Maandelikse Fokus: Huweliksbevestiging

Written by Admin on . Posted in Preekstudies

Huweliksbevestiging  Psalm 121

‘n Mens kan miskien daaroor glimlag dat spesifiek hierdie psalm by ‘n huweliksbevestiging gelees word. Asof hierdie twee wat vandag trou baie benoud is oor wat voorlê! Dit is natuurlik nie die rede nie. Eerder die feit dat dit ‘n wonderlike psalm is by die huweliksbevestiging van twee Christene.

Die meeste van ons ken Ps 121 as ‘n pelgrimslied [ “bedevaartslied”  in die OV]. Dit gaan hier heel waarskynlik oor ‘n pelgrim of aanbidder wat by die tempel in Jerusalem aanbid het en sy offers gebring het en wat nou op pad is terug huistoe. Wat ons hier hoor is sy gebed voor die terugtog.

Die psalm kry vir ‘n mens ‘n totaal ander betekenis wanneer jy raaksien dat ons hier te make het met ‘n tweegesprek en nie bloot net met ‘n belydenis van die pelgrim self nie. Heel waarskynlik ‘n tweegesprek tussen die pelgrim en die priester

In vers 1 en 2 is die pelgrim aan die woord. Die berge wat hy nou moet oor op pad huistoe laat hom die  potensiële gevare van die terugtog deeglik besef. Nou is die vraag: watter gerusstelling is daar vir hierdie terugtog in die lig van wat hy so pas gedoen het? Het die aanbidding en rituele van so pas enige betekenis vir sy terugtog? Maak dit enige verskil daaraan? Hy  beantwoord self die vraag in vers 1 en 2

In vers 3 tot 8 het ons dan heel waarskynlik die reaksie van die priester. Daarom is dit in die tweede persoon geskryf. [Nie meer “ek” en “my” nie, maar “jy” en “jou”] En wat belangrik is om van die priester se reaksie raak te sien, is dat die priester nie bloot die pelgrim se belydenis bevestig nie. Die priester seën hom, stuur hom weg huistoe met die seën van die Here.

‘n Mens staan dus hier op die grens tussen “liturgie en lewe”, tussen erediens en lewe. Waarvandaan die pelgrim kom, is vanuit die liturgie, die aanbidding en ontmoeting met God in die tempel en die erediens. Waarheen hy op pad is, is die alledaagse werklikheid – wat iets heel anders is as die beskermde omgewing van tempel!

Nou is die vraag: watter verskil maak die erediens en die teenwoordigheid van God wat hy daar bely en beleef het aan die stuk van die lewe wat nou voorlê – aan die “son” en die “maan” en die “berge”, met ander woorde aan die fisiese gevare en die onbekende magte soos daar in daardie tyd daaroor gedink is. Maak die liturgie enigsins ‘n verskil … of is dit net ‘n blote ritueel?

Ook by ‘n huweliksluiting staan ‘n mens as gelowiges op hierdie grens. Die huweliksluiting begin ook met “liturgie”, met ‘n  byeenkoms in die  “Naam van die Here”. Wat nou voorlê is natuurlik eers die “honeymoon” ! En dan die gewone realiteite van die lewe, die werklikheid van te bou aan julle huwelik, die werklikheid van die baie “magte” wat groot skade kan doen aan ‘n mens se huwelik.

En nou is die vraag: watter verskil sal hierdie huweliksbevestiging in die naam van die Here aan julle lewe saam maak ? Watter konkrete verskil gaan dit aan julle huwelik maak?

Ps 121 wil sê: dit beteken dat julle vandag hier uitgaan met die seën van die Here. Want die priester in die psalm is eintlik die verteenwoordiger van God. Die seën wat hy uitspreek is die belofte en die werklikheid van die teenwoordigheid van God. En dit maak al die verskil – ook aan julle huwelik

Daarom kan julle in julle huwelik doodseker wees van die Here se teenwoordigheid en betrokkenheid in elke faset van julle lewe apart en saam [vgl vers 8: “waar jy ook al gaan”; OV: “jou ingaan en uitgaan”]

Dit kan ons elkeen as gelowiges bely ten opsigte van ons eie lewe en huwelik. Dit kan julle twee glo ten opsigte van julle huwelik. Julle begin  vandag julle huwelik en lewe saam met baie meer as die baie goeie wense wat vandag nog vir julle toegewens sal word. Julle begin dit met die seën van die Here. En dit is die belangrikste werklikheid wat julle lewe saam kan en sal stempel.

[Wanneer die seën aan die einde van die diens oor die paartjie uitgespreek word, kan die liturg die gemeente nooi om ook hulle hande op te steek en saam met hom/haar die paartjie te seën. Verduidelik vir hulle dat ons as Nuwe Testamentiese Christene immers almal priesters van God is. Die paartjie kan dus na die gemeente toe draai en ervaar dat die hele geloofsgemeenskap hulle in die Naam van die Here seën.]

Hannes Koornhof

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment