Klimaatsverandering

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Klimaatsverandering bly in die nuus.  Nie almal is ewe ernstig by die gesprek betrokke nie, maar iets wil vir jou sê dat hierdie saak op die ou end `n groter impak op ons en ons kinders kan hê as enige resessie. `n Mens kry egter steeds die gevoel dat apatie en eie belang die gesprek domineer. Neem maar die komplekse gesprek tussen ontwikkelende en ontwikkelde lande as voorbeeld. Jy sien, `n gesprek oor uitlaatgasse het rand-en-sent implikasies. Tydens `n wêreldresessie raak dit nog meer sensitief. 

Intussen vertel Weerhaan (DB) ons dat El Nino hierdie komende somer weer oor ons skouer gaan loer. Die feite op National Geographic se webblad is amper al ou nuus. Ons kry nou die warmste in 400 jaar. Teen die  huidige tempo van aardverhitting, behoort die Noordpool teen 2040 sy eerste ysvrye somer te hê. In Montana se Glacier National Park was daar in 1910, 150 geletsers. Vandag is daar net 27 oor. Dan is daar nog sterwende koraalriwwe, veldbrande, tropiese storms, landboukundiges wat kopkrap oor wanneer om wat te plant en die sardientjies wat wegbly uit Durban.

Die komitee van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke wat hier in die Wes-Kaap oor klimaatsverandering werk, het pas `n omvattende verslag oor klimaatsverandering die lig laat sien met die titel: “Climate Change – A Challenge to the Church in SA”. Daar is deeglike wetenskaplike- en teologiese huiswerk gedoen en die kerk sal beslis hiervan moet kennis neem. Die groot vraag is hoe dit alles by die gewone persoon op straat gaan uitkom. Stel mense regtig belang? Is daar by die kerk regtig `n passie om hieroor te praat?  Deel van die probleem is dalk dat ons intuïtief weet dat ons nie reguit hieroor kan praat, sonder dat ons nie ook padlangs oor ons leefstyl en aspirasies praat nie.

Daar is egter `n tweede saak wat by my spook. Dit is die vraag of al die virusse wat ons die afgelope tyd teister, die voorspel tot iets groter is? Is dit maar bloot “seisoenale” virusse in verskillende vorme? Het die wetenskap maar nou eers bewus geword van iets wat lank reeds met ons is?   Gaan dit stop by Ibola, MIV, H1N1, voëlgriep en al die ander, of is die hele dieretuin op pad? Is daar iets ernstig met ons ekosisteem verkeerd?  Is hierdie, soos klimaatsverandering, maar net van die eerste simptome wat daarop dui dat ons gedoem is tot `n massiewe ekologiese korreksie?   

Waar laat dit gelowiges? Ek dink dit roep ons op tot verantwoordelikheid, nugtere nadenke, nederigheid en dissipline. Ons leef immers met die opdrag om “die tuin te bewerk en op te pas” (Gen 2:15) Maar hoe dink ons oor die toekoms? Terwyl terme soos “`n uitbreidende heelal” druk bespreek word, mag gelowiges mekaar herinner aan `n konsep of tema wat reeds oor baie jare in die teolgie aandag geniet het, naamlik die creatio continuata of te wel die voortgaande skepping en onderhouding deur God. Baie bevraagteken dit, maar gelowiges rus in die wete dat die heelal nie in homself rus nie, maar in God. Ons bestemming is nie `n ewige niks nie. Ek is oortuig daarvan dat hoe nader ons aan die grense van ons fisiese bestaan beweeg, hoe meer gaan ons ook geforseer word om veel meer as blote natuurwetenskaplike vrae te beantwoord.

 

Trackback from your site.