Donderdag 17 April : Armoede! Wat die kerk hoor en meen gedoen moet word

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Die kerk se roeping om uit te reik na die armes in ons midde is ’n onvervreembare opdrag en roeping. Daaroor is die Bybel glashelder. Die vraag is hoe hierdie roeping in 2011 gekonkretiseer moet word. Dit was een van die redes waarom die NGK en VGK in Maart ’n konferensie byeen gebring het om saam na sistemiese oplossings te soek. Hieroor is reeds breedvoerig in Sake24 berig. Die vraag is wat die kerke self gehoor het en nou te doen staan? Dalk is van die perspektiewe ou nuus, maar sekere dinge kan nie genoeg gesê word nie…

Wat ons gehoor het.

Na 1994 het daar heelwat beleid aanpassings in die ekonomie gekom, maar struktureel het die ekonomie min verander. Die kloof tussen rykes en armes het groter geword, ten spyte van die feit dat tussen 3 en 4 miljoen mense tot die middelklas toegetree het. Wat ’n mens egter nog meer bekommerd maak, is dat dit wil voorkom of ons ’n blote verbruikers-ekonomie ontwikkel het en genoegsame(owerheids) investering in produksie-geleide groei nie plaasvind nie. So is verbruikersbesteding, uitgedruk as ’n persentasie van die BBP, in Suid-Afrika amper 70%, terwyl dit in China tussen 35 en 40% is. In Afrika is die fokus dikwels op grondstowwe (sien Jeugliga se eis vir nasionalisering van die myne), maar die ware wins en groei vir die ekonomie lê nie in die uitvoer van hierdie grondstowwe nie, maar wel in die verryking van die grondstowwe om plaaslik waarde toe te voeg en werkgeleenthede te skep. Hier is ons vêr agter. In werklikheid was die bydrae van die mynbousektor tot die groei in BBP  die afgelope tien jaar in Suid-Afrika maar slegs 0,3%

Die staat spandeer enorme bedrae aan maatskaplike pensioene en -toelaes. Vir die kerk is dit ’n moeilike een. Ons moet mos die armes help. Tog raak al hoe meer mense van die owerheid afhanklik en is ons al meer oortuig dat dit nie volhoubaar is nie. Wat bekommer ons? Wel, 6 miljoen belastingbetalers kan nie 15 miljoen mense volhoubaar onderhou hou nie. Die staat se skuldlas groei. Ons raak ook al hoe meer oortuig dat blote geldelike hulp (“aid”) nie die armoede probleem oplos nie en in sommige opsigte selfs vererger. Statistiek oor die verhouding tussen internasionale hulp en ekonomiese groei in Afrika dui ’n omgekeerde verhouding aan. In talle Afrika lande is meer as die helfte van regeringsbegrotings afkomstig van buitelandse hulp, met min effek op ekonomiese ontwikkeling. Op ’n manier moet die “slagoffermentaliteit” in Afrika deurbreek word. Armoede het ’n diep psigologiese kant. .

Ons is verder bekommerd dat die toelaes ook misbruik kan word om eintlik maar die reeds ontmagtigde armes te manipuleer. Anders gestel: Ons leef in ‘n land waar rykdom in ‘n klein deel van die bevolking se hande saamgetrek is.’n Mens kry die indruk dat politieke en/of ekonomiese mag in dieselfde klein groep se hande saamgetrek is. Die kerke sal hulleself moet afvra of daar genoeg wigte en teenwigte in ons politieke en ekonomiese stelsels ingebou is om te verseker dat die maghebbers nie hulle mag kan misbruik om onverdiend nog ryker te word ten koste van die armes nie.

Dit is heeltemal onmoontlik vir ons om internasionaal ekonomies mededingend te bly met die uitkomste wat ons huidige onderwysstelsel tans lewer. Ons is diep bekommerd oor die huidige stand van opvoeding, onderwys en opleiding in Suid-Afrika. Ons is dankbaar vir die toewyding van baie onderwysers, maar is ook bekommerd oor ’n afwesigheid van werksetiek, roepingsbewustheid en kapasiteit by sommige onderwysers en administrateurs. Ons laat ons kinders in die steek en kweek nog ’n verlore generasie. Dit kan eindig in ’n nuwe rewolusie. Dit wil soms voorkom of studente wat tans uit Zimbabwe in Suid-Afrika kom studeer, beter voorberei is om, veral die uitdagings wat wiskunde en wetenskap op universiteit rig, te hanteer.

Ons is diep bekommerd oor die feit dat die regering onaanvaarbare hoeveelhede geld vermors deur korrupsie en ‘tenderpreneurskap”. Die woord ekonomie is afgelei van die Grieks , oikos-nomos, of te wel die “wette van die huis(houding)”. Een van die wette ken ons goed. As ’n gesin of huis voortdurend geld mors en op verkeerde prioriteite spandeer, word hulle arm! As ’n regering dit doen, word die land arm.

Armoede is steeds ’n leierskap probleem. Greg Mills in sy Why Africa is poor (2010) stel dit onomwonde: Afrika is arm omdat haar leiers die keuse gemaak het en hope verkeerde keuses gemaak het.

Ons is bekommerd dat ons deel is van ’n samelewing wat die skyn van voorspoed voorhou, terwyl die waarskuwingsligte flikker vir die onderliggende verbrokkeling van die samelewing. Ons sien diep krake as dit kom by ware versoening en heling in gemeenskappe. In baie opsigte is die morele vesels van ons samelewing aan die disintegreer. Sonder enige twyfel verhoog dit die krisis wanneer dit by armoede kom.

Wat nou gedoen moet word

Die kerk is deur haar barmhartigheidsnetwerke natuurlik oor jare reeds by die armoedekwessie betrokke en brei dit steeds uit. Die vraag is egter hoe ons nou aan sistemiese oplossings kan meewerk.

Ons glo dat die kerk op een of ander manier weer mede-verantwoordelikheid vir die onderwys sal moet aanvaar. Ons besef dat dit unieke uitdagings aan ons stel, maar ons kan nie langer wag nie. Die kerk het ’n lang verbintenis met die onderwys in Suid-Afrika. Dit sal oud president Nelson Mandela jou kan vertel. Die plek ontbreek om dit volledig te beskryf. Ek weet daar is stemme wat die kerk geheel en al uit die onderwys wil ban. Ons respekteer hul standpunte, maar die krisis van die oomblik vra ons om weer betrokke te raak. Veral op voorskoolse vlak, maar dalk moet ons weer “Sondagskole” begin, waar ons kinders nie net die Bybel leer nie, maar ook basiese vaardighede, soos tydens die industriële revolusie in Engeland (“Sunday Schools”). Ons het die kapasiteit en die ruimte.

Die kerk sal ’n helder gesamentlike profetiese stem oor die onreg van die oomblik moet laat hoor. Dit wil voorkom of die regering oor sekere kwessies net nie wil luister nie, maar dalk, as meer kerke ’n gesamentlike stem kan vorm, kan daar iets gebeur. In lyn hiermee moet die krag van die burgerlike samelewing nie onderskat word nie en is vennootskappe met die sakesektor en selfs die staat, nie uitgesluit nie.

Armes moet gehelp word om mede-verantwoordelikheid vir die probleem te aanvaar. Hierin lê ’n diep menswaardigheidsbeginsel opgesluit. So ver ek weet, is daar na 1916, toe die armoedeprobleem onder blankes aangespreek is, min huise uitgedeel. Mense is egter geleer hoe om self huise te bou en selfhelp-projekte is bevorder. Dalk moet daar ’n vak op skool ingevoer word, van graad I tot matriek: Hoe bou ek self ’n huis! Al doen mense dit op die ou end nie, kan dit help om ’n gedagtewêreld (“mindset”) te verander. Daar word ook reeds aan modelle gewerk waar daar op die stokvel beginsel, deur die armes self, klein bedraggies ingesamel word om uiteindelik ’n groot verskil te maak. Daar is krag in getalle.

As kerke wil ons graag meewerk om ’n gesindheid van trots, mede-eienaarskap en lojaliteit onder alle mense in die land te herstel. ’n Nuwe werksetiek sal gevestig moet word. Daar bestaan tans ’n ingesteldheid van gou ryk word met min inspanning.

Ons glo dat ons ons lidmate ook op ’n persoonlike vlak moet uitdaag. Die bedrag wat jy byvoorbeeld aan jou huishulp betaal, behoort ’n saak vir persoonlike oorweging en nadenke te wees, bo en behalwe die riglyne vir minimumlone wat geld. Hierdie is ’n profetiese uitdaging aan alle welvarende mense. In ’n land waar 20% van die mense 80% van die inkomste en bates besit, sal ons ons moet verootmoedig voor God en onsself moet afvra wat ons Bybelse verantwoordelikheid is.

Hierdie is maar enkele gedagtes. Ook ander meer praktiese voorstelle het reeds op die tafel gekom waaraan verder gewerk sal word. As kerke wil ons egter graag ons solidariteit met die armes verklaar. Ons wil ons eie nalatigheid in baie gevalle bely. Ons wil bid dat ons God ons die genade sal gee om ’n besliste verskil in hierdie geliefde land van ons te maak.

Erkenning aan sprekers tydens armoede konferensie, Sampie Terreblanche, Moeletsi Mbeki, Jac Laubscher, Stef Coetzee, vir data aangehaal in artikel.

Trackback from your site.