Nog ‘n paar woorde 2 Kon 5

Written by Besoeker on . Posted in Vorige kommentaar

Die God-storie in 2 Konings 5 hierdie week, het my hart met ‘n paar hoeke gevang.
‘n Magtige, suksesvolle mens; ‘n top presteerder in die samelewing, is melaats. Hy is tot die dood toe siek [ongeneeslik in die storie]. Mag maak mense klaarblyklik melaats.
Byna onsigbaar klein in die skaduwee van die ‘groot’ mense met die suksesverhale, verskyn God egter in ‘n magtelose slawe-dogtertjie. Sy kan maar net na Hom daar ver in die Israel-gemeente wys. Maar sy doen dit. Sy kan amper nie anders nie.
Haar boodskap werk egter deur ‘magtige’ konings wat met amptelik gestempelde briewe, sake in hul ‘ryke’ vasmaak. Dit alles kom ongelukkig tot niks. Erger, dit lei tot geskokte verwarring –‘n heerser-koning wat sy ampsklere wanhopig skeur. Mag-melaats is dodelik.
Maar God laat nie sy helende verskyning keer nie. Sy profete-Woord wat gesondmaak; splinternuut herskep, gryp in die heiden-maghebber Naäman se hart. Soos te verwagte word die eenvoudige Woorde van God; Woorde sonder vertoon en allerhande foefies [Elisa het iets hiervan verstaan!], deur die militêre maghebber versmaai. Maar selfs dit kan God se verskyning nie verhoed nie. Hy vat die keer ‘n naamlose amptenaartjie om Naäman om te [Woord] praat.
En wat ‘n totale ommekeer? Wat ‘n heel-wording, as God verrassend in die eenvoud van die Jordaanwater [dalk Doopwater?] verskyn? Naäman die heiden; heeltemal buite die grens van ons insigte, nou ‘n totale Godsmens — net op Hom gerig! Halleluja! God is ware lewe!
Maar melaatsheid is erg aansteeklik. Mag en sukses-prestasie lyk net te aanloklik lekker! En God se boodskapper, Gahasi, se weerstand is laag. Hy sien God voor sy eie oë só “magteloos gering” werk, maar Naäman-mag en skatte-rykdom suig hom hulpeloos in. Mag en aansien: “olyfboorde en wingerde, kleinvee en grootvee, slawe en slavinne”! Wat ‘n koninkryk!? Nog erger, hy bekom dit alles deur God se helende verskyning in Naäman, ter wille van homself te misbruik.
God laat Hom nie gebruik nie. Nie eers met die sg. beste bedoelinge [vir die profete-skool] nie. En só word God se boodskapper self in die storie melaats. Mag en beheer is regtig melaats. Die storie is verdoemend: Onherstelbaar melaats! Ek hoor nie eers ‘n oop einde nie …
Sê die God-storie: God genees heiden-melaatses, maar kerkmense wat met mag en sekuriteit wil speel, bly altyd melaats? Is dit die georganiseerde kerk [die Gahasi-boodskappers] se plek in die storie? Altyd magteloos melaats? Dié Woord wil my nie los nie. Ek weet nie. Miskien wil ek nie weet nie. Ten minste snoer dit my mond wat so maklik bekkig oordeel oor magbehepte politici …
Maar miskien is my gemoed op die oomblik uit balans uit gevul met die verhaal van my erg-skeptiese en heeltemal agnostiese vriend in Lusaka. Hy is ‘n Belg; ‘n kunsversamelaar van beroep; vir jare die hoof van Uitvoerende Kunste in België. In sy voortdurende soeke na kunswerke het hy, toe hy vier jaar in Damaskus [een van die oudste stede in wêreldgeskienis] gewoon het, in ‘n baie afgesonderde millennia oue kerkie ‘n afbeelding van die sg. Laaste Avondmaal raakgeloop. Volgens my vriend, die enigste in sy soort ooit, wat Jesus teken om net soos al sy dissipels te lyk; nie aan tafel die middelpunt van belangstelling nie, maar so van die kombuis-kant af besig om sy naaste-mense in geringheid te dien. Ek bly wonder hoekom my agnostiese vriend; so heftig teen al wat kerk-goed is, tog so besonder waarde heg aan hierdie afbeelding van Jesus. Wat wil dit vir my sê van sy eie agnostiese lewensverhaal?
Ek is baie bevoorreg dat hy ‘n klein afdrukkie van sy baie moeilik bekomde kunsstuk uit Damaskus vir my gegee het. En gedagtig aan die Naäman verhaal, kyk ek nuut na die dienende Jesus. Hy lyk vir my al meer en meer soos die dogtertjie-slaaf in wie Hy lank gelede in Sirië verskyn het.

Trackback from your site.

Leave a comment