Geloofsvorming

Written by Martin Heyns on . Posted in Vorige kommentaar

Dankie Jannie vir die saam luister wat jy aan die gang sit oor geloofsvorming.

Jou vertrekpunt dat die gemeente se geloofsvorming deur ‘n Persoon, Jesus Christus, plaasvind, artikuleer ek net bietjie meer. Dié Persoon is die Opgewekte Jesus, wat gekruisig is; die Lewende. Op die manier word ons dus genoop om weer na die opwekkingsverhale van Jesus in die Evangelies te luister om daarin te probeer hoor hoe Hy sy mense se geloof in die proses gevorm het: Geloofsvorming in die kragveld van Jesus se Opwekking uit die dood!

* ‘n Eerste ding wat ons in die verband, uit die verhale ontdek, is: Die Here se mense kon geen ‘greep’ op Hom as die Opgewekte kry nie. Hulle was meer in hulle “geloofsvorming” ‘gepuzzled’, as iets anders”. Terloops, die ‘gevegte’ oor die opstanding in die NG Kerk, is natuurlik direk ter sprake. In die verband skryf Eugene Peterson verhelderend, betreffende die kennis-aspek in die proses van geloofsvorming: “Two of our primary ways of dealing with reality are by understanding and by using. Understanding takes a new item of experience or information and makes sense of it by fitting it into all other things we already know. Using tests out the new experience or information in the actual routines of what can be or has to be done. But this resurrection is inaccessible to either of these. Understanding and using are displaced by sheer wonder, astonishment, amazement …” [Uit “Living the Resurrection”]

* Hieruit moet ons agterkom dat ons nooit in beheer van geloofsvorming, in die lig van Jesus as die Opgestane, kan wees nie. In dié verband is die volgende vir my rigtinggewend:

– Baie soorte ‘opwekkingsverhale’ het in die leefwêreld van Israel, en die hele wêreld van die Nabye Ooste, in die harte van die mense, in die tyd voor Jesus, geleef. Maar die dag toe God Hom tussen hulle uit die dood opwek, was die bes voorbereides heeltemal onkant gevang. Ons is nooit in ‘n posisie om te weet hoe geloofsvorming in die kragveld van die opgewekte Here plaasvind nie. Dit gebeur heeltemal buite die kategorieë van ons kennis, psigologiese ervarings en morele ingesteldhede. Hier is ook nie plek vir eksperte nie. Ons is en bly almal beginners in die buite-ons-beheer gebeure.
– Dit is ‘n verrassende openbaring dat die opwekkingsverhale fokus op Jesus en die gemarginaliseerdes in die samelewing; by uitstek die vroue. Hulle word die eerste geloofsgetuies. Maria Magdalena was seker die mees uitstaande randfiguur in die verband. Miskien moet ons ernstig kennis neem dat mense wat dalk vandag die meeste deur God in sy gemeentes vir ons geloofsvorming gebruik word, die armes, die wat nie tel nie, die noodlydendes, die uitgestotes , die digters en ander kunstenaars, die kinders, is. ‘n Wekroep, sou ek sê, vir multikulturele, oop kerkgemeenskappe; gemeentes wat regtig die samelewing waarbinne ons leef, verteenwoordig.
– Geloofsvorming in die opwekkingsverhale geskied eintlik in stilte. Hoewel daar baie energie aan die werk was in hierdie verhale, beskryf dit nêrens ‘n groot ‘show’ nie. Miskien moet ons maar weer diep nadink: Moderne kommunikasie tegnieke en geraas-musiek is dalk toe nie sulke goeie bykomstighede vir geloofsvorming nie!
– Geloofsvorming in die verskyning van die Opgewekte Here het alles te maak met ‘vrees’. Vrees is die mees uitstaande ‘geloofsrespons’ in die verhale. Ons ken dit al uit die Eerste Testament as die vrese-van-Here. En dit het alles te make met verwondering. Miskien druk die woord ‘awe’ dit dalk die beste uit. Onkant-gevangde-verwondering oor God wat net soveel meer is as wat mense in hulle beste vermoëns ooit kan bedink — dit is hoe God sy mense vormend ‘aangeraak’ het . Mense wie se harte brandend gemaak is deur die Woord; waar hulle saam geëet het [Nagmaal] en in die gemeenskap van “vriende” wat nou aan mekaar verbonde was as ingelyfdes in die Liggaam van Chrisus [Besnedenes/gedooptes]. Sonder hierdie verwondering, word geloofsvorming so maklik ‘n selfhelp besigheid. Geloofsvormingstegnieke word ontwikkel; ons help mekaar met allerhande vraelyste om ons gawes te ontdek; ons werk missie-doelstellings uit, ens. Ongelukkig is die meeste van hierdie goedbedoelde dinge niks anders as ‘n dekonstruktiese van ‘verwondering oor God’ se verrassende werking in ons in die Opgewekte Here nie.

* Die bydrae van Eugene Peterson, veral in van sy jongste publikasies: “Practice the Resurrection”; “Eat this Book”; “The Jesus Way”, is in hierdie verband van onskatbare waarde en dit is vir my baie aangenaam om hom ook op die manier erkenning te gee in sy ietwat eensame stryd teen die modernisme wat so diep in ons are vloei.

Trackback from your site.

Leave a comment