Draers van Hoop in die strate van Utrecht Nederland

Written by Frederick on . Posted in Advent

3de Adventverhaal van Hoop – 2 Desember 2008

Die kerk probeer om ‘n teenwoordigheid te wees op die strate van Utrecht. ‘n Aantal persone, “straatpastore” genoem, reik uit na gemarginaliseerdes van die samelewing – werkloses, haweloses,  dwelmverslaafdes en mense wat vir een of ander rede die verstotenes geraak het.  Ek bring ‘n dag deur saam met Wieke, straatpastor, in die “onderkant” van Utrecht, studentestad en kultuurstad, vierde grootste stad in Nederland.

Wieke kry my by die groot kerk, die Dom, op n waterige oggend met blare wat dwarrel oor die plein, en terwyl sy haar fiets stoot,  stap ons deur ou-ou straatjies en verby bruin kanale na n grys stegie bekend as Katharynesteeg. In n eeue oue rooibaksteentjiemuur is n onopvallende swart deurtjie in die skaduwee. Ons stap die stegie in….en sy begin gesels met n hawelose met n woeste rooi baard en ruie wenkbroue wat (so kan ek tussen die dialektiese Hollands deur uitmaak), sê dat hy in sy lewe nog nooit n huis gehad het nie…..en ook nie een wil hê nie! Vir wat sal jy jou vryheid opgee om aan n huis vasgekluister te wees!. Hy sit op n ou geroeste fiets, op pad om koerante te gaan verkoop waarmee hy n bietjie wins maak. En vir hom is dit genoeg. Sy behandel hom met die grootste respek en gee n visitekaart – hy weet waar hy kan hulp kry.

Toe stoot sy die onopvallende deurtjie oop…..en skielik betree ons n onderwereldse kroeg-koffiehuis-teekamer-ontspanningsaal waar woeste manne en vroue wat ontsnap het uit Pirates of the Caribbian sit en gesels en kaart speel en koffie drink.  Wieke, n fyn geboude, blonde en gekultiveerde vrou, bestel vir ons elkeen n beker koffie by die kroegtoonbank en ons sleep twee stoele na n staaltafel waar Bloubaard en sy vriend juis besig is om luidrugtig dambord of iets te speel. Agter ons sit twee seerowers en skaak speel – die een ou se hare staan soos gevlegte staaldraad orent en sy ou pel se oë lyk soos padkaarte. Oorkant ons sit n ou sonder n voorkop met n puntbaardjie en hy gesels met sy trawant sonder tande met n woeste snor wat op en af spring. Nog n paar, meestal donker van velkleur, sit roerloos by tafeltjies oral rond en bekyk die toneel. Dit raas en klingel , harde stemme en musiek, klinkende bekers en rollende dobbelsteentjies. Koffiegeur soek plek tussen die sigaretreuk, n ketel staan en stoom.

Die plek is  n dagsorgsentrum vir haweloses waar hulle n bordjie kos kan koop vir 50c, kan stort, baard kan kam en tande kan borsel as jy tande het…. ja selfs skoon klere kan kry. Die klerestelsel werk so dat jy jou ou klere ingee….en dan ander klere uit die klerebank trek. Na jou klere gewas is, word dit weer deel van die klerebank, en so bly dit sirkuleer.  Straatmense het n heenkome vir die dag waar hulle menswaardigheid bevestig word, waar kontak geskep word met mediese dienste, maatskaplike werkers en……die straatpastor. Saans is daar n ander fasiliteit waar haweloses kan slaap.

n Aanvallig jong meisie, iets soos n gemeenskapswerker, sirkuleer tussen die seerowers, bedien koffie, knoop geselsies aan en probeer help waar sy kan. Almal word vriendelik en hoflik behandel. Dit bly steeds mense, s^e sy vir my, geskape na die beeld van God. Ek raak stil in bewondering omdat ek weet hoe maklik ek oordeel na die uiterlike.

Wieke lei my weer uit op straat. Ek ruik die atmosfeer van ou stad – koffie, tabak, gebak, nat blare. ‘n Ligte reentjie stuif neer. Die keisteentjies is glad en die Domkerk se toring verdwyn in die mis. Van Katedraal tot Katharynekroeg, die Gees van die Here is daar, die kerk is daar….en daarom hou die hoop nie op nie.

 

Trackback from your site.

Leave a comment