Nigeriese bekeerlinge in ‘n middestad-gemeente

Written by Frederick on . Posted in Advent

2de Adventverhaal van Hoop – 1 Desember 2008

“Ons was vir baie jare ‘n gemeente wat ons eie lidmate intensief bedien en die kerklosses onder hulle geëvangeliseer het. Ons het die tug streng toegepas en die Woord suiwer verkondig. Ons was ‘n goeie gemeente, maar ‘n gemeente sonder vreugde en lewenskrag.” Só vertel ds Gillie Noeth van ‘n klein Port Elizabethse middestad-gemeente, PE-Sentraal.

Vir baie lank het PE-Sentraal  geweet die gemeente moet uitreik na die nuwe mense wat weens demografiese skuiwe in hul gemeenskap kom woon het. Dit sluit groot getalle Nigeriërs, Ghanese en Somaliërs in.  Baie van hierdie mense is betrokke by dwelmhandel en ander vorme van misdaad. Daar is ook baie dwelmgebruikers en prostitusie aan Sentraal aan die gang.

Uiteindelik het ons ingegee voor ons roeping”, glimlag Gillie, “en met Bybelverspreiding onder veral Nigeriërs begin”. Ingegee is omtrent die regte woord, want die gemeente is geleë in ‘n stiller deel van die sentrale stadsgebied en sou haar konteks nog lank kon ignoreer – voortgaan om ‘n goeie gemeente vir bestaande lidmate te wees.

PE-Sentraal stel vir ‘n paar jaar reeds hul kerksaal tot beskikking van ‘n Ghanese pastor, Robert Bagna, wat ‘n goed-begronde bediening onder Ghanese en Nigeriërs op die been gebring het. Verhoudinge met die buitelanders in die omgewing het begin groei. Die uitreik na die gemeenskap was ‘n logiese volgende stap wat hulle net nie meer kon ignoreer nie.

Toe nooi hulle die hele gemeenskap – uitlanders, swart studente, almal wat wil kom – in vennootskap met die Ghanese pastor, Robert Bagna, na ‘n vertoning van The Cross and the Switchblade in hul kerkgebou. Daardie aand kom 9 Nigeriërs tot bekering. Almal was verheug, en die beplanning was goed gedoen: alle bekeerlinge sou by die Ghanese gemeente inskakel.

“Vier van die Nigeriërs wou nie saamwerk nie”, vertel Gillie skertsend. “Tot ons verbasing dring hulle daarop aan om NG Kerk toe te bly kom. Ons moes noodgedwonge eredienste vir hulle begin tolk”.

Intussen gaan die Bybelverspreiding voort. Een van die vier bekeerlinge, Christian, blyk ‘n ywerige Bybelstudent en natuurlike leier te wees. By bied in die week op ‘n ander perseel Bybelstudie aan, neem deel aan die Bybelverspreiding en ontpop in ‘n egte dissipelmaker. Sedertdien het die getal Nigeriese bekeerlinge toegeneem en woon ‘n groter-wordende groepie die NG eredienste by.

PE-Sentraal, die Ghanese gemeente en lede van die gemeenskap het sedertdien ‘n Alpha-kursus in Sentraal gehou, met groot seën. “Nou dat ons multi-kultureel werk, is ons gemeente gevul met energie. Ek wil nooit weer teruggaan na soos dit was nie”, se Gillie Noeth.

Beteken dit dat daar geen probleme is nie? Natuurlik nie: daar is lidmate wat nie hou van die tolkery nie. Sommige wantrou die Nigeriërs en wonder of hulle motiewe suiwer is. Die noodwendige gebruik van Engels – die Skriflesing tydens eredienste word eers in Engels en dan in Afrikaans gedoen – ontlok gevoelens van kulturele bedreigdheid by lidmate. Lede van die wyer gemeenskap is gekant teen die uitlanders wat die kerksaal gebruik en oefen konstant druk op die gemeente uit om die Ghanese dienste stop te sit. Gevolg het PE-Sentraal ook al lidmate verloor.

Sal die gemeente omdraai na die ou paaie? Ek luister na Gillie terwyl hy vertel van die geweldige geestelike honger onder die nuwe inwoners van Sentraal. Mense maak hulle deure onbevrees oop vir die “Boere” en is só oop vir geestelike gesprekke. Die oes staan ryp op die lande!

Trackback from your site.

Leave a comment