HULDEBLYK: DANIE DU TOIT

Written by webmeester on . Posted in Communitas Inligting

Ons huldig Danie as ‘n mens van broosheid en interafhanklikheid. Hy voltooi sy doktorsgraad in 1971 oor die belydenis dat Jesus ter helle neergedaal het. Hy skryf oor die klimaks van broosheid, naamlik die godverlatenheid van Jesus Christus. En hierdie Christologie en teologie van broosheid en interafhanklikheid sou sy teologiese denke stempel. Sy werk oor ekonomiese etiek, oor bio- en seksuele etiek, en oor menswaardigheid en menseregte sou rus in die godsbeskouing en mensbeskouing van broosheid. Sy werk oor menswaardigheid en meseregte was die eerste sistematies-teologiese werke in Afrikaans oor hierdie temas. As ‘n fakulteit wat menswaardigheid as sentrale teologiese tema gekies het, sal ons graag verder uit Danie se teologiese erflating wil drink.

Die teologie en antropologie van broosheid en interafhanklikheid word nie net in die inhoude van Danie se teologiese arbeid gesien nie. Sy eie lewenspraktyk getuig van hierdie broosheid en interafhanklikheid. Danie het in die apartheidsjare bevrydende klanke oor menswaardigheid en menseregte laat hoor. En dit het hy gedoen teen die agtergrond van ‘n publieke teologie van broosheid en interafhanklikheid. Hy het in die laat tagtigerjare saam met ‘n afvaardiging van kerkleiers dringend met regeringsleiers gaan praat en die weg help voorberei vir die ingrypende veranderinge wat Suid-Afrika op die weg na ‘n inklusiewe demokrasie geplaas het, ‘n demokrasie wat rus in die oortuiging dat ons as Suid-Afrikaners broos is, dat ons van mekaar afhanklik is, dat ons mekaar so baie nodig het oor die grense heen van ras, en klas, gender en seksuele orientering, ouderdom en vlakke van gestremdheid, ook binne die raamwerk van die verhoudinge van mens, dier en natuur.

Die teologiese motief van broosheid en interfhanklikheid is in Danie se omgang met mense weerspieël. Danie se studente getuig dat hierdie sterk Bolandse rugbyvoorspeler (voorryman dink ek), saam met hulle kon huil as leed hulle tref. Kollegas in die fakulteit soos Wilma Riekert onthou sy deernisvolle en sagte omgang met jou te alle tye. Ons onthou sy pleidooi dat ons in ons hug-kultuur tog nie die broosheid en die heiligheid van die liggaam skend nie. Ons moet liefs mekaar well controlled dignifying hugs gee. Studente onthou sy pleidooi vir ‘n etiek van sabbat in die konteks van ons broosheid van liggaam, siel en gees.

En ek onthou altyd sy brose gebed vir sy vroulief toe sy baie siek was: Here, maak dit dan net asseblief ‘n bietjie makliker vir haar, ‘n gebed wat ek nooit sal vergeet nie. ‘n Gebed wat ons aanmekaar vir mekaar moet bid. En Danie sterf op Goeie Vrydag, die dag waarop ons die broosheid van God op sy duidelikste sien. Die dag waarop ons weet ons mag maar die lied sing wat ek en Danie enkele weke gelede saam gesing het: My enigste troos in lewe en dood, is dat ek aan Jesus Christus behoort. Met sy kosbare bloed het Hy my vry gekoop. Dis my anker, my vaste hoop. Ek behoort nou aan Jesus. Niks sal my ooit van Hom kan skei. Op Goeie Vrydag sê ons. Tomorrow is Saturday, but Sunday is coming. Die pad van broosheid is die weg na die opstanding in ‘n nuwe lewe. Die opstanding van die Brose Heiland laat ons vandag vir Danie groet met ‘n: tot wedersiens. Ons sal weer sien. En ons sal mekaar well controlled hugs gee – by die Heer, by die Heer!

Trackback from your site.

Leave a comment