{ARGIEF}

[widgetkit id=171429]

‘n Kursusganger gee enkele indrukke oor die Missionale Konferensie:

Ek het die konferensie om veral drie redes bygewoon. Ek
a. wou graag my verstaan van “missionaal” verbeter in lyn met die Missionale Ekklesiologie en die Raamwerkdokument wat die Algemene Sinode 2011 aanvaar het
b. reken dat die NG Kerk dringend transformasie-leierskap nodig het en wou uitvind hoe missionale leierskap hiermee kan help
c. voel aan, en ek dink hierdie is waarskynlik die vernaamste rede, dat die Heilige Gees ons ’n nuwe fokus en vuur gee wat ons kan help in ons konteks. Ek wil hierdie beweging van die Gees nie misloop nie!Dit was fantasties om die gemeenskap van gelowiges van oor die wêreld heen asook verskillende denominasies te beleef. Waar anders as waar die Gees werk, sal NG en Apostoliese geloofsending, VGK en Gereformeerd, Luthers en Pentecostals, Katoliek en Congregational bymekaarkom!

Ek is beïndruk met die diep nadenke asook die kwaliteit van die sprekers, mense wat as gelowiges die wil van God vir ons tyd soek. Hoe lekker is dit om verruim te word met denke vanuit verskillende kontinente.
Wat my opgeval het, is dat die Gees besig is om regoor die wêreld die liggaam van Jesus Christus aan te raak met ’n nuwe verstaan van wat dit beteken om deel te wees van die Missio Dei, gestuur wees deur die Drie-enige God. Om te dink dit was eintlik nog heeltyd die DNS van die kerk!
Dit voel vir my ek het ’n kykie gekry in die gemeenskap van die Drie-enige God wat Sélf missionaal met Mekaar omgaan en sowaar vir ons ook innooi.
Wat bevrydend is, is om (op)nuut te besef: God is lewend! God is besig met sy wêreld! En ons hoef net by God in te val!
Wat nodig is, is om mekaar te help om regtig geloofsonderskeidend die Woord én ons konteks te lees – luisterend met nuwe ore.
Wat gedoen moet word, is om diep spiritueel die beweging van die Gees te onderskei, soos die Gees ook werk in die ervarings van gemeentelede, gemeentes en gemeenskappe en dit te vertaal na goeie organisasie, strategieë, praktyke en geloofsgewoontes.
Wat vereis word, is die opofferende kruis optel soos Jesus, die moed wat die Heilige Gees gee, die liefde wat God ons gee.
Missionaal – as enigste hoop vir die wêreld!
(Dr Jannie le Roux, Gordonsbaai)