Lausanne 3 indrukke

Written by Frederick on . Posted in Artikels

 

Die agt dae by Lausanne 3 het my intens geraak. Die kort antwoord sal wees dat dit ʼn geestelike ervaring was met ʼn magdom feitelike inligting en oorstelpende emosionele indrukke. Dit is egter te maklik geantwoord. Lausanne 3 was veel meer.

Dit was sonder twyfel tekenend van ʼn nuwe tydvak. Ons is in ʼn post- tyd. Dit is post-apartheid in Suid-Afrika, post die Berlynse muur se val op 9-11-1989 en post die Amerikaners se 9/11 “welcome to the real world” ontnugtering. Dit is post triomfantlike meerderwaardigheid, super teologiese helde en eenoog konings. 

Met 4200 mense uit 198 lande wat in 28 tale kyk en luister (saam met 600 sentra wêreldwyd) na wat aangebied word, ervaar jy globalisasie en die inligtingsera. Google “Lausanne 3” en jy sal sien! Die feit dat Chinese kuberkrakers die konferensie se elektroniese bandwydte probeer beset het, dat daar hoogs selektief met inligting en foto’s of video’s van kongresgangers uit lande waar vervolging heers omgegaan moes word, het ʼn  nuwe dimensie van die spel van globale sisteme ontbloot.

Die nuwe tydvak raak die kerk en teologie en ontbloot essensie. Eers ervaar jy die paradigmaskuif intuïtief. Alles werk anders. Kontraste skiet my te binne: 1982 NGK Algemene Sinode, waar daar nog gepoog was om vanuit politieke en institusionele magsposisies van bo af te gemanipuleer.  Die kontras tussen hoe die verhoog by Lausanne hanteer kontrasteer met herinneringe aan ʼn  dominee wat oordonderend preek geborg deur ʼn kanselkleed waarop daar staan “So spreek die Here.”

By Lausanne 3 was daar nog ʼn paar gryskoppe wat agter die podium gestaan het en oorversekerd die volle waarheid beetgehad het.  Eintlik was die uitsonderings goed want dit het die kontras helderder gemaak. Daar was baie stemme. Nie een persoon het die podium of die praat oorheers nie. Daar was stemme van elke kontinent, uit elke moontlike konteks, vroue en mansstemme. Die tipiese rasionele bravade van selfversekerde studeerkamer teologie is grotendeels weg.  Daar was veel meer wat in gebrokenheid en met verwondering getuig. Jy kon pyn hoor in die getuienisse van geliefdes wat hulle lewens vir die evangelie verloor het. Daar was verslaentheid oor roekelose onreg en die aller verskriklikste vergrype wat in ons wêreld gebeur. Ek het telkens gehuil. Daar is verwondering oor wat die Here doen, oor die kerk wat groei ondanks die felste teenkanting. Mens merk op dat evangelisasie telkens so algeheel anders plaasvind as op groot saamtrekke met blink predikers. Egtheid en oortuiging het behoort aan die wat in die eenvoud van gelouterde vervolging en bittere swaarkry vertel het van die verskil wat Jesus maak. Die evangelie is sonder die kruis nie eg nie.

Die manier waarop die konferensie gestruktureer is, is ook tekenend van ʼn  nuwe paradigma. Ons is ingedeel in 700 tafelgroepe van 6 mense, so divers as moontlik. Al die oggendsessies was in die groot konferensiesaal. Verstommende tegnologie! Die eerste 1¾ uur was “Celebrating the Bible.” Efesiërs 1-6 se temas oor 6 dae was: waarheid, versoening, wêreldgodsdienste, prioriteite, integriteit en vennootskappe. Elke tafel het gewandel in die Woord en terugvoer gegee wat verder verwerk was. Sang en musiek, toneel en video’s, sprekers en getuienisse het elke tema begelei. Daar was ʼn eksegetiese inset en later die oggend, na die tee, gewoonlik drie sprekers (drie verskillende perspektiewe) wat oor die tema gepraat het. In die middae was daar grootgroep sessies (1½ uur) en talle kleingroep sessies waar spesifieke belangegroepe saamgekom, genetwerk, gesels en beplan het. Die aandsessies was getuienisse oor wat God deur die kerk in die wêreld laat gebeur, asook filmsessies.

Die hoogtepunt? Die ervaring van die koinonia tussen die ses mense met wie ek bevoorreg was om ʼn  tafel te deel. Bethany met haar baba uit Washington DC, sy werk in ʼn  agentskap wat geregtigheid bevorder. Philippa uit London wat vir  Tearfund werk. Fari uit Iran wat  sedert die revolusie reeds 17 familielede verloor het omdat hulle Christene geword het, leier van 3500 groeiende, vervolgde, huisgemeentes. Jack uit Jerusalem, bekeerde Moslem-Palestyn; dominee wat reeds sewe keer deur die Israeliese in die tronk gegooi is. Fouad uit Kaïro, Egipte, bekeerde Moslem, elektriese ingenieur / besigheidsman wat tans meer as sestig bedieninge bestuur waar onder andere besigheidsmense uitreik. Ses insette op Efesiërs, ses replieke op die insette van die verhoog. Verrykend.

Diepste indrukke: die missio Dei vind al hoe sterker “van onder”, waar daar oor grense beweeg word, gestalte. Nederigheid, integriteit en eenvoud staan al hoe meer uit as die waarmerke van die kerk. Ek het meer “mission” gehoor as “evangelization”. Opregte selfondersoek en besorgdheid oor verdeeldheid, vals motiewe, die voorspoedkultuur en rykdom-armoede het uitgestaan. Die “suide” sit nie meer gedwee stil nie. Vroue se aandeel was substansieel en die gender gesprek was genuanseerd. Dogmatiese swaardgevegte was nie op die agenda nie. Die tyd van sendelinge wat na verre heidenlande gaan is waarskynlik verby. “Mission is everywhere to everywhere”. Die kerk leef nie meer in kerkgeboue en teologie in akademiese biblioteke nie. Dit beweeg na waar daar nood is, dit beweeg oor grense na nuwe naastes. Ek dink die kruis raak ʼn groter, en hoewel pynlik, ʼn meer bevrydende realiteit. Sonder die kruis, sterf die kerk; waar die kruis ervaar word, leef dit.

Trackback from your site.

Leave a comment