Omhels jouself / verloën jouself. [2]

Written by Frederick on . Posted in Artikels

Likwidasie

 

Maar beteken dit geen likwidasie van die self nie? Beteken hierdie op­vatting van die gebod tot naastelief­de nie dat ek myself moet wegsyfer tot op die nulpunt, dat ek geen prys meer mag stel op my eie lewe, geen respek meer vir myself mag hê en myself dus nooit mag verdedig of die kwaad mag weerstaan nie?

 

Dit mag alleen so lyk vir wie die wet van die Koninkryk nie verstaan nie. Die wet van die Koninkryk – dit het ons tevore al gesê – is juis dat wie homself verloën en hom rig op Christus en die naaste, homself sal vind. Hy hoef homself nie meer te handhaaf nie, want God sal horn handhaaf, soos Hy Christus ook uit die dood opgewek het. Hy hoef nie meer oor homself in sorg en kom­mer te verkeer nie, want sy Hemelse Vader weet dat hy al hierdie dinge nodig het.

 

Daarby is dit waar dat ‘n mens eers werklik mens word as jy vry ge­word het van jouself, van die moor­dende ingekeerdheid in jouself en die matelose verknogtheid aan die aardse dinge wat jy jou “eie” noem. Jy word eers werklik mens as jy jou natuurlike drange onder die tug van die liefde bring en dit nie meer tot bevrediging van jouself uitleef nie, maar dit in die liefde en self­vergetelheid diensbaar maak aan die ander.

 

Eers binne die kader van die Koninkryk, eers binne die raamwerk van en as uitvloeisel van die liefde tot God en die naaste word die mens vry om, op die regte manier hom­self uit die hand van God te ont­vang en dus ook homself te aanvaar soos hy is, met sy eenmalige stuk­kie geskiedenis, met sy besondere naam en omgewing, met sy beson­dere aard, gawes en roeping.

 

Die regte verhouding tot alle aard­se dinge, óók tot onsself en die dinge wat ons so graag ons “eie” noem, kan alleen bestaan in ‘n rein hart, d.w.s. in ‘n hart wat totaal op God gerig is, wat Hom liefhet en homself deur God láát liefhê.

 

Wie só teenoor God staan, kan eers werklik reg teenoor die lewe te staan kom, omdat hy homself dan nie meer vashou nie, maar homself aan God en die naaste oorgee. As die liefde van God in ons harte uitge­stort word deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is (Rom. 5: 5), het ons God lief, omdat Hy ons eerste lief­gehad het. Maar ons het in Hom ook die lewe lief wat Sy gawe is, saam met alle dinge wat God ge­maak het.

 

Dit is dan egter ‘n liefde aan die ander kant van die selfverlies. Dit is geen selfliefde meer nie. Dit is geen soeke van onsself om onsself ontwil nie. Dit is ‘n staan voor God en die naaste in ‘n nuwe oorge­gewenheid aan die wil van God en die beswil van die naaste.

 

 

“Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het Hy ‘n man met die naam Matteus by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: ‘Volg My!’ Hy het toe opgestaan en Hom gevolg. [Matt. 9:9]

 

Valse Profesie

 

Miskien sal diegene wat van mening is dat die Bybel aan ons ‘n gebod tot selfliefde gee, op hierdie punt sê dat dit tog ook maar is wat hulle bedoel. Ook uit wat ons gesê het, word dit immers duidelik dan ons nie pleit vir ‘n likwidasie van die self nie.

 

Ook binne die raamwerk van die Koninkryk en in ‘n rein hart kan daar sprake wees van selfaanvaar­ding, selfrespek, weerstand teen die bose, verrigting van die eie taak wat God aan ons gegee het en dus ook – vir sover dit met die oog op ons diens aan God en die naaste nodig is – selfverdediging en die handhawing van ons goeie naam en eer.

 

Ons wil graag aanvaar dat diegene wat vir selfliefde pleit, dit nie anders as só bedoel nie. Maar dan moet hulle dit ook besonder duidelik laat word dat hulle dit só bedoel en nie anders nie. Dit sou die beste wees as hulle liewer heeltemal van die term selfliefde wou afsien, omdat dit nooit Bybels gefundeer kan word nie en in ‘n wêreld waarin selfliefde aan die orde van die dag is, altyd misverstande moet wek. En in die aangesig van die mens se sonde moet ons nie misverstande wek nie. Immers, selfliefde is juis die wese en innerlike kern van die sonde. Luther het die sonde van die mens na sy wese getipeer as in die ingeboën­heid in die self (incurvatus in se). In ‘n wêreld wat siek is van selfliefde, moet ons versigtig wees om nie terme te gebruik wat mense wat reeds in die grootste selfliefde voort­durend hulleself soek, die gemeen­skap met die naaste weier en hom nie as ‘n medemens wil aanvaar nie, in hulle sonde en kwaad sal sterk, in plaas daarvan dat hulle godde­loosheid ontmasker word nie.

 

Dit doen ons egter as ons só oor die selfliefde spreek, dat mense dink hulle is op die Christelike weg as hulle net leef vir hulleself en vir hulle eie dinge, sonder om te sien hoe alles op hierdie aarde, tot ook die allermooiste en die allergrootste wat ons het, hartgrondig gerelativeer word vanuit die Koninkryk en dus deur ons alleen besit mag word asof ons dit nie besit nie (1 Kor. 7: 29­-31.) Ons stimuleer met ons spreke oor selfliefde so maklik die sondige idee dat die aardse dinge van kul­tuur en afkoms dinge is met abso­lute waarde. Ons streel mense wat net op die aarde en die vlees gerig is en wat uit ons woorde oor self­liefde nog boonop meen dat hulle ‘n Christelike basis het om in hulle selfdiens op te staan.

 

Ons moet voortdurend versigtig wees om ons nie aan valse profesie skuldig te maak nie. Kenmerkend vir die valse profesie is dat dit dinge wat in hulleself miskien waar mag wees, op die verkeerde tyd en plek sê (Van der Woude). Dit is valse profesie as ‘n mens sommer in die algemeen die plig tot selfliefde en selfbehoud as ‘n Christelike plig ver­kondig, sonder om daarmee saam die swaard van Gods Woord te trek oor die sonde van die weiering van liefde en gemeenskap met die naaste, oor die onbereidheid om afstand te doen van iets van die self ter wille van die naaste en, dus ook oor die verkragting van alles wat God met die naasteliefde bedoel. Dit is valse profesie as ‘n mens só oor die self­liefde spreek, dat dit nie duidelik word dat ek myself eers reg kan aan­vaar as ek myself uit die hand van God en uit die hand van my naaste ontvang nie. Wie sy naaste nie kan of wil aanvaar nie, toon daarmee onteenseglik dat hy nòg God, nòg sy naaste liefhet, omdat hy in ‘n dodelike liefde net in homself inge­keer is.

 

‘n Christen is Anders

 

In die hele wêreld heers die self liefde, selfsorg en selfhandhawing op ‘n ongebreidelde wyse. Dit is niks Christeliks nie. Die wortel van die kommunistiese ideologie is bv. self­handhawing en selfrealisering. Dit is egter lank nie net die kommunisme wat uit die selfliefde lewe nie. Die sondige hart van die mens is oral en op alles wil die vlees sy hand lê en uitroep: “Mea, mea. est” (dit is myne, myne! – Luther).

 

Ons het Christus egter nie só leer ken nie (Ef. 4: 20). Vir ons is die aardse heil iets uiters relatiefs. Vir ons moet die Koninkryk en sy gereg­tigheid voorop gaan, bokant alle selfbelang en selfsoeke uit. ‘n Chris­ten is anders as ander mense – as sy Christenskap die egte artikel is. Hy is geroepe tot ‘n bestaan, nie vir homself nie, maar vir God en sy medemense.

 

As ons tyd ‘n boodskap nodig het, dan is dit hierdie boodskap, nie ‘n boodskap van selfliefde en selfhand­hawing nie

 

Die belangrikste bydrae wat elkeen van ons in hierdie wêreld kan lewer, lê op die ge­bied van ons interpersoonlike verhoudings. Ons persoonlike betoning van welwillendheid en belangstelling het honderdmaal meer daadwerklike invloed op die lewes van ander as ál ons propagering van “verligte” sosiale idees. (R. M. Christenson).

 

Trackback from your site.

Leave a comment