Kerkbegrip en Rolverwagtinge in die NG Gemeente Murray

Written by webmeester on . Posted in Gemeentes

OPSOMMING

Die sentrale probleem waarmee daar in hierdie navorsing gewerk word, is die volgende: Het daar ’n skuif in die kerkbegrip van lidmate in die NG gemeente Murray (De Doorns) gekom en hoe beïnvloed dit hulle rolverwagting van hulle leraars?   Die doel van die studie is om die kerkbegrip en rolverwagtinge van die lidmate van die gemeente vas te stel en om die gemeente te help om sy missionale identiteit te ontdek.  Die gemeente moet dus geleer word om in die geloof te kan onderskei.

Vir die doel van die navorsing word daar binne die veld van Praktiese Teologie aan die hand van die kruis metodiek van Hendriks se Studying Congregations in Africa (2004) gewerk.  Die prakties-teologiese metodologie wat gebruik word, sê dat daar die hele tyd ʼn  hermeneuties sensitiewe korrelasie tussen Woord en wêreld moet wees; met ander woorde tussen konteks en identiteit. Hierdie korrelasie word geloofsonderskeiding genoem en as dit gebeur, loop dit uit op ʼn  bepaalde strategie, ’n manier van lewe waar lidmate se dink nie institutêr is nie (betreffende die rol van die dominee), maar waar hulle self voor die Here staan en oop is vir sy leiding om in hulle konteks lig en sout te wees. Dit is die ideaal waarna gewerk word.

In hoofstuk 2 word die teologiese fondasie van die missionale teologie aan die hand van die leer van die Triniteit gelê en word die praktiese implikasies daarvan vir die kerk bespreek.  Hierdie is die normatiewe van die missionale teologie.

In die derde hoofstuk word die konteks van die gemeente bespreek aan die hand van die huidige situasie in die wêreld, die veranderinge binne die breë gemeenskap en die huidige situasie in die gemeente.  Daar word op gewys dat die wêreld tans groot, vinnige en onvoorspelbare veranderinge beleef.  Die gemeente sal die impak van hierdie veranderinge op ’n positiewe wyse moet benut deur ‘n alternatiewe identiteit in Jesus Christus te skep.

Die rolverwagtinge van die leraars staan sentraal in die navorsingsprobleem en om dié rede word daar in hoofstuk vier gefokus op wat die navorser beskou as die normatiewe rol van leraars, indien hulle die gemeente wil leer om geloofsonderskeidend te leef.  Leraars behoort bepaalde geloofsvormende gewoontes as prioriteit in hulle bediening te beskou.  Sonder die geloofsgewoontes sal die leraar nie die gemeente kan lei om geloofsonderskeidend te leef nie.

Die NG Gemeente Murray (De Doorns), wat die fokus van die navorsing was, is by wyse van ’n kwalitatiewe vraelys en deur etnografiese studie nagevors.  Die resultate is deur middel van triangulasie bespreek en daaruit het dit duidelik geword dat daar duidelike verskille is wat betref die kerkmodel van voorkeur en die rolverwagting van die leraars.  Dis egter duidelik dat daar wel ’n skuif gekom het in die kerkbegrip van die lidmate.  Hierdie skuif in kerkbegrip het egter nog nie so ’n groot effek op die rolverwagting wat lidmate van die leraars het nie.  Daar is dus ’n mate van konflik tussen kerkbegrip van lidmate en hulle verwagting van die leraars.  Indien dit nie aangespreek word en die rolle van die leraars nuut uitgeklaar word nie, sal die gemeente nie leer om geloofsonderskeidend te leef nie en kan die gemeente nie aansluit by die missio Dei nie.

Trackback from your site.

Leave a comment