Esegiël 47

Written by webmeester on . Posted in Communitas Inligting

Esegiel 47 is vir die Communitas-span ‘n teks waarin hulle wandel by elke spanbyeenkoms. Nico Simpson het vir ons skilderye gemaak om die dinamika van die teks te verbeeld. Die skilderye hang in ons seminaarkamer in ons kantore op die Kweekskool terrein op Stellenbosch.

Die stroom uit die heiligdom

1 Die man met die meetstok het my teruggebring na die ingang van die tempel toe. Toe sien ek daar kom water onder die tempel se drumpel uit aan die oostekant. Die tempel het oos gekyk. Die water het regs van die tempel weggeloop, suid van die altaar verby. 2 Die man vat my toe by die noordpoort uit en om na die buitenste oospoort toe. Daar syfer die water toe regs langs die poort uit. 3 Die man het oos gestap en met die maatlyn wat hy by hom gehad het vyf honderd meter afgemeet van die oospoort af. Toe laat hy my deur die water loop. Dit was enkeldiep. 4 Hy het nog vyf honderd meter afgemeet en my deur die water laat loop. Dit was kniediep. Hy het nog vyf honderd meter afgemeet en my deur die water laat loop. Dit het tot by my heupe gekom. 5 Toe meet hy nog vyf honderd meter, maar toe was die water ’n stroom waar ek nie kon deur nie. Die water was diep, sodat ’n mens sou moes swem; dit was ’n stroom waar ’n mens nie deur kon loop nie.
6 Die man sê toe vir my: “Sien jy dit, mens?”
Hy laat my toe al langs die stroom terugstap. 7 Terwyl ek so terugstap, sien ek daar staan groot, hoë bome weerskante op die stroom se wal.
8 Die man het vir my gesê: “Hierdie water loop weg na die streek oos toe en af na die Jordaanvallei toe waar dit in die Dooie See sal inloop. Wanneer dit in die Dooie See inloop, sal die water van die Dooie See vars word. 9 Waar die stroom ook kom, sal dit wemel van al die soorte diere en sal daar baie vis wees. Die water loop af na die Dooie See toe en sal die see vars maak. Waar die stroom kom, sal alles lewe. 10 Daar sal vissers langs die Dooie See staan van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Dit sal ’n plek wees waar hulle nette droogmaak. Daar sal net soveel soorte vis wees as in die Groot See, en net so baie. 11 Net die water in die moerasse en kuile langs die Dooie See sal nie vars word nie. Hulle moet sout bly. 12 Weerskante op die wal van die stroom sal allerlei vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verlep nie en hulle vrugte sal nie opraak nie. Hulle sal elke maand dra, want die stroom se water kom uit die heiligdom. Die vrugte sal daar wees om te eet en die blare om genesing te bring.”

Trackback from your site.

Leave a comment