Die tsoenami’s … en ons doop

Written by webmeester on . Posted in Preekstudies

Die doop herinner ons ook daaraan dat God met sy sorgende hande diep in ons lewe ‘n vlam van liefde, deernis, goedheid en heiligheid ontsteek. ‘n Vlam wat nooit uitgewis kan word nie. Is dít nie wat dit beteken om ‘n beelddraer van God te wees nie? Dat ons mag weet daar brand só ‘n vlam diep binne in ons nie? En dat hierdie vlam daagliks deur Hom brandend gehou en aangeblaas word nie?

‘n Vlam waaroor ons elkeen beskik, kragtens ons geskapenheid, maar ook die herstellende genadewerk van Christus. En dat hierdie liefde, deernis, goedheid en heiligheid meer fundamenteel is as al die kwaad, onheil en “tsoenami’s” waarmee ons te doen kry. Dat dit gewoon dieper lê as dit.

Natuurlik is dít soms moeilik om te sien, selfs te glo. Veral wanneer ‘n mens daagliks met jou eie foute en tekortkominge gekonfronteer word. Ook met die boosheid van die lewe en met die rampe in die skepping. Sulke tye voel dit vir jou asof hierdie vlammetjie flou brand – selfs uitgewis is? Jy weet soms nie wat om te bid nie.

Maar dikwels word hierdie vonk, hierdie vlam juis voelbaar, sigbaar in die onrus van die lewe. Soms is daar diep binne in jou bloot ‘n verlange hierna. ‘n Versugting. ‘n Roering. Maar dis meesal genoeg.

Want Paulus sê wanneer ons nie weet wat om te bid nie, tree die Heilige Gees vir ons in met onuitspreeklike versugtinge. Die Gees roep deur ons gees voortdurend na iets beter!

Ons moet soms net geduldig wag op God. En dan, op onverwagse maniere, verras Hy ons. Deur die goedheid van ‘n medemens. Deur die sprankel van die natuur op ‘n gegewe môre, ondanks verwoestende tsoenami’s. Deur die aanraking van ‘n vreemdeling … En dán, dán besef ons ons word gedra, ondanks onsself en wat ook al met ons gebeur. Dít is wat die doop vir my beteken!

Trackback from your site.

Leave a comment