Verder Geluister: 1 Korintiërs 15:1-11 Paasfees

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

Sondag 8 April 2012 ~ Paasfees ~ 1 Korintiërs 15:1-11

1 Korintiërs 15:1-11 is ‘n sleutelteks vir ons viering van Paasfees.  In dié teks lewer Paulus die vroegste geskrewe getuienis oor sowel die werklikheid van die opstanding van Jesus, as oor die lewensveranderende krag daarvan, waaroor ons beskik. 

In ‘n samelewing wat al hoe meer individualisties word deurdat elkeen wil glo en doen wat hulle wil, is dit opvallend hoedat Paulus dit ten sterkste beklemtoon dat ons geloof nie los van die van ander staan nie.  Só meld Paulus dat hy die belydenis, wat hy oor Jesus teenoor die Korintiërs wil maak, van ander ontvang het.  Sy getuienis oor die opstanding is ook nie die enigste waaroor hy wil getuig nie.  Hy wil ook getuig oor sy medegelowiges se ontmoetings met Jesus.  Hulle getuienis kan weer nie los van die geloof en getuienis van die Ou Testament verstaan word nie.  Daar word hier nie soseer na ‘n spesifieke teks (bv. Hos. 6:2 of Jes. 53) verwys nie, maar eerder na die belofte en strekking van die ganse Ou Testament.  Geloof is dus vir Paulus ‘n gemeenskaplike saak wat gelowiges van alle tye aan mekaar bind.  Om die rede vier ons met Paasfees die opstanding van Jesus saam met medegelowiges.

Die klem van die oorlewering wat Paulus met die Korintiërs in gemeen het, is nie op die leë graf soos in die vier Evangelies nie, maar eerder op die verskeie verskynings van Jesus en op die kragtige uitwerking daarvan.  Danksy sy eie ontmoeting met Jesus is Paulus naamlik van ‘n vervolger van die kerk in ‘n ywerige verkondiger van die evangelie verander.  Sy ontmoeting met Jesus was vir hom ‘n genadedaad wat sy lewe omgekeer het (vers 10).  Die lys van getuies (vers 5-8) waarna hy verwys is dan ook ‘n getuienis van hoedat dieselfde genade onderliggend aan die ganse kerk is.  Só verwys hy na Petrus wat eers vir Jesus verloën het en Jakobus wat nie in sy broer geglo het nie wat saam met hom as getuies dien van die Opgestane Jesus.

Paulus se argument is dat hy en die ander alleen getuies is danksy die onverdiende genade van God (vers 10).  Dit is in reaksie op dié genade – en nie om dit te verdien nie – dat Paulus harder as enige ander getuie gewerk het (vers 10).  Dieselfde reaksie behoort die kerk steeds te kenmerk.  Só skryf Prof. Susan Hedahl van Lutheran Theological Seminary dat: At Vinje Lutheran Church in Willmar, Minnesota, wooden panels containing names of historical witnesses to the gospel encircle the church. The last two panels are blank. Former pastor Paul A. Hanson used to tell confirmands: “Those panels will have your names on them….” The apostle’s words depict the fact that the gospel invites each of our names to be inscribed within the generous space of the gospel’s invitation to us.

Paulus is dus nie werklik die laaste getuie van die Opgestane Jesus nie (vers 8).  Almal wat God se genade al gesmaak het, is getuies daarvan.  Nie een van ons is ontydig gebore nie.  Ons is eerder almal getuies danksy die genade van God wat die graf leeg gelaat het, maar nie die wêreld nie.  Nie een van ons is ‘n misgeboorte nie.  Jesus is naamlik steeds die een wat mense ontmoet, transformeer en uitstuur as getuies.  Dit is Hy wat ons vergader om saam ons geloof te bely dié Paasfees.  Mag dit ‘n geloof wees wat verder strek as argumente oor die etikette op die verpakking van Paasrolletjies deurdat dit getuig van Hom wat die eerste – en nie die enigste nie – is wat die dood oorwin het.

Marius Nel

Seisoen v Luister ppoint

Trackback from your site.

Leave a comment