Maandelikse Fokus

Written by Admin on . Posted in Preekstudies

Begrafnispreek

Verantwoording

Die Situasie Kobus was 24 jaar oud toe hy selfmoord gepleeg het deur homself in sy kamer by sy ouerhuis dood te skiet. Hy het geen brief nagelaat nie en sy ouers en die res van die familie, asook sy vriende, kon geen lig op die ellendige gebeure werp nie. Daar was geen vooraf aanduiding of aantoonbare aanleidende oorsaak nie. Soos dit maar met sulke tragedies is, was daar egter heelwat spekulasie – “die mense” het gepráát …

Die Woord (Romeine 8:31-39)

Die laaste deel van Romeine 8 (Die triomf van Gods genade – W.D. Jonker, teenoor FF Bruce se The triumph of faith) is by die roudiens gelees en oordink. Natuurlik staan hierdie gedeelte in die nouste verband met die voorafgaande (die hoofstuk begin dan met die stellige verklaring: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.”) en veral die náklanke van verse 18-30 is goed hoorbaar (vgl.vers 18: “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur …”) Met sy retoriese vrae, skerp uitroepe en helder verklarings – laasgenoemde soms enkele woorde (“God self spreek hulle vry.”) en soms meer uitgesponne – en met die opwindende verklaring teen die einde, wat sekerlik bedoel is as ‘n soort samevatting van die lang argument, nog eens ‘n bevestiging van ‘n onwrikbare oortuiging, vorm hierdie nege verse ‘n allertroostende afsluiting van die argumente wat Paulus in die hoofstuk voer.

Dié Woord in dié situasie?

Die lig-polemiese trant in die prediking honoreer, reken ek, die inhoud van die teks – die troos, die triomf, die sekerheid te midde van die aanvegtinge van die groot onsekerhede: lewe en dood. Maar dié tipe aanslag probeer ook die buitengewone omstandighede in ag neem: die onbeskryflike trauma wat die geliefdes én die gemeente deurmaak – en beide se pogings om sin uit die gebeure te maak. Dit maak dié teks uitnemend geskik vir ‘n begrafnispreek wat in sulke omstandighede voorberei en gelewer moet word. Tot troos vir die familie en die gemeente, én vir die prediker.

Prediking

(Skriflesing)

Ja, wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge?

Al hierdie dinge?

Watter dinge?

Die ding dat Kobus homself met sy jaggeweer geskiet het? Die ding dat daar nie ‘n brief was nie, dat niemand kon sê – nie ‘n ma of ‘n pa, ‘n broer of suster of ‘n vriend of vriendin, niemand wat naby aan hom geleef het – wát tot hierdie tragedie aanleidng kon gee nie? Nee, hulle kon geen gevolgtrekkings maak nie. Nie dat hulle nodig gehad het om gevolgtrekkings te maak nie; daar was in hierdie afgelope klompie bitter dae oorgenoeg mense wat sulke gevolgtrekkings namens hulle gemaak het. Mense wat praat en spekuleer, wat hulle slim hou en oor die algemeen oor alles ingelig is, húlle maak die gevolgtrekkings … Miskien is dit vandag, en hier, die aangewese tyd en plek om ons gevolgtrekkings vir onsself te hou, ons slim antwoorde vir eers op te skort. Ten minste moet ons net stilbly sodat ons – ons wat almal deur hierdie tragedie geraak is, en veral hierdie seer mense in die voorste banke – kan hoor hoe klink ‘n ander gevolgtrekking. Die een wat ons pas gelees het.

Paulus skryf mos in die voorafgaande gedeelte uitvoerig oor lyding: die lyding wat ons nou moet verduur, die verydeling, die verganklikheid. Die swakheid van mense wat in sulke omstandighede nie eens weet wat en hoe hulle behoort te bid nie. En op al hierdie groot, ellendige vraagstukke gee hy sy troos – veral skryf hy oor hoop, en oor God se Gees wat namens ons bid, en oor God wat sy kinders vryspreek.

En dán vra Paulus: Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Sy antwoord is agt verse lank, ‘n antwoord wat begin met ‘n uitroep: God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? As God – in al hierdie dinge – aan ons kant is, watter moontlikheid is daar dan dat iemand teen ons kan wees? Wie is gebore in staat om teen ons te wees? Wie sal dit waag?

Kyk, as Hy dan sy eie Seun laat kruisig het sodat óns sy seuns en dogters kon word, sodat ons die erfgename kan wees van sy oorvloedige genade; wie of wat sal ons daarvan kan ontneem?

Dit is Paulus se gevolgtrekking: Die genade wat God skenk, is genoeg. Genoeg om ‘n swaar kruis te dra. Dié genade sal ons aan die lewe hou, ook in hierdie bitter dae. Dit sal ons krag gee, ook in die tyd wat kom: Kobus se verjaarsdag, die eerste Kersfees, ál die dae wat ons kruis so ekstra swaar sal wees.

Dan roep Paulus weer uit:
Wie kan die uitverkorenes van God aankla? Wie kan ons veroordeel? As God ons dan vrygespreek het, wie op aarde, of wié in die hemel, watter mag of krag, kan dan wéér die boeke oopmaak en die skuld bereken en ‘n vonnis vel? Jesus het gesterf om hierdie skuld te betaal, Hy het die vonnis ontvang en die straf gedra. Méér nog: Hy het die dood oorwin; Hy leef. En Hy onthou vir ons – ons wat steeds met die sware kruis loop, een wat in hierdie dae so ekstra swaar is. Daarom praat Hy mooi – pleit Hy – vir ons by sy Vader, die God wat ons vryspreek. Dit is Paulus se gevolgtrekking: Die prys wat Jesus betaal het, was hóóg. Dit was genoeg vir gister en eergister en laasweek, en vir môre en oormôre en vir die dae wat kom. En dis genoeg vir vandag, hierdie swaar dag.

Ten slotte daag Paulus sy lesers uit:
Wie kan ons van die liefde van Christus skei?
En hy noem ‘n klomp ellendige dinge, moontlike skeidingmakers.
Sal lyding ‘n muur kan bou tussen my en Christus?
Sal benoudheid my kan weghou van Christus se liefde?
Of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?
Sal ‘n skoot uit ‘n jaggeweer my afsny van Hom en sy liefde vir my?
Nee! sê Paulus, ‘n duisend maal néé!
Christus het al hierdie dinge baasgeraak; Hý is die oorwinnaar.
‘n Noodkreet, ‘n wanhoopsdaad, ‘n knal uit ‘n geweer het nie die laaste sê nie. Jesus het. Omdat Hy ons liefhet, is die laaste woord altyd Syne.

En vandag, op hierdie sware dag, is sy woord aan ons ‘n trooswoord. Daar sal nog baie sulke woorde wees in die dae wat vir julle en vir ons voorlê – liefdeswoorde. In ‘n wêreld en ‘n tyd waar harde woorde skynbaar seëvier, waar skimpe en stories onbeheers losgelaat word, kom God se Woord sag en vol ontferming na ons toe aan. Dalk met minder antwoorde as wat ons sou wou hê, maar met meer liefde en begrip as wat ons sou dink.

En nou? Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge?
Watter dinge?
Die ding dat God vir ons is, dat Hy ons vryspreek.
Die ding dat Jesus die prys betaal het, dat Hy uit sy liefde vir ons die skeidingsmure afgebreek het.
Die ding dat Hy ons vandag en ál die dae, in ons smart en onbegrip, vashou.

Hiervan is ek oortuig, sê Paulus, en sê ons vandag: Geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping
of ‘n skoot uit ‘n jaggeweer
kan ons skei van die liefde van God nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Barend Vos

Trackback from your site.

Leave a comment