Dinsdag 20 Maart: DB Ons kinders is op die spel (Ons onderwys in `n krisis)

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Skokkende statistiek oor die stand van onderwys in Suid-Afrika het verlede week vir die soveelste keer op die tafel gekom tydens `n konferensie oor armoede en onderwys wat deur die diensgroep Armoede & Sorg van die NGK en VGK gereël is.
Van die statistiek is reeds bekend, maar miskien was dit die intensiteit waarmee `n erkende paneel sprekers hierdie, soms verbloemde werklikheid aangebied het, wat my laat besef het dat ons inderdaad met ’n krisis sit. In die woorde van Prof. Piet Naudé is dit `n krisis wat die vigspandemie in erns kan verbygaan.
Wanneer daar na die geletterdheidsvlakke van die 25% armstes in die samelewing gekyk word, vaar SA swakker as lande soos Malawi, Lesotho, Mosambiek, Namibië, Uganda, Zimbabwe, Kenia en Swaziland.
Wat wiskunde en wetenskap betref, sal slegs 6% van ons bevolking internasionaal kan meeding (TIMMS-evaluering).
Geld is daar genoeg (R207 biljoen in 2012/13), maar wat uitkomste betref, tel ons onder die onderste 10 uit 140 lande. Ons spandeer baie geld met min effek.
Jare gelede is stadige en stout leerlinge in die hoekie staan gemaak met `n kegelhoed (die sogenaamde “dunce” hoed) op hul kop. Die uitvalsyfer van kinders in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel lyk tans soos so `n hoed! (sien grafika) Ons het ’n 70% slaagsyfer in matriek, maar dit is 70% van die derde wat geskryf het. Twee derdes van ons potensiële matrieks het êrens langs die pad uitgeval.
Die implikasie is dat nagenoeg 500 000 ongeskoolde leerders, met min of geen vaardighede, elke jaar tot die groep werksoekers gevoeg word. Werkloosheid, misdaad en sosiale toelaes (15,6 miljoen ontvangers vanjaar) word dan die ongelukkige gevolg hiervan.
Die reuse gebrek aan kolleges en ambagskole help ook nie. 150 kolleges is in 50 gekonsolideer en boonop dui alles daarop dat slegs enkeles hiervan kan meeding op internasionale vlak.
Die idee het verder posgevat dat die enigste pad uit armoede deur ’n universiteit loop. Die gevolg is dat te veel studente wat nie daar hoort nie, by universiteite opdaag. Dit lei tot enorme teleurstelling en frustrasie by studente en hoë koste vir die staat. Sedert 1994 was daar ’n geleidelike afname in die groei van die aantal gegradueerdes. Hierdie groeikoers is selfs laer as die ekonomiese groeikoers.
Ernstige vrae word gevra oor die kundigheid van onderwysers in veral vakke soos wiskunde en wetenskap. In `n studie wat die WKOD onder graad 6-wiskunde onderwysers gedoen het, is bevind dat meer as 50% gesê het dat `n groei van 60 na 75, 15% is!
Statistiek dui ook daarop dat die vaardigheidsvlakke van die oorgrote meerderheid leerlinge in die intree fase slegs 30% van die aanvaarbare vlakke is. Ons faal reeds daar.
`n Verdere skokkende bevinding was dat die wegblysyfer onder arm dogters hoër is as by seuns. Die rede? Hul menstrueer. Hul het nie doekies nie, verstaan nie wat met hul gebeur nie en daar is haglike toilette by hul skole. Waar die probleme aangespreek is, het bywoning dramaties verbeter.
Waar laat dit ons?
Uit al die aanbiedings by die konferensie het dit baie duidelik geword dat daar ’n direkte verband gelê moet word tussen gebrekkige onderwys en armoede.
Daar het egter deur die loop van die twee dae ook `n ander prentjie ontwikkel. Dit gaan nie net oor gebrekkige infrastruktuur en kapasiteit nie. Tot `n groot mate weerspieël die stand van onderwys die morele toestand waarin die land verkeer. Daar hang ’n groot vraagteken oor die werksetiek en roeping van talle onderwysers. Gebroke of eintlik totaal afwesige gesinstrukture verhoog die krisis. Dit moet dadelik beklemtoon word dat daar ook duisende onderwysers is wat uitstekende en onbaatsugtige diens lewer. Hulle werk egter tans onder baie groot druk.
Die vraag moet ook reguit gevra word of ons skole nie politieke speelballe geword het nie? Regdeur die konferensie was die vakbonde, en in die besonder `n vakbond soos SADOU, die spreekwoordelike olifant in die vertrek.
Die rol wat vakbonde in ons demokrasie speel, word volledig erken. Tog word daar ernstige vrae gevra oor die rol en selfs destruktiewe rol wat SADOU (van die grootste groeperinge binne COSATU) speel. As kinders in die Kaap opgeroep word om teen `n tolstelsel in Gauteng te betoog is daar êrens `n skroef los. Dringende gesprek hieroor is nou nodig.
Die bepalende rol wat skoolhoofde speel, kan ook nie onderskat word nie. Dit is duidelik dat infrastruktuur alleen nie die sukses van skole bepaal nie. In baie arm woongebiede vaar sommige skole vrot en ander goed. Waarom? Leierskap speel ’n deurslaggewende rol. Programme vir die verdere opleiding en bemagtiging van hoofde moet versnel word. Indien dit nie slaag nie, moet afleggings oorweeg word.
Die onderwys sal ook nie slaag sonder groter betrokkenheid van ons ouergemeenskappe nie. Groter betrokkenheid by bestuursliggame, maar ook direkte dienslewering aan skole, moet deur kerke aangemoedig word.
Die vraag is ook gevra of kerkskole nie weer op groter skaal gestig moet word nie. Dit is ’n komplekse saak waaroor daar gedink sal moet word. Daar was `n tyd toe kerkskole `n reuse rol in ons land gespeel het. Ons eie president Mandela is `n produk van so ‘n skool. Met die geld wat tans betrokke is, wonder `n mens of die kerk nie eerder `n groter ondersteunende en profetiese rol moet speel nie. Op `n vraag of kerke nog mag, het Minister Manuel geantwoord: “You don’t need to ask anyone permission!” Die skep van aanvullende onderwys- en mentorskap-programme deur kerke moet nou ernstig oorweeg word. Daar bestaan steeds enorme kapasiteit binne kerke om dit te doen. So kan kundigheid kinders byvoorbeeld voorberei met die oog op naskoolse onderrig, universiteite, beurse, ens.
Daar is gelukkig ook reeds talle stories van hoop. Die wiel hoef nie weer uitgevind te word nie. Ons het ’n verantwoordelikheid om hierdie sogenaamde “beste praktyk” verhale so wyd as moontlik te versprei.
Kerke sal ’n baie sterk profetiese stem oor dissipline, morele gedrag, roeping van onderwysers, die etos van onderwysers en veel meer, moet laat hoor. Laat ons dit weer sê: Die stand van ons onderwys het baie te doen met die gebrek aan morele vesel onder baie onderwysers en ouers. Kerke mag nie hul roeping en opdrag in die dae geringskat nie. Die lewe van ons kinders, nou en môre – ons toekoms – is op die spel.
Ons dank nogmaals aan die volgende inleidende sprekers wat die konferensie moontlik gemaak het: Prof Nico Koopman, minister Trevor Manuel, Paul Colditz, provinsiale minister Donald Grant, Christo van der Rheede, Proff. Servaas van den Berg en Piet Naudé, Dr. Theuns Eloff, Chris Klopper, Randall van den Heever en Rhoda Kadalie

Trackback from your site.