Tweede gedagtes – Markus 9:2-9

Written by webmeester on . Posted in Verder geluister

Sondag 22 Februarie 2009

1. Ons is regtig gelukkig dat Marius Maree vir ons `n baie goeie stuk oor hierdie perikoop gegee het. Sy eksegetiese oorsig dek die wesenlike punte en sy preeklyn is baie bruikbaar en beslis verantwoord. Saam met Dirkie Smit se studie in Woord teen die Lig 1,8, kan predikers ver kom met hierdie materiaal.

2. Die belangrikste verkondigingsmotiewe van die perikoop is redelik voor die handliggend:

  • Die binnekring van dissipels kry die ongelooflike geleentheid om Jesus te sien vir wie Hy werklik is: in sy heerlikheid, in die geselskap van Moses en Elia. Jesus het dit meermale vir hulle gesê, maar hier sien hulle dit nou: Hy is die Heer! Alles wat Hy gesê het Hy is, en meer.
  • Die heerlikheid en grootheid van Jesus word verder bevestig deur die stem uit die hemel wat sê: “Dit is my geliefde Seun.  Luister na Hom.”  Ek meen dat hierdie stelling en opdrag vanuit die hemel `n uiters belangrik rol in die perikoop speel en die hart van die boodskap van die gedeelte opsom.  Jesus is die Heer; en daarom moet en kan ons na Hom luister – sonder vrees of huiwering. Wat my betref sou hierdie twee punte die sentrale punte van `n preek oor die gedeelte kon wees (soos wat inderdaad die geval is in Marius se preekvoorstel).
  • Ewe belangrik is dat die evangelis ons waarsku dat die soort ervaring wat hier vir Petrus en die ander gegun word, verkeerd verstaan kan word.  Vir Petrus is die ervaring self so wonderlik dat Hy op die berg wil bly en aanbied om hutte te bou vir al die belangrikes.  Hy sien nie die verband tussen die openbaring wat hulle ontvang en egte dissipelskap nie. In die Bybel het openbarings en ander Godservarings selde `n waarde in sigself – dit word gegee met die oog op sterker geloof en beter gehoorsaamheid in die werklikheid van die lewe.
  • Dié deel van die verhaal illustreer die dissipels se stiksiendheid en hulle traagheid om te verstaan.  Dit wys ook dat hulle – soos ander mense – heerlikheid en glorie verkies bo diensbaarheid en lyding.  Dit is betekenisvol dat Petrus hierdie opgewonde woorde uiter enkele dae nadat Hy Jesus uitdruklik oor sy komende lyding hoor praat het.
  • In die laaste vers van die perikoop sien ons ook dat bergtopervarings verbygaan. In `n oogwink was die besondere ervaring “oor” – Elia en Moses was weg en Jesus se heerlikheid was nie meer fisies sigbaar nie.  Hulle het oorgebly – sê die teks veelseggend – met Jesus “alleen”. Die bedoeling is duidelik: die gewone lewe gaan nou weer aan en wat voorlê gaan toets of die ervaring `n verskil aan hul lewens gemaak het.

3. Die moeiliker vraag by die perikoop gaan oor die verband, en oor die plasing en betekenis daarvan in die geheelverhaal van die evangelie.  Daar is baie menings hieroor (vgl Dirk Smit se stuk).  Ek gaan na twee verwys:

  • Daar is uitleggers wat meen dat Markus se intensie met die verhaal eintlik is om te wys op die beperkte waarde van bergtopervarings.  Daar is baie mense wat meen dat hulle geloof veel beter sou wees as hulle eerstehandse ervarings met Jesus self kon hê en iets van sy glorie kon sien.  Die perikoop wil vir ons sê dat die nie noodwendig so is nie.  Hier sien ons dat so `n ervaring nie die verskil maak wat ons sou dink nie.  Petrus sien Jesus se heerlikheid, verstaan dit verkeerd en – die mees teleurstellende – verloën Jesus nogtans die oomblik as hy getoets word.  Die positiewe klem in die gedeelte – sal dié standpunt sê – lê op die woorde: “Luister na Hom”.  Ons sien nie altyd die glorie nie en moet ons nie daardeur laat verlei nie.  Wat ons sien en het, is die “gewone” Jesus alleen.  Die vraag is wat ons gaan maak met sy woorde.  Só verstaan, is daar `n betekenisverband tussen hierdie perikoop en die gelykenis van Lasarus en die ryk man (vgl Smit). Ons moet  nie die woord van die Here wat na ons almal kom, onderskat of lig opneem nie.  Dit is wat ons kry.  Die vraag is wat ons daarmee gemaak het.
  • Persoonlik meen ek dat `n mens meer positief oor die bergtopervaring moet oordeel. Die bedoeling van hierdie ervaring – so glo ek – was dat `n sien van Jesus in sy werklike grootheid en heerlikheid die drie dissipels moes help om in die komende, moeilike dae van lyding wat voorlê, gehoorsaam aan Jesus se woorde te wees.  As `n mens dit gesê het moet jy onmiddellik byvoeg dat die ervaring self nie vir ewig bly nie, dat ons moet teruggaan na die gewone lewe, en hoogstens kan hoop dat die ervaring ons sal by-bly en inspireer tot gehoorsaamheid.
  • `n Mens sou bg interpretasie van die teks kon knoop aan vele ander gedeeltes in die NT waar dit duidelik is dat geloof en navolging van Jesus juis moontlik word wanneer mense gehelp word om iets meer in Jesus te sien of te hoor as wat ander klaarblyklik sien of hoor.  Aan die einde van die Bergrede lees ons dat mense verbaas was oor Jesus omdat Hy in sy lering `n gesag gehad het wat by ander ontbreek het.  In die Evangelie van Johannes speel die “tekens” wat Jesus gedoen het die rol.  Dit openbaar sy heerlikheid – vir die wat oë het om dit te sien.  In Hebreërs 11 word vir ons gesê dat hierdie “vermoë” om te sien of te hoor wat ander nie sien of hoor nie, bepalend is vir geloof en gehoorsaamheid.
  • Daar word soms verwys na die opvallende ooreenkomste tussen die verhaal oor die verheerliking en van die opstandingsverhale (vgl Smit en sien veral Mark 16:1-8).  Daar is egter ook `n interessante verband tussen die verheerlikingsverhaal en die Hemelvaart van Christus.  In daardie sin sou gesê kon word dat die verheerliking op die berg eintlik vooruitgryp na die verheerliking van Christus wat sou volg op sy Hemelvaart.
  • As `n mens hierdie verband aanvaar, dan word die interpretasie wat in die vorige paragraaf gegee is, nog meer aktueel.  Dit kom baie naby aan die geloofservaring van Christene in die na-opstandingstyd (dus ook mense in ons situasie):
    • Hulle (en ons) word ook soos die dissipels geroep tot die navolging van Christus (Mark 8:34-9:1);
    • Wat ons het, is in die eerste plek die woorde en opdragte van Jesus.  Ook ons word opgeroep om te “luister na Hom”.
    • Of ons gaan luister of nie, hang baie af van wat ons hoor en sien as ons die verhale en getuienisse oor Jesus lees.  Aan sekere mense doen dit niks nie.  Ander se lewens word egter verander wanneer hulle in die Bybel nie net gewone verhale en woorde hoor nie, maar gehelp word om die heerlikheid van die Lewende Christus te sien…

4. `n Mens sou in `n preek oor die gedeelte ook die volgende vloei kon gebruik.

  • `n Mens sou kon begin  met die vraag hoekom dit so moeilik is om te doen wat die Here in sy woord van ons vra.  Daar is so baie goed wat ons weet ons moet doen… en tog nie doen nie. `n Mens sou dit kon illustreer aan die hand van Jesus se oproep tot dissipelskap soos ons dit hoor in Mark 8:34-9:1.  Die verse is tog baie duidelik… Daar is min daar wat ons sal kan sê ons verstaan dit nie…En tog is dit nie maklik om te doen nie. Dit is waar wat Mark Twain gesê het:  Daar is mense wat sê dat onverstaanbare tekste in die Bybel dit vir hulle swaar maak om te glo; met hom is dit anders: dit is juis die tekste wat hy verstaan, wat baie duidelik is, wat dit vir Hom swaar maak!
  • Die waarheid is dat as die Here ons nie tegemoet kom en help nie, ons op ons eie nie by geloof en gehoorsaamheid aan Hom sal uitkom nie. Gelukkig weet die Here dit en doen Hy dit – in sy genade
  • Die punt kan dan geïllustreer word aan die hand van die teksverwysings bo (oor Matt 7, Johannesevangelie en Hebr 11) en dit wat in Mark 9 gebeur. Die dissipels word as’t ware `n kykie in die hemel gegee.  Hulle kry die kans om Jesus se heerlikheid te sien – in die hoop dat dit hulle sou help om tot `n dieper geloof en `n beter gehoorsaamheid te kom.
  • In `n volgende punt sou `n mens `n eerste toepassing kon maak na ons dag toe.  As kerkmense sukkel om gehoorsaam te wees aan Christus, gaan dit nie help om harder met hulle te raas of hulle ernstiger te waarsku nie.  Hulle moet gehelp word dat hulle oë oopgaan vir Wie Jesus regtig is.
  • Ek glo dit met my hele hart.  Ook van ons NG Kerk.  Ons gesukkel met `n klomp opdragte in die evangelie – van die eenheid van die kerk tot by `n eenvoudiger lewensstyl – het te doen daarmee dat ons nie verstaan hoe groot en magtig die God wat ons dien regtig is nie.  Ons probleem is – soos JB Philips destyds gesê het – dat ons God te klein is …
  • Daarom dink ek dat die Luisterseisoen die regte medisyne vir die kerk is.  Dit help nie mense word gevra om harder te probeer nie – dit sal nie help nie.  Ons oë moet oopgaan vir wie Christus regtig is en vir wat Hy kan doen.
  • So belangrik as wat hierdie bergtopervarings is vir ons geloof, moet ons weet dat dit van verbygaande aard is.  Uiteindelik moet ons afkom van die berg en Jesus kom dien en volg in die harde werklikheid van die lewe.
  • Hoewel hulle nie meer Jesus se heerlikheid fisies kon sien nie, was Hy steeds by hulle om hulle by te staan en te help.
  • Ons kan weet dat dit met ons nie wesenlik anders is nie.  Al sien ons Jesus glad nie met ons fisiese oog  nie, kan ons weet ogv Matt 28:20 dat Hy steeds elke dag ook by ons is en dat Hy deur sy Gees ons in al ons swakhede te hulp kan kom.
  • Iemand het gesê dat in Jesus se lewe die kruis eerste gekom het en die opstanding en verheerliking daarna.  As Jesus ons roep tot navolging is hierdie orde van eers kruis en dan opstanding te swaar: dit is moeilik om ja te sê vir die pad van die kruis as jy nie weet van die werklikheid van die opstanding nie.
  • As ons Jesus reg wil navolg, moet die orde omgeruil word.  As ons goed weet en oortuig is van Jesus se heerlikheid en die werklikheid van sy opstanding, dan raak dit moontliker vir ons om Hom na te volg op `n pad waarop daar ook vir ons kruise is…

Coenie Burger

Seisoen van Luister PowerPoint

Sien verdere Preeksketse oor Markus 9:2-9

Trackback from your site.

Comments (1)

Leave a comment