Flip Theron – Woordkunstenaar

Written by webmeester on . Posted in Preekstudies

Ons het soms op pad na of terug van ‘n rugbywedstryd oor sy sukkelende gesondheid gesels. Ek onthou nog goed hoe hy een oggend na my oorgestap het om te vertel dat hy kanker het. Dat hy en tannie Mariana na sy kleinseun se verjaardag op pad is, en hoe ‘n verjaardag skielik totaal nuwe betekenis vir ‘n mens kry.

Hy was ‘n briljante akademikus. Een vakansie het hulle na ons huis omgesien terwyl ons weg was. By ‘n winkeltjie in Noordwes, het ek en Kobie gewonder wat ons vir hom sou koop om dankie te sê. Ons jongste seun het daar aangekom en ons het sy opinie gevra. Kobie het met ‘n paar sokkies met die “groot vyf” klein daarop gedruk, in haar hand gestaan. Hy het onmiddellik gesê: “Hierdie is die ideale geskenk vir prof Flip! Is hy dan nie een van die vyf grotes nie?”

Hy was ‘n onafhanklike denker. Dienstig, in die teologiese sin, teenoor niemand nie. Teen sy skerpsinnigheid moes sekeres skuiling soek, en sy teologiese vlugvoetigheid het ander in die lug laat gryp.

Hy het die ongewone gawe gehad om teologiese ingewikkeldhede te distelleer tot iets verstaanbaar. ‘n Probleem of uitdaging het hy met ‘n omvattende klomp literatuur benader en getakel.

Op persoonlike vlak sal ek hom mis. Dit was altyd lekker om by hom te wees. Of ons nou gefilosofeer het of grappies uitgeruil het, en of ek net kon sit en luister na grepe uit sy bykans ongeëwenaarde rykdom (teologiese) kennis en ervaring.

Hy het sy lewe en sy persoonlike gemak opgeoffer in diens van die kerk en teologie. Hy was ‘n gróót mens – maar dalk was sy denke té groot vir sy lyf?

Alhoewel prof Flip weg is, herinner die digter William Cory ons egter: “Still are thy pleasant voices … awake; For Death, he taketh all away, but them he cannot take.”

Chris Jones

 

Trackback from your site.

Leave a comment