Johannes Nortier

Written by webmeester on . Posted in Vorige kommentaar

Vir aandag van dr CW Burger

16 Maart 2008
Verslag : VBO Kursus Een: Geestelike Leierskap: 11-13 Maart 2008
Kursusganger: Johannes Nortier

Beste Coenie

Baie dankie vir ‘n wonderlike drie dae saam met jou en Braam. Dit was die eerste keer in ‘n lang tyd dat ek ‘n kursus enduit só geniet het. Dankie veral vir die ruim geleentheid tot interaksie met ander kursusgangers. Ek dink nie julle ouens wat gereeld in die geselsskap is van ander opgeleide teoloë en vakkundiges besef hoe dit voel om die meeste van die tyd alleen met jou eie teologiese denke besig te wees nie. Dit is veral waar van ouens soos ek wat in ‘n eenman-gemeente is.

Ek skryf vir jou hieronder (bls 2,3) ‘n meer eksistensiële verslag om te wys dat ek regtig die kursus ge-internaliseer het. Hierdie verslag gaan nét so na my kerkraad en gemeente. Ek moet sê dat dag 1 se roepingsgesprek vir my makliker was. Dit het my regtig baie diep geraak en alle (?) twyfel oor waarmee ek besig is uit die weg geruim. Dag twee en drie was baie goed, maar ek wonder tog steeds oor die eie aard van leierskap in die kerk. Ek leer byvoorbeeld die gemeente dat ons nie vir mekaar dankie sê nie, omdat Jesus ons geleer het dat dankie-sê in sy dampkring, onnodig is en selfs ‘n steler van ware vreugde kan wees. Nou hoor ek dat ‘n leier is ‘n “one-man-thanking-machine” en dit klink mooi en goed binne die algemene sielkunde van interpersoonlike verhoudings, maar is dit regtig toepaslik in die hart van die kerk. Net soos wat ek tans baie katvoet is vir partypolitiek in die kerk is ek ook versigtig vir die reëls van die algemene besigheidsbestuur in die kerk. Tog weet ek dat die twee sake nie noodwendig teenoor mekaar staan nie. Wat ek eintlik maar net wil sê is dat die insette tov roepingsbewustheid vir my makliker is om met oortuiging huis toe te bring as die insette tov algemene leierskap.

Maar hoe dit ookal sy, hierdie drie dae sal in my bedieningsgeskiedenis opgeteken staan as van die hoogtepunte. Kan ‘n mens sê dat dit ‘n misterieuse ontmoeting was wat ek nie op hierdie tyd en veral nie op hierdie plek verwag het nie? Miskien is dit wat ek al my jare op kweekskool gesoek het, maar nooit gekry het nie. Nou verstaan ek sommer ook skielik hoekom ek die koshuis bó die kweekskool gekies het, want daar het ek meer van God geleer en ervaar ! Ek sal nooit weer die name, Theunis Botha, Christo van Staden, Phillip Scholtz en Schalk Kotze hoor sonder om ‘n bepaalde konneksie te ervaar nie. In ons groepie het ons regtig ‘n vreemde ontmoeting met God en mekaar gehad.

Groete
Johannes Nortier

Liewe Gemeente van Agter-Paarl

Ek skryf vir julle ‘n brief na dag een van die geestelike leierskapkursus waarheen julle my gestuur. Ek het goed geluister wat die dosente sê en God se stem verrassend helder gehoor. Ek wil vir julle, as gemeente, kom dankie sê:
• dankie dat ek mag ervaar dat julle regtig vir God self en eenvoudige ontmoetings met Hom soek;
• dankie dat ek mag ervaar dat julle rondom die evangelie bymekaar kom en dat julle die Woord soek wat soms gemaklik en soms ongemaklik is;
• dankie dat julle die afgelope 3 jaar julleself oopgestel het met ‘n leerbare gees vir die nuwe weg wat God met ons wou loop en dat julle met geloofswaagmoed julle styl daardeur laat verander het;
• dankie dat julle in my ‘n nuwe geloof geplant het dat gemeentes kan verander en dat gemeentes hulle gemeenskappe kan transformeer;
• dankie dat julle verstaan dat om kerk te wees is om God in gedagte te hou daar waar julle is en dat julle op God se ritme met die lewe dans;
• dankie dat julle nie die kerk en God met mekaar verwar nie en dat julle nie liewer vir die kerk is as vir God nie;
• dankie dat julle deur julle aanvaarding van my en deur julle gebruik van my, elke dag my roeping herbevestig;
• dankie dat ek saans moeg huis toe kan kom en kan weet my lewe onder en saam met julle het ‘n bepaalde “significance” wat vir my die lewe die moeite werd maak en my laat voel dat ek regtig nog steeds besig is met my oorspronklike roeping;
• dankie dat julle bereid is om my en my gawes weg te gee vir die wêreld buite die gemeente se grense wat vir my sê dat dit julle verstaan dat my roeping op die koninkryk van God gemik is;
• dankie dat só baie van julle funksies by my oorgeneem het waarin julle beter en waarmee julle gemakliker is as ek;
• dankie dat julle my in Februarie 2008 as julle dominee beroep het, want ek weet inderdaad dat ek vandag saam met julle op die regte tyd op die regte plek is;
• dankie dat ek ervaar dat ons saam intuïtief ‘n klomp dinge reg gedoen het sonder dat ons dit toe geweet het – duidelik begelei die Gees van Christus, op ‘n geheime manier, ons op die nuwe weg;
• dankie dat julle dit vir my moontlik maak om van harte vir julle te kan sê: Ek het julle lief !
• dankie dat ons saam die Vader, Seun en Heilige Gees met vreugde kan dien.

Liewe Gemeente van Agter-Paarl

Ek skryf vir julle ‘n brief na dag twee en drie van die geestelike leierskapkursus waarheen julle my gestuur. Ek het goed geluister wat die dosente sê en God se stem verrassend helder gehoor. Ek wil vir julle, as gemeente, kom sê:
• Leaders are Lovers: ek verstaan dat ons in die gemeente nog meer klem kan lê op die onderlinge verhoudings en dat ek om hierdie rede nog meer geleenthede moet soek vir persoonlike kontak (nog meer huisbesoek ?); ek verstaan dat ons eers mekaar se harte moet verstaan voordat ons mekaar se woorde kan verstaan; ek het gehoor dat ‘n leier eintlik “a one-man-thanking-machine” is, en dat ek meer aandag sal moet gee om mense te laat goed voel oor hulleself (in die verlede het ek altyd geglo dat ogv Jesus se instruksies dankie-sê eintlik ongewens is … ek is nog steeds nie só seker oor hierdie saak nie, maar ek hoor tog dat mense ‘n behoefte het aan erkenning …)
• Leading is the act of enabling: ek is geneig om my eie gawes met oorgawe te beoefen en is nie eintlik daarop ingestel om leiers te kweek nie en besef dat ek hieraan sal moet werk / op ‘n manier is ek in hierdie saak eintlik ‘n bietjie selfsugtig deurdat ek té veel tyd aan my eie ontwikkeling gee en té min aan die ontwikkeling van ander
• Leading is being and doing: in my bediening tot op hede het “being” ongebalanseerd meer prioriteit geniet bo “doing” en ek besef dat ek tog meer dinge in die gemeente sal moet struktureer en organiseer, al hou ek nie daarvan nie ! Ek is natuurlik bang dat ek in die proses die ongesondheid van besige, gejaagde en doelwitgedrewe proffesionele dominees sal opdoen !
• Leaders need other leaders and feedback: ek besef die noodsaaklikheid daarvan om ‘n kleiner groep gemeenteleiers bymekaar te kry om gereeld vir my te help om te verstaan wat in my lewe en in die lewe van die gemeente aan die gang is / ek verstaan ook dat ek tog vir myself ‘n “amptelike” mentor moet kry wat my ook hierin kan begelei / ek wonder wel nog oor die verskil tussen ‘n goeie vriend en ‘n mentor
• Leaders lead best when focusing on their strong points: ek besef dat wanneer ek aanpassings aanbring in my leierskap ek versigtig moet wees dat ek nie só op my swak punte konsentreer dat ek uiteindelik my natuurlike sterkpunte verwaarloos nie – in só ‘n proses is die eindresultaat nie vooruitgang en groei nie !
• Ek sal baie hard moet gaan dink aan die gesegde: “God vat ons soos ons is, maar los ons nie soos ons is nie”. In lyn met die MBTI-uitgangspunt dat ons persoonlikhede geneties bepaal is, sal ek weer moet gaan kyk na die hele saak van herskepping. Ek is dalk té geneig om myself en ander toe te laat om genetiese bepaaldheid as ‘n verskoning te gebruik waarom ons nie hoef te verander nie !

Slot:
My roeping as gewone gemeente-dominee wat deur sy gemeente as ‘n gestuurde gesien word, is opnuut vasgemaak. Ek besef dat itv die algemene bestuurswetenskappe ek bepaalde tekortkominge het. Ek weet egter dat ek liewers as onvolmaakte op die regte tyd en op die regte plek met my Godgegewe roeping besig wil wees as om as “volmaakte” op die verkeerde tyd en op die verkeerde plek met my eie ding besig te wees. En dit is baie goed om dit te weet !

Trackback from your site.

Leave a comment