Groentetuine bring Hoop

Written by Frederick on . Posted in Advent

5de Adventverhaal van Hoop – 4 Desember 2008

Hoe maak Christene ‘n praktiese verskil aan die lot van die armstes van die armes? Vra gerus vir Pieter de Kock van Oos-Londen. Hy vertel opgewonde hoe hulle mense help om groentetuine te maak. Dis ‘n projek wat met behulp van die CMR en borge, soos die NG Kerk in Oos-Kaapland, op die been gebring is. Maar dis nie net uitdeel nie: vandag is die projek grootliks selfonderhoudend – sustainable –  en groei dit hand oor hand.

Die plan is eenvoudig: elke gesin wat ‘n groentetuin wil maak om meer voedsaam te eet, betaal R15.00. Daarvoor kry hulle160 groenteplantjies, 40 van vier soorte elk. Kool, spinasie, beet, groenrissies en rape is onder andere baie gewild. Lidmate van verskeie gemeentes, onder Pieter se bestuur, bedryf die projek.

“Weet jy hoe lekker smaak mieliepap waarby rape – bol en blare – ingekerf is?”, wil Pieter weet. “Laat ek jou vertel: deksels lekker! Wonderlike geur!”

Weet mense hoe om groentetuin te maak? “Ons leer hulle”, sê Pieter. “Die tuin moet 5 by 5 meter groot wees, omtrent so vyf graaflengtes by vyf graaflengtes. Die linkerkantse graaflengte se grond word uitgegrou en diékant gegooi. Die regterkantse graaflengte dááikant. Die binneste grond word omgespit, met kompos gemeng, in lae teruggesit sodat bo- en ondergrond reg aangewend word. Dieselfde groente word nie na mekaar in dieselfde deel van die tuin geplant nie. Hulle leer ook van bemesting. Ons het vroeër kunsmis gegee, maar dis so duur, ons gebruik nou kraalmis wat ons goedkoop in die hande kry.”

“Wat maak julle met die insekplae en al die peste wat groentetuine lok?” Pieter verduidelik dat daar toesighouers is wat elke tuin elke 4 weke besoek, en spuit teen plae wanneer nodig.

Die projek help ook gemeentes saamwerk. VGK-ouderlinge help om die projek te bemark en vind mense wat deelneem daaraan. Hulle help ook die geld insamel.

Peieter vertel hoe die hoër lewenskoste die armstes van die armes raak. Mieliemeel se prys het met meer as 20% gestyg. Dit raak byna doodsake, want dis die stapelvoedsel.

“Is R15.00 dan nie baie vir die armstes om te betaal nie? Kan julle die plantjies nie maar net géé nie.” Pieter lag. “Jy het geen idee wat die R15.00 vir mense se selfbeeld, gevoel van eiewaarde en hul self-bemagtiging beteken nie. Onthou ‘n koolkop kos deesdae R5.00 of meer. As iemand drie van sy koolkoppe verkoop, het hy die geld vir die volgende rondte se tuinmaak.”

Die projek floreer in meer plattelandse gebiede, waar mense nie toegang tot markte het nie. Pieter-hulle beplan om die plantjies ook self te begin verbou. Die doel is om dan kweekhuise in meer afgeleë gebiede te vestig, sodat die projek verder kan groei – steeds selfonderhoudend.

“Wat gebeur met julle, die mense wat die projek bedryf?”, wil ek van Pieter weet. “Ons moes leer dat mens die Koninkryk van God sigbaar moet maak, op ‘n konkrete manier. Ons doen dit met groente. Die armoede is so geweldig groot, kinders woon in huise sonder ouers, want hulle is dood. Daar is baie ellende. Groente op die tafel is die manier waarop ons die Here se hande en voete is.”

Trackback from your site.

Leave a comment