Donderdag 7 Oktober Skaam mense hulle nog? (Godsdiens Aktueel in Die Burger 6-10-10)

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

“Man is the only animal that blushes. Or needs to.”
Mark Twain
Nou die dag vra iemand my of mense hulle dan nie meer skaam nie. Skaam mense hulle nie vir die taal wat hulle gebruik nie, of die klere wat hulle dra of nie dra nie? Skaam pa’s hulle nie wanneer hulle hul vrouens los en dan van hul kinders vergeet nie? Skaam politici hulle nie wanneer hulle geld steel nie? Skaam hulle hul nie wanneer hulle in peperduur hotelle bly terwyl hul kiesers in die grootste armoedige ellende krepeer nie? Waar lê die grens tussen snaaks, banaal of sommer net “common”? Die lysie van goed waaroor mense hulle voorheen geskaam het en vandag nie meer nie, raak al hoe langer. Verstaan mense nog wat die woord ordentlikheid beteken? Hoe gesteld is ons nog op waardes soos lojaliteit, goeie maniere, getrouheid en verantwoordelikheid? Skaam mense hulle nog wanneer hulle laat is vir ’n afspraak of dit selfs glad nie eers nakom nie?
Skaamte is nie iets wat van gister af kom nie. Die Bybel vertel dat Adam en Eva “skaam” was na die breuk met God gekom het. Terselfdertyd praat Timoteus oor leuenaars (1 Tim 4:2) wie se gewete “toegeskroei” is! Nou moet ek dadelik sê dat misplaaste skaamte natuurlik ook ’n slegte ding kan wees. Ek onthou goed hoe ek as kind so skaam was dat ek moeilik vir iemand die pad sou vra. Daar is ook bewyse dat oordrewe skaamte en wroeging tot vorme van geweld en selfs selfmoord kan lei. Skaamte kan ’n baie pynlike ding wees. Daarom gebeur dit dat mense so vinnig as moontlik daarmee wil wegdoen. Dit lei dan tot ontkenning en die verharding van die gewete. Ja, ons gewete kan afgestomp raak.
Dit is egter moontlik om met ’n sensitiewe gewete te leef wat gevoed word deur die Gees van Christus. Ek pleit nie vir minderwaardigheid nie. Dit is egter juis hulle wat met ’n gesonde selfbeeld en ’n nederigheid leef, wat weet wanneer hulle grense oorgesteek het. Dit is juis hulle wat met ’n gesonde emosionele intelligensie leef wat weet wanneer ’n optrede van so ’n aard is dat ander te na gekom word of in die verleentheid gestel word. Ja, dit is hierdie gewete wat jou jou soms vir ander laat skaam.
Soms skaam jy jou vir jou kinders. Wanneer dit gebeur, moet jy die gepaste wyse vind om die situasie in liefde en met aanvoeling aan te spreek. Dit is pynlik, maar weer eens is dit die volwasse ouer wat die werklikheid in die oë kyk en nie hul kinders blindelings verdedig wanneer onfatsoenlike grense oorgesteek is nie. Dit bring jou nêrens nie, maar stel die onvermydelike pyn gewoonlik net uit.
Soos gesê, is skaamte ’n pynlike affêre. Waarskynlik daarom dat die moderne mens meganismes ontwikkel het om daarvan ontslae te raak. Die uiteindelike effek hiervan bly egter pynlik. Die wonder van die bevrydende evangelie van Christus is dat dit ons wil help om die werklikheid volrond in die oë te kyk en terselfdertyd ’n nuwe vryheid en vrede te ervaar. Die Evangelie vertel die verhaal van tweede kanse. Daar is goed waaroor ons skaam moet wees, maar nooit so dat dit ons menswaardigheid en vrymoedigheid om ander in die oë te kyk, mag wegneem nie. Mag ons in die dae meer leef as sensitiewe, vrygemaakte mense wat ons koppe optel, op so ’n manier dat ons ander waaragtig op ’n ordentlike manier in die oë kan kyk.
braam@kaapkerk.co.za

Trackback from your site.