Leerbare gemeenskappe

Written by Frederick on . Posted in Artikels

Leerbare gemeenskappe
VBO bied ‘n uitstekende geleentheid om die kerk te ontwikkel as ‘n gemeenskap van leerders.
Frederick Marais
(Artikel vir Kruisgewys Februarie 2009)


Live as if you were to die tomorrow. Learn as if you were to live forever.
Mahatma Gandhi


 


Dit was in ‘n kursus vir predikante wat ek verlede jaar die eerste keer waargeneem het dat leerbaarheid besig is om deel te word van ons kerkkultuur. Ons was besig om te praat oor die her-ontwerp van vergaderings – toe een van die predikante skielik sê “Ek het nie ‘n clue hoe om dit te doen nie,  by wie kan ek leer hoe? “ Dit is (gelukkig) nie meer ‘n skande om te sê jy weet nie, leer my asb! Waar is die dae wat ons in die klas, in Ringe, in kommissies en Sinodes met mekaar gekompeteer het? Ek het sedertdien baie gewonder wat ons kan doen om sulke momente van leer deel te maak van ons kultuur as kerk.


Ek dink die implementering van VBO bied aan ons ‘n uitstekende geleentheid hiervoor. Vir die volhoubaarheid van VBO op alle vlakke in die kerk sal ons ‘n groter visie moet ontwikkel as die ontwikkeling en aanbied van kursusse.  Die vraag is nie hoeveel mense ‘n kursus bygewoon het nie, meer hoeveel leer plaasgevind het.  Peter Senge het in 1990 in sy indrukwekkende boek The Fifth Discipline uitgestippel hoe organisasies of gemeenskappe leerbaar kan word. Ek werk byna daagliks met die insigte uit die boek en het weer gaan kyk na wat ons by hom kan leer oor hoe ons ‘n gemeenskap kan word waar mense voortdurend leer.  Ek maak die beginsels hier van toepassing op VBO maar dit sou net so maklik op gemeentevlak toegepas kan word op die vraag: hoe vorm ons dissipels in gemeentes. As ek dit reg het beteken die woord dissipel, leerling.


Peter Senge definieer ‘n leerbare organisasie soos volg:
…organizations where people continually expand their capacity to create the results they truly desire, where new and expansive patterns of thinking are nurtured, where collective aspiration is set free, and where people are continually learning to see the whole together. Senge (1990: 3)  …(F)or this to happen, it is argued, organizations need to ‘discover how to tap people’s commitment and capacity to learn at all levels’ (ibid.: 4).


Senge se visie vir leerbaarheid is meer en dieper as nood-leer-bid of leer-ter-wille-van-oorlewing waar ons aanpas en gedwing word om te leer op ‘n re-aktiewe manier.  Aanpassende leer moet aangevul word met wat hy noem “ generative learning”, “learning that enhances our capacity to create” (Senge 1990:14). Senge sien dus leerbare gemeenskappe wat ter wille van ‘n groter saak voortdurend besig is om skeppend en kreatief te leer en te ontdek en aangemoedig word daartoe..
Senge identifiseer vyf dissiplines wat ‘n leerbare gemeenskap help skep, nl. sisteemdenke, persoonlike bemeestering, denkraamwerke, gedeelde drome en leer in spanne.  Ek gaan na vier van hierdie dissiplines kyk en dit van toepassing maak op VBO




  1. Sisteem denke 



Sisteem denke is vir Senge die hoeksteen van ‘n leerbare gemeenskap. Dit is die dissipline wat integrasie bring tussen die onderdele en die geheel van die sisteem. Sisteemdenke is in wese ‘n dissipline wat die werklike gebeure dodelik ernstig neem en dan in verband bring met mekaar deur te vra na oorsaak en gevolg  én die wyse waarop herhalende patrone van oorsaak-en-gevolg voorkom. Dit is ‘n dissipline omdat dit eenvoudig nie toelaat dat daar met vinnige penstrepe onnadenkende konklusies gemaak word van komplekse aangeleenthede nie.  Tiperend van hierdie dissipline is dat deelnemers gedwing word om hulle eie voorkeur oplossing – “gut answers” nie te vertrou nie, maar telkens te vra na die verbande tussen die dele van die geheel.
Met VBO het ons die geleentheid om gelyktydig aandag te gee aan die geheel en die onderdele van die geheel van gemeentebediening. Leersituasies wat nét fokus op die onderdele of nét op die geheel, sal leer in die ware sin van die woord in die wiele ry. Onderwerpe en aanbieders sal so gekies moet word dat hulle die spesifieke bedieningsvaardigheid wat ter sprake is, voortdurend in verband kan bring met die volle gemeentebedieing. Ons sal dus soos wat ons werk aan die onderafdelings van gemeentebediening ook die hele tyd moet bou aan ontwikkeling van ‘n ekklesiologie.


2. Persoonlike bemeestering


“Organizations learn only through individuals who learn.”  Individue wat leer waarborg nie noodwendig ‘n leerbare gemeenskap nie, maar aan die ander kant is dit onmoontlik om ‘n leerbare gemeenskap te word indien daar nie leer plaasvind op persoonlike vlak nie.(Senge 1990: 139). “Personal mastery is the discipline of continually clarifying and deepening our personal vision, of focusing our energies, of developing patience, and of seeing reality objectively” (ibid.: 7). 
Die voortdurende verskerping van ons persoonlike roeping, die gepaardgaande gefokusde energie en die aanleer van geduld is persoonlike vaardighede wat ingeoefen kan word oor tyd. Dit is bv.  ‘n uitsonderlike vaardigheid om vanuit ‘n roeping te leef.  Die spesifieke bemeestering  waarvan Senge hier praat is meer as net om ‘n persoonlike roeping te kan formuleer , maar om deur hierdie roeping gevorm, lees getransformeer, te word. Roeping word die leermeester wat voortdurend die oog rig op die horison en so ‘n weg vind na die toekoms.  Ek het by die lees hiervan gedink aan Anton Rupert se gesegde:  Waar daar ‘n wil is daar ‘n weg, en dan word die wil die weg.
Indien VBO ruimtes kan skep waar ons mekaar aanmoedig en bemoedig in die proses van die bemeestering van nuwe kapasiteite, word ons ‘n gemeenskap van reisgenote. Sou ons net die kennisvlakke verhoog, kan VBO kontraproduktief wees omdat verhoogde kennisvlakke sonder die inoefening en bemeestering lei tot groter frustrasies.
 


3. Denkraamwerke



In Senge se sisteem denke is die bewuswording van ons “mental models” deurslaggewend. “These are ‘deeply ingrained assumptions, generalizations, or even pictures and images that influence how we understand the world and how we take action” (Senge 1990: 8).  Ons is dikwels nie bewus van die beperkinge wat ons “mental models” op ons denke plaas nie.  Leerbare gemeenskappe sou gemeenskappe wees wat bereid is om uitgedaag te word tot ‘n bewuswording en transfomasie van uitgediende en ontoepaslike denkraamwerke.  Ontoepaslike denkraamwerke is denkraamwerke wat die gemeenskap in die verlede gedien het, maar nadelig is vir die toekoms van daardie gemeenskap. Baie van die ongemak wat ons ervaar in prosesse van verandering het te make met uitgediende denkraamwerke wat nie gerehabiliteer word nie. Indien ons mekaar kan help om ook op die vlak van ons denkraamwerke ontdekkings en verstellings te maak, gaan ons ons eie vermoë om nuwe metodieke te implementeer geweldig verhoog.
VBO sal ons dus moet help om meer te doen as om net nuwe vaardighede aan te leer, maar ons ook moet help om ons teologiese en ekklesiologiese denkraamwerke te verbreed en aan te pas by die uitdagings van ons tyd. Hoe helderder hierdie nuwe raamwerke is, hoe groter sal ons vermoë wees om nuwe vaardighede aan te leer en te implementeer.  Aan die ander kant sal nuwe vaardighede sonder nuwe denkraamwerke nie anders kan as om te lei tot verwarring nie.


4. Leer in spanne


Om in spanne te leer is heeltemal anders as om op ons eie te leer. Ongelukkig het meeste van ons leer in ons akademiese vorming plaasgevind in isolasie of selfs kompetisie met ander. Senge is van oordeel dat indien persone binne spanverband, (lees kollegaspanne, Ringe, kommissies, navorsingsgroepe, kleingroepe ens, sal individue eenvoudig vinniger groei as wanneer hulle op hulle eie moet leer. (Senge 1990: 236)
Leer kan net in spanne gebeur indien debat getransformeer word tot dialoog. The discipline of team learning starts with ‘dialogue’, the capacity of members of a team to suspend assumptions and enter into a genuine ‘thinking together’. “To the Greeks dia-logos meant a free-flowing of meaning through a group, allowing the group to discover insights not attainable individually…. [It] also involves learning how to recognize the patterns of interaction in teams that undermine learning.” (Senge 1990: 10)
Ek dink Senge praat hier van die verhoudings tussen die individue wat leer. Indien dit veilige ruimtes is waar ons aktief na mekaar luister, mekaar waardeer eerder as om te beskaam, ontstaan die potensiaal dat ons mekaar kan beïnvloed. Klaskamers waar sg kundiges aan leke iets probeer leer, sal getransformeer moet word tot veilige ruimtes waar ons elkeen iets het wat ander by kan leer.



 

Trackback from your site.

Leave a comment