In gesprekke met leiers en lidmate van een van die mega-kerke in die VSA hoor ek die volgende tema telkens: “My lewe het verander vandat ek by X gemeente aangesluit het”).

Dit is ongelukkig nie net ʼn ekklesiologie wat ons by mega-kerke kry nie. As ek kyk na ons kerkraadvergaderings, sien ek die hoë waarde wat geheg word aan die aantal lidmate, nuwe selgroepe en finansies. Van gehoorsaamheid aan God, deel wees van die missio Dei, fokus op die Koninkryk en geestelike onderskeiding is daar nie baie sprake nie.

Die oplossing kan gevind word in:

Koninkryksteologie 
Die herbevestiging en integrasie van Jesus se fokus op die koninkryk soos ons dit in die evangelies kry. Dat die kerk nie die Lig vir die wêreld is nie, maar slegs deel is van die getuienis van die Lig. Dat die kerk in solidariteit met die wêreld lewe, nie in opposisie nie. Die doel van die missio Dei kan nooit kerkgroei wees nie, maar die vestiging van die koninkryk. Laastens leef die kerk in die spanning tussen die koninkryk wat alreeds besig om deur te breek en die koninkryk wat in sy totaliteit in die toekoms sal kom. 

Herontdekking van die Immanente Triniteit.
In die Westerse teologie was daar tradisioneel baie klem gewees op die Ekonomiese Triniteit (uitwaartse beweeg van die Triniteit en God se reddende handelinge in die wêreld, m.a.w. die ‘sigbare’ Triniteit), wat in lyn was met die siening van Augustinus. Die klem was op die hiërargiese orde in die Triniteit – God wat vir Jesus stuur en Jesus wat die dissipels stuur en die Heilige Gees wat hierdie stuurproses moontlik maak. Daar lê egter baie waarde vir ons as kerk in die herontdekking van Immanente Triniteit, veral die verhoudingskarakter (perichoreses) van die Triniteit. Miroslav Volf (After our likeness: the church as the image of the trinity, 1998) teoloog van die Yale University Divinity School stel dit soos volg:

Because the Christian God is not a lonely God, but rather a communion of three persons, faith leads human beings into the divine communio.  One cannot, however, have a self-enclosed communion with the triune God – a ‘foursome’, as it were – for the Christian God is not a private deity.  Communion with this God is at once also communion with those others who have entrusted themselves in faith to the same God.”

Die besonderse en onbegryplike verhoudingskarakter van die Triniteit het implikasies vir die selfverstaan van die kerk asook vir sy taak in die wêreld. Ons word nie alleen gestuur na die wêreld toe nie, maar God se koninkryk word gevestig deur die verhouding wat ons met God, met mekaar en ook met die buite die kerk het. Dit is juis verhoudings wat die ruimte skep vir die transformering van lewens, nie dinamiese argumente of tegnieke nie. Die gemeenskapskarakter van die kerk moet gevestig wees in die Immanente Triniteit en ons dring tot gemeenskap met die hele skepping.

Omvattende karakter van redding
Een van die kenmerke van die Kerk Groei beweging was dat redding (salvation) baie eng gesien is – as bloot die deel kry aan die ewige lewe. Ons siening van redding beïnvloed ons siening van God, die missio Dei, asook die strategieë wat gemeentes sal gebruik in die uitleef van hulle missionêre taak.
Chris Wright (The mission of God; Unlocking the Bible’s grand narrative, 2006: 264) meen dat  “The scope of our mission must reflect the scope of God’s mission, which in turn will match the scale of God’s redemptive work”.  God se reddingswerk in die Bybel getuig van baie ‘n meer omvattende verstaan van redding. Die Eksodus narratief wat gebruik word as ʼn basis narratief vir ʼn groot deel van die Bybel getuig hiervan.
Israel se redding het politieke (hulle was immigrante wat as ʼn minderheid onderdruk is), ekonomiese (hulle besit geen grond en word uitgebuit in die werk wat hulle doen), sosiale (hulle basiese familie en gemeenskap struktuur word vernietig deur die harde werk, onderdrukking en die vrees waarbinne hulle leef) en geestelike (hulle kultiese praktyke word oorgeneem deur diens aan Farao) implikasies. Al hierdie dimensies word aangespreek deur die Eksodus narratief.

In Jesus se bediening sien ons dieselfde omvattende verstaan van redding. Hoeveel keer gaan geestelike verlossing gepaart met verlossing van fisiese probleme (bv. Markus 2:1-10). Verlossing in die Bybel word omvattend gesien binne die konteks van die koninkryk wat besig is om deur te breek.
Hierdie omvattende siening van verlossing het baie praktiese implikasies vir wat ons gaan preek, wat die fokus en taak van die “sendingkommissie” gaan wees, en hoe ons as gemeente ons sukses gaan meet.

Die spook loop:
Ons kan net ons kerkraadsagendas en -notules deurkyk om te sien of McGavran se spook nog loop. As hy nog vrees, benoudheid en werksdruk veroorsaak by die leiers van die gemeente, wil  die Drie-enige God weer hoop en bevryding bring deur sy Koninkryk te laat deurbreek waar mense die omvattende goeie nuus van verlossing hoor.

Christo R. Benadé

Leraar: Suid Afrikaanse Gemeente Londen

Trackback from your site.

Leave a comment