Gemeentelike Identiteitsvorming en Migrasie

Written by Jannie Swart on . Posted in Gemeentes

Dit was ‘n trots genoeg oomblik toe ek en my vrou besef dit is nou die eerste keer dat ons seun ‘n meisie fliek toe vat.  Dit was nog meer merkwaardig toe ons die viertal dophou met hul vertrek fliek toe:  ons seun en sy beste skoolvriend, wat Keniaans is, met twee Meksikaanse susters wat saam met hulle in die klas is.  As ‘n kind van apartheid het ek skielik met groot opgewondenheid besef die nuwe wereld is nie net ‘n globaliseringsteorie nie.

Migrasie is besig om die wereld op sy kop te keer, en opwindende nuwe moontlikhede te bied vir die Christelike beweging wereldwyd.  Kulturele antropoloe, soos die Indies gebore Arjun Appadurai in sy boek “Modernity at Large”, het al ‘n tyd terug begin wys hoe “migrationscapes” nuwe globale landskappe begin vorm wat nie alleen ou territoriale kategoriee omverwerp nie, maar ook nuwe “social imaginations” skep.  Nou het ‘n nuwe generasie sendingwetenskaplike, die Sierra Leone gebore Jehu Hanciles (tans by Fuller Seminary in LA hier in Amerika), ‘n boek uitgebring wat met oortuiging toon hoe migrasie omvangryke implikasies het vir die vloei van Christendom in vandag se wereld.  Die boek se titel is “Beyond Christendom: Globalization, African Migration, and the Transformation of the West.”  Wat veral treffend is van Hanciles se analise, is dat dit grotendeels Afrika immigrante is wat tans verantwoordelik is vir ‘n omgekeerde sendingbeweging wat nie meer ontken kan word in die sg. Weste vir die wyse waarop dit kulturele en kerklike transformasie meebring nie.

Hanciles toon oortuigend aan dat daar nog altyd ‘n sterk missiologiese konneksie met migrasiebewegings in die wereld was.  Ten spyte van die feit dat Christendom o.a. ‘n poging was om van die Christelike geloof ‘n “territorial and tribal faith” te maak, skryf Hanciles, was dit nog altyd in sy wese ‘n “migration faith.”  Om die Brief aan Diognetus aan te haal uit die vroee Christendom, vir Christene “any foreign country is a motherland, and any motherland is a foreign country.” Amerika byvoorbeeld (Europa het ‘n ietwat ander dinamika, waaroor ek later sal skryf in terme van die verhouding met Islam) is nou die primere bestemming van immigrante uit Afrika na westerse industriele lande, en dat by verre die grootste persentasie van hierdie immigrante Christene is.  Hanciles skryf dat dit tot gevolg het dat “African Christians form a significant component in the vast body of Christian immigrants whose arrival coincides with a decline in American Christianity.”  En dat “the new immigrant Christian communities are effectively ‘de-Europeanizing’ American Christianity.”

Ten spyte hiervan, is daar nog steeds die oorweldigende tendens onder gemeentes (insluitend immigrante gemeentes!) om solank as moontlik te probeer laaste territoriale en homogeen kulturele bastione in snel veranderende gemeenskappe te wees.  Dit is ‘n verskynsel wat natuurlik nie iets nuuts is vir die van ons wat sensitief is vir hoe NG gemeentes worstel met transformasie te midde van die mosaiek van diversiteit in SA nie.  Wat doen ons in gemeentes om gewoontes te kweek en praktyke te vestig wat hiermee help, sodat gemeentes nie die beweging van God in hierdie nuwe wereld totaal mis nie?

Trackback from your site.

Leave a comment