HULDIGING: DANIE DU TOIT

Written by webmeester on . Posted in Communitas Inligting

Ons Departement was destyds nog die Departement Dogmatologie, en hy is self ook opgelei in die dogmatiek, die Christelike geloofsleer. Sy proefskrif was reeds ‘n merkwaardige studie onder die bekende G C Berkouwer oor die vreemde motief van Christus se neerdaling ter helle, in die vroeg-Christelike aanbidding en geleidelik ook in die geloofsbelydenisse van die kerk. Daarmee het hy toe reeds met temas gewerk – hermeneutiek, belydenisvorming, die verhouding tussen aanbidding en geloofsinhoude – wat eintlik vandag eers in Afrikaanse kringe dringend en omstrede word. Hy sou hierdie belangstelling oor jare heen volhou, ook deur lede van die publiek se praktiese vrae oor allerlei sake te bly beantwoord, in rubrieke en talryke publikasies.

Vanweë die aard van sy aanstellings – reeds in Wellington, maar toe ook in Pretoria en hier in Stellenbosch – sou hy egter van meet af en toenemend al hoe meer ook Etiek moes doseer. Destyds was Teologiese Etiek in Suid-Afrikaanse kringe nog maar in die kinderskoene as akademiese dissipline. In die vestiging van Teologiese Etiek as vakgebied sou Danie du Toit daarom dié baanbrekersrol vervul – nie net in ons eie Departement nie, maar veel breër. Ek onthou nog wat waarskynlik een van sy heel eerste opdragte was, toe hy van Wellington genooi is om hier ‘n Teologiese Dag te kom toespreek, as ek reg onthou oor die nuwe seksuele moraal. Dis min of meer wat etiek daardie tyd beteken het: Hy was self nog jonk, hy was pas nog oorsee, hy is in ‘n jeugpos, so hy behoort seker te kan vertel wat nou in die wêreld aan die gang is rondom seks. Sy besondere verdienste was dat hy juis hierdie onkunde en vooroordele oor jare heen sou afbreek en Teologiese Etiek as vakgebied sou vestig en uitbou.

Dit het hy op ‘n besondere manier gedoen – deur grensverskuiwende navorsing en skryfwerk, sowel akademies as populêr; deur entoesiastiese en baie populêre klasgee en studiebegeleiding; deur verreikende en invloedryke diens aan kerk en gemeenskap. Baie vandag hier teenwoordig onthou hierdie aspekte van sy werk – sy talle toekennings, projekte, publikasies; sy talle studiestukke en verslae vir die kerk, in Suid-Afrika én ekumenies; sy diens op kommissies, van kerk, burgerlike lewe en owerheid; sy bydrae as merkwaardige en invloedryke publieke teoloog, in vandag se taal.

Die fokus van sy werk – sou ‘n mens kon sê – was op die mens, op die waardigheid van mense en wat dit konkreet beteken en behóórt te beteken. Dit het gestrek van bio-etiese temas (soos voor-geboortelike lewe, of lewe met gestremdheid) tot sosiale temas (soos menseregte). In ons konteks was van hierdie vrae hoogs omstrede, en ons huldig Danie vir sy versiendheid en moed, om meermale die éérste een te wees wat in sy eie kerklike kringe daaroor gepraat en geskryf het – soos byvoorbeeld met sy werk rondom menseregte, destyds ongehóórd – en meermale dié een gewees het wat op kommissies en in verslae die ongewilde standpunte in die openbaar moes bepleit – soos byvoorbeeld voorstelle vir kerkeenheid met Kerk en Samelewing. Hy was ‘n sterk figuur en ‘n leier, onverskrokke en bereid om te staan vir sy oortuigings rondom die waardigheid van mense. Dis geen wonder dat hy in beslissende oomblikke van ons kerklike en openbare lewe ‘n leidende en vernuwende rol sou speel nie.

As vriende en kollegas huldig ons hom egter ook vir ‘n ánder kant van sy persoonlikheid – naamlik vir sy bereidheid om te luister en te probeer verstaan, om te hoor en te leer; om van siening te verander, om te skuif in sy sekerhede. Die wat sy akademiese werk ken weet hoe sy etiese denke geskuif het van beginsels, na koördinate, na gemeenskappe met hulle tradisies, na die vorming van karakter en deugde – en binne die vaktaal is dit ingrypende skuiwe, blyke van die bereidheid om eerlik te kan vra en dink en oortuig te kan word, om by te hou by nuwe ontwikkelinge en insigte. Sedert Calvyn al word dit as deug binne die Gereformeerde tradisie beskou, teachability, leerbaarheid – alhoewel baie dit skaars van Calviniste sou kon glo! – en Danie du Toit was ‘n besondere voorbeeld van dié deug.

Persoonlik onthou ek met baie groot waardering sy rol in ‘n ekumeniese kommissie waarop ons saam gedien het, oor homoseksualiteit en die Bybel, veral sy bereidheid om te luister en nuut te dink en dan met oorgawe en oorredingskrag sy insigte te kon verwoord – óók sy nuwe insigte. Ons onthou hoe innig hy met ons as kollegas en studente kon praat oor sy lang ervaringe van siekte en broosheid en treur – en hoe geestelik leerbaar dié pynlike prosesse hom gemaak het. Ons onthou ook met verwondering hoe hy ná sy aftrede altyd die eerste was om die nuwe aankomste by die teologiese biblioteek uit te neem en te lees en dan met nuwe entoesiasme daaroor te kom praat, oor nuwe gedagtes en nuwe kennis. Hy was steeds opreg op soek om beter te verstaan en beter te onderskei – dié kwaliteite wat van hom so ‘n besondere etikus, kollega en mens gemaak het.

Toe van ons onlangs een oggend namens die Departement en Fakulteit gaan groet het was dit nogeens my oorweldigende indruk. Ondanks siekte en medisyne het hy ons herken en dadelik – asof diep vanuit sy innerlike, vanuit homsélf – het hy híéroor met ons bly praat: Oor sy verlange om beter te kan verstáán ten einde beter van diens te kan wees. Dis asof dié passie so diep deel van hom was dat hy nog dááruit wou lewe toe soveel anders nie meer saak gemaak het nie. Ons het hom nooit anders geken nie. Dáárvoor is ons dankbaar en huldig ons sy nagedagtenis.

Dirkie Smit

Trackback from your site.

Leave a comment