Dinsdag 1 Maart Godsdiens Aktueel: As die metafoor sy betekenis verloor

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Ons het al heelwat oor die onderwerp gepraat maar ek het navrae ontvang oor die rubriek wat verlede week in Die Burger geplaas is. Ek plaas dit dit dus graag weer hier.

“Godsdiens Aktueel”

Die onlangse uitsprake van president Zuma dat ’n ANC-kaart jou ’n binnebaan hemel toe gee, het sommige Christene warm onder die kraag gelaat. Waarskynlik die sterkste kritiek het van die VGK-moderatuur gekom, wat gesê het dat lidmate regtig ernstig sal moet besin oor vir wie hulle in die komende plaaslike verkiesings stem. Die verweer wat van die ANC gekom het, is dat die president bloot ’n metafoor gebruik het. Die vraag is egter: Wat bedoel ons as ons sê dat ons in metafore praat? As ons daarmee bedoel dat ons eintlik maar net beeldspraak gebruik, moet ons begrip hê vir die uitspraak. Binne die tradisionele Afrika-kultuur speel beeldspraak ’n besonderse en kleurvolle rol. Daar word weinig gepraat sonder dat daar in beelde gepraat word. Wanneer jy egter “beelde” gebruik wat vir gelowiges besondere waarde het, raak dit sensitief.
Maar dit is nie net president Zuma wat sê dat hy metafore gebruik nie. Die afgelope tyd is daar meermale gehoor dat, wanneer daar oor die opstanding van Christus gepraat word, die woord “metafoor” opduik. In sekere kringe is daar dan ook ’n intense debat gevoer oor die sogenaamde “metaforiese” opstanding van Christus. Die probleem verdiep wanneer jy besef dat daar binne die teologie ’n baie sterk punt gemaak word dat ons die term “metafoor” baie meer genuanseerd sal moet gebruik, as wat tans die geval is. Die term word maklik gebruik as ’n soort kofferwoord waarbinne alle onduidelikhede pas, maar in die proses word die verwarring eintlik net groter. Die insident met president Zuma het dit opnuut bevestig. Kom ons probeer ’n paar eenvoudige lyne in die verband trek en gebruik die gesprek oor die opstanding van Christus as voorbeeld.
Veral twee interpretasies oor die gebruik van die woord “metafoor” tree na vore. Die eerste is dat die opstanding steeds as werklik aanvaar word, maar dat ons vanweë die ondeurgrondelike en in menslike terme, “onverklaarlike” daarvan, woorde wat die opstanding beskryf , “metafore” noem. Die opstanding bly egter ’n werklike gebeurtenis. Oor die presiese “hoe” weet ons nie, maar oor die “dat” (dat Hy opgestaan het), twyfel ons nie. Soos wat die letters b.o.o.m nie regtig ’n boom is nie, word dit algemeen gebruik om na ’n regte boom te verwys.
Die tweede interpretasie is dat “metafories” inderdaad verstaan word as figuurlik. Dit is blote beeldspraak. Dan is die Evangelies se verwysing na die opstanding bloot mites wat ons moet inspireer, soos ook ander verhale en mites uit ander geloofstradisies dit wil doen. Christus het in hierdie geval dan nooit werklik opgestaan nie en is dit bloot ’n mooi inspirerende storie.
Die eenvoudige vraag aan elke gelowige is, waar jy hiermee staan? Sekerlik sal daar verskillende sienings onder lesers wees. Na ’n onlangse gesprek by die kweeksool op Stellenbosch het prof. Dirkie Smit dit so opgesom: “Dit is nie die opstanding wat metafories is nie, maar ons taal.” (Sien Kerkbode 18/2/11) Na my mening is dit ’n eenvoudige en akkurate weergawe van wat die klassieke standpunt van Christene oor die eeue oor die opstanding was. Wanneer die Bybel dan verder van ’n “opstandingsliggaam” (1 Kor.15) praat, word aanvaar dat ons hier van ’n meer dimensionele werklikheid praat wat vir ons as mense maar moeilik is om ten volle te verstaan. Die beskrywing “opstandingsliggaam” is menslike taal om iets van ’n toekomstige werklikheid te beskryf. Die feit dat ons “metaforiese taal” gebruik, beteken egter nie dat ons nie meer aan die werklikheid van hierdie belofte vashou nie.

Trackback from your site.