{ARGIEF}

Kort-Nuus-Perspektiewe

`n Totale verlies aan vertroue in die markte

Die Britte het Vrydag hul rentekoerse met 1,5% tot 3% verlaag. In ons taal sou dit beteken dat ons rentekoerse met ongeveer 4% verlaag sou word! Steeds het die markte nie verstewig nie, maar geval. `n Logiese afleiding wat gemaak is, is dat as rentekoerse so gesny word, daar regtig GROOT moeilikheid is. Dis duidelik dat ons in `n ernstige vertrouenskrisis is. Dit is dalk tans net so groot en selfs groter as die ekonomiese krisis.


Vlugtelinge in die Kongo en die politieke situasie in SA

Beelde van duisende mense wat met hul karige besittings besig is om te vlug voor die politieke geweld in die Kongo het my diep laat dink, veral na die eerste tekens dat die werklikheid van `n wegbreek-faksie in die ANC tot politieke geweld kan lei. Ek is absoluut oortuig daarvan dat die demokrasie in SA nou eers werklik getoets gaan word. Tot nou toe was die ANC te `n dominante party (soos ZANU-PF vir lank in Zimbabwe) om ons demokrasie te toets. `n Eerste toets is natuurlik by Polokwane deur die ANC self geslaag. Die moeilikheid ontstaan egter wanneer daardie magsbasis en die voordele wat dit inhou werklik uitgedaag word. Dan word die diepere waardes en morele vesels van `n samelewing regtig getoets.


Wat gaan in SA gebeur?

Ek dink dat dinge nog rof mag raak. Oor die werklikheid van etnisiteit en die plofbare potensiaal wat daarin opgesluit lê, is mense bang om te praat. Onthou tog dat die grootste ellendes op aarde nie deur rassisme veroorsaak is nie. Dit was etnisiteit. Dit was Duitsters en Jode, Hutu’s en Tutsi’s, Katolieke en Protestante, Serwiërs en Bosniërs wat mekaar gepak het. Die lysie hou nie op nie. Die uitdaging ook nie. Tog is ek ongelooflik optimisties dat ons die wa deur die drif gaan trek… wel eintlik nie ons nie. Ek glo onwrikbaar dat daar genoeg gelowiges in hierdie pragtige land van ons woon wat veral in hierdie dae nederig buig voor die almag van die Drie-Enige God. Mag sy Gees ons almal vernuwe!


Chaos op die finansiële markte

2 Triljoen dollars daagliks op valutamarkte verhandel

Ek lees in Bernard Lietaer se The Future of Money (Century, London, 2001), dat daar reeds in 2000 op `n “normale dag”, daagliks 2 triljoen dollars se valuta op wêreldmarkte verhandel is. Dit is dus die hoeveelheid “papier” wat verkoop word. Lietaer noem dit die “global casino”. Dit is 150 keer meer as alle goedere wat verhandel word en 100 keer meer as alle aandeletransaksies. Wil jy weet hoeveel is 2 triljoen dollar? As jy `n masjien het wat elke sekonde 1 dollar druk sou die Neanderthal-man die masjien moes aansit om vandag by 2 triljoen uit te kom.
Dit is verhandeling in “papier” wat nie noodwendig enige intrinsieke waarde tot die ekonomie voeg nie. Dan wonder ons hoekom ons tans is waar ons is.

Gedagte vir die dag: As jy konstant kniediep in gierigheid loop, gaan jy gou kniediep in die moeilikheid beland.


Digby 20 000 moorde per jaar in SA.

Kan ons nog van “misdaad” praat?

Ek glo daar is iets ernstig verkeerd met die psige van SA. 20 000 moorde is nie meer net “misdaad nie” Dié skewe psige vind ons in alle bevolkingsgroepe. Kyk wat vang wit kinders aan en hoe vermoor jong swartes ou hulpelose bejaardes… dit terwyl die swart kultuur eintlik `n heilige respek vir ou mense het. Dis kan nie net misdaad wees nie! Oor die dormante woede wat by so baie mense aanwesig is wil ek nie eers begin praat nie. Dit lê orals en broei. Is dit die post-traumatiese stres van apartheid? Is dit `n vorm van anargie wat feitlik alle post-koloniale lande in Afrika een of ander tyd en in een of ander vorm getref het?

Ek was `n tyd gelede in Hillbrow waar kinders in “bondels” saamwoon in woonstelle sonder water, elektrisiteit en enige rioolstelsel. Wat het met hulle gebeur dat daardie “hel” hul “huis” geword het? Jy kan raai waarvan hul leef. Wie is hulle op 28 of 30? Dit is maar enkele voorbeelde. Daar is veel meer. Hoe maak ons dit reg?